Goeie sakeman, goeie leier?
Gebeure die laaste paar weke in Benin het baie mense egter van siening oor pres. Patrice Talon laat verander.
Liesl Louw-Vaudran
Pres. Cyril Ramaphosa is 'n effense uitsondering as dit kom by Afrikaleiers. Soos die meeste van hulle is hy skatryk, dit weet ons. Hoewel 'n mens vrae kan vra oor hoe hy so vinnig ryk geword het, is dit duidelik dat hy sy sakeondernemings opgebou het voor hy president geword het en nie daarna nie. Laasgenoemde is die geval met meeste Afrikaleiers.
Dink maar aan iemand soos Joseph Kabila, die Demokratiese Republiek die Kongo se uitgetrede leier, wat die afgelope 12 jaar as president goed munt geslaan het uit sy land se oorvloedige natuurlike hulpbronne.
Mense vertrou Ramaphosa met die staatskas. Tot die geskiedenis anders bewys, glo die meeste mense ook dat hy 'n demokraat is en sy jare lange ervaring in die vakbondwese hom geleer het om opposisiedenke te akkommodeer.
Dít is seldsaam onder politieke leiers wat uit die sakewêreld kom. Die meeste van hulle verstaan nie die demokratiese spel nie, of wil dit nie verstaan nie. Soos pres. Donald Trump wat eenvoudig glo dat hy Amerika soos sy eie maatskappy behoort te kan bestuur. Vergeet van demokratiese instellings, hulle is net in die pad.
Nog 'n Afrikaleier wat soos Ramaphosa eers as sakeman uitgeblink het en toe 'n suksesvolle veldtog gevoer het om tot president verkies te word, is pres. Patrice Talon van Benin.
Toe hy in 2016 verkies is, het mense gesê hy sal weet hoe om die land te bestuur aangesien hy baie sukses gehad het met sy katoen- en ander ondernemings in dié Franssprekende Wes-Afrikaland.
Ongelukkig is daar geen waarborg dat 'n goeie sakeman ook 'n goeie politieke leier sal wees nie.
SIMBOLIESE WAARDE
Mense het gehou van Talon se vernuwende styl en byderwetse uitrustings. 'n President wat reeds sy eie geld gemaak het, sal ook minder korrup wees, word altyd gesê.
Gebeure die laaste paar weke in Benin het baie mense egter van siening laat verander.
Benin is 'n klein landjie en beteken dalk nie veel in die groter prentjie van Afrika nie. Tog het dit groot simboliese waarde. Franssprekende Afrikane sal altyd van Benin praat as 'n voorbeeld van demokrasie. Dit is 'n bietjie soos ons in Suider-Afrika wat in die verlede van Botswana gepraat het as 'n land met min politieke probleme.
In die vroeg 1990's was Benin een van die min Afrikalande wat 'n demokratiese regeringsverandering beleef het, terwyl die meeste Afrikalande nog in diktatorskappe vasgevang was. Sedertdien het veelpartydemokrasie gedy en Benin het sy reputasie gestand gedoen.
Talon word egter nou daarvan beskuldig dat hy die opposisie met minagting behandel.
ALGEMENE VERKIESING
Die algemene verkiesing op 28 April het vir die eerste keer plaasgevind sonder enige opposisieparty se naam op stembriewe. Dit was omdat hulle almal deur die verkiesingskommissie gediskwalifiseer is weens redes wat volgens hulle geen gronde het nie.
Protes hierteen het tot ernstige konfrontasie gelei. Verskeie mense is dood, huise is afgebrand en aktiviste is óf in die tronk óf landuit. Op stemdag is die internet ook afgesny. Nou wil Talon ook die grondwet laat verander en sommige kenners beweer hy gaan langer as sy mandaat van ses jaar aan bewind probeer bly.
Benin het boonop ook die slagoffer geword van terreurgroepe wat twee Franse toeriste uit 'n wildpark in die noorde van die land ontvoer en hul gids doodgemaak het.
Met sulke bedreigings op die horison bestaan die gevaar dat die regering vryheid van spraak en van die media kan beperk in die naam van die stryd teen terreur.
Duidelik is dit nie genoeg om sakevernuf aan die dag te lê as jy 'n demokratiese land wil regeer nie. 'n Volledige aanvaarding van die demokratiese spel is van groot belang. In lande sonder instellings soos 'n onafhanklike verkiesingskommissie, soos Benin, kan dinge maklik skeefloop.
En mag korrupteer – soms selfs die beste mense.
•Louw-Vaudran is 'n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie