Goeie oeste kan lei tot laer pryse
Goeie oeste kan lei tot laer pryse

Goeie oeste kan lei tot laer pryse

Hoewel 'n beter mie­lie­oes en laer mielie­pryse verwag word, gaan dit 'n tyd neem voor ver­bruikers baat.
Ronelle Rademeyer
Riana de Lange en

Aldi Schoeman



Gunstige landboutoestande met die belofte van goeie oeste ná die onlangse reën, kan teen die tweede helfte van die jaar verligting vir verbruikers bring in die vorm van laer kospryse.

'n Beter mielieoes sal 'n laer mielieprys beteken, maar dit neem lank om na die verbruiker deur te syfer, sê Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz.

Volgens private vooruitskattings sal die komende seisoen se mielieoes 11 tot 13 miljoen ton wees, teenoor die afgelope seisoen se sowat 7 miljoen ton, wat mielie-invoer genoodsaak het.

Die Nasionale Oesskattingskomitee sal later vandeesmaand sy eerste amptelike vooruitskatting vir die jaar gee.

Sihlobo sê 'n laer mielie­prys word eers vier tot ses maande later in 'n laer rakprys vir mieliemeel ­geweerspieël. Hy verwag dus eers in die derde of vierde kwartaal laer kospryse wanneer voedsel­inflasie tot enkelsyfers kan daal.

In landbou word 'n kommoditeit geproduseer en voordat dit in verwerkte vorm op die winkelrak land, kom koste in die verspreidingsketting by wat die verbruikersprys beïnvloed, sê hy.

Met 85% van Suid-­Afrika se mielies wat per pad vervoer word, is die impak van die brandstofprys op die kommoditeit dus vanselfsprekend. Dan is daar ook administratiewe koste, soos elektrisiteit, en arbeidskoste wat pryse beïnvloed.

John Loos, huishoudelike en eiendomstrateeg by FNB, sê die uitwerking van die droogte op voedselvoorsiening het voedselprysinflasie laat opskiet, met nadelige gevolge vir die verbruiker.

Die droogte is nie heeltemal verby nie, maar 'n skerp daling in die produksieprysindeks (PPI) vir landbou – van 20,6% op 'n jaargrondslag in Junie tot 6,9% in November – is bemoedigend omdat dit inflasie op kosprodukte kan laat daal.

Sihlobo waarsku die voordeel van 'n laer mielieprys kan geneutraliseer word deur hoër vleis­pryse.

Hy verduidelik voedselverwante syfers dra 'n gewig van 15,4% in die inflasiemandjie. Vleis maak 30% daarvan uit en enige beweging in vleispryse het dus 'n invloed op voedselinflasie.

Verbruikers het onlangs baat gevind by laer beesvleispryse danksy die hoë aanbod omdat Suid-­Afrika tans sowat 15 000 beeste per week slag, wat dubbeld die normale weeklikse slagting is.

Met beter weiding ná die reën sal boere kuddes begin herbou, wat aanbod sal beïnvloed en die prys in die eerste kwartaal met tot 10% kan opstoot, sê Sihlobo.

Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die wydverspreide reën is welkom, maar baie boere ervaar erge kontantvloeiprobleme weens die afgelope twee jaar se droogte.

Ruweg word geraam tussen 5% en 10% boere bevind hulle in dié situasie. Dit sluit kleiner, opkomende en kommersiële boere in, sê hy.

Agri SA het landboufinansiers gevra om boere te help met lenings om te kan plant. Die Landbank het ook onderneem om kommersiële boere te help met produksie­lenings.

Op sommige plekke dit egter nog baie droog.

In dele van die Oos-Vrystaat het boere steeds hulp nodig met voer omdat dit in sommige gevalle drie tot vyf jaar kan neem vir weiding om ten volle te herstel, sê 'n woordvoerder van Vrystaat Landbou.

Van den Berg sê die reën is nog nie genoeg vir die herstel van ondergrondse waterbronne nie. Opvolgreën is ook nodig.

In die Wes-Kaap se winterreënvalgebiede is dit nog baie droog en is die damme byna leeg. Boonop het die somerreënvalstreek in die provinsie ook nog min reën gehad, sê Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Intussen is boere bekommerd dat hul toegang tot water uit damme verder beperk kan word. Die Wes-Kaap se grootste dam, die Theewaterskloofdam naby Villiersdorp, is net 38% vol. Die Brandvleidam naby Worcester, waaruit sitrusboere nog tot Junie moet water kry, is ook net 38% vol.

Oos-Kaapse sitrus- en mielieboere wat water uit die Gariepdam in die Vrystaat kry, is bekommerd dat nog beperkings later vanjaar ingestel kan word as dit nie genoeg reën nie. Die dam is nou net 44% vol.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water, sê die situasie sal in Mei bespreek word. Dit is wanneer reën in die somerreënval­streke ophou en in die winter­reënvalstreke begin. Hy sê besluite oor waterbeperkings is gegrond op deeglike gesprekke en inter­aksie met alle betrokke partye.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!