Goeie vordering met boskrag
'n Ooreenkoms vir brandstofverskaffing aan die Otjikoto-
Elvira Hattingh
Die prekwalifiseringsproses vir die bou van 'n 40 megawatt-kragopwekkingsaanleg in die Otjikotostreek behoort teen die einde van die maand reeds te begin.
Terselfdertyd verwag NamPower 'n ooreenkoms vir brandstofverskaffing aan die aanleg sal binnekort gesluit word.
Namibiese belangegroepe uit die indringerbosbedryf het op 8 April 'n biomassa-konferensie saam met verskeie Europese sakelui in Windhoek gehou.
Tydens die geleentheid het NamPower se mnr. Gordon Gadney terugvoering gegee oor vordering met die nasionale kragverskaffer se planne om teen 2022 sowat 40 megawatt se elektrisiteit met indringerbos as brandstof op te wek.
Gadney sê hoewel baie werk nog by die Otjikoto-biomassakragstasie gedoen moet word, sal die verwagte sluiting van 'n ooreenkoms vir die verskaffing van indringerbos reeds 'n belangrike tree vorentoe wees.
“Ons benodig nog net enkele, binnenshuise goedkeuring hiervoor,” het hy gesê.
Gadney het gesê die bou van die aanleg sal na verwagting drie jaar neem, maar NamPower het reeds begin met voorbereidingswerk op die perseel, wat oor sowat 44 ha sal strek.
“Aansoek vir omgewingsklaring vir die kragstasie en die oesgebied is reeds gedoen. Ons beskik reeds oor die grond waar die kragstasie gebou moet word, die omgewingsimpakstudie is voltooi en ons hersien tans die finale dokumente om dit aan die publiek vir kommentaar voor te lê,” het Gadney gesê.
STUDIE
Intussen is daar ook met die geotegniese, hidrologiese en topografiese studie van die perseel begin, 'n tegniese adviseur is betrek en die verkrygingsproses vir 'n ingenieur vorder, terwyl die implementeringsplan vir die projek ook deur die regering goedgekeur is.
“Dit is 'n uitdaging dat so 'n projek nie vantevore in Namibië van stapel gestuur is nie en dat ons baanbrekerswerk moet doen.”
“Terselfdertyd staan die plaaslike ontbossingsektor nog in sy kinderskoene en baie sal gedoen moet word om in die behoeftes van 'n 40 megawatt-kragstasie te voorsien,” het hy gesê.
Aanvanklik is 'n studie gedoen om 'n 20 megawatt-kragstasie te bou, maar dit is intussen tot 40 MW opgegradeer.
Die projek word vir 2022 beplan en kos sowat N$ 1,9 miljard, terwyl die koste vir die aanvanklik beplande aanleg van 20 megawatt N$1,4 miljard sou wees.
“Dit het dus ekonomies sin gemaak om 'n aanleg te bou wat dubbel die hoeveelheid elektristeit kan opwek,” het Gadney gesê.
Volgens hom ondersoek NamPower nog hoe om te verseker die omgewing word in dieselfde toestand agtergelaat as voorheen.
Hy het gesê die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) het reeds met 'n studie hieroor begin.
Gadney sê die projek is reeds in 2010 begin, waartydens 'n prelewensvatbaarheidstudie gedoen is. In 2013 is dit opgevolg met 'n lewensvatbaarheidstudie, en in 2017 is 'n besigheidsplan formeel by die regering ingedien. Teen einde verlede jaar is reeds begin om die nodige ministeriële goedkeuring te kry.
HOE DIT GAAN WERK
Om die kragstasie aan die gang te hou, sal sowat 3,5 lorries uurliks 'n vrag indringerbos moet aflewer – dít is as stoorplek of aflewerings oor naweke en ná ure buite rekening gelaat word.
“Die kragstasie sal dus sowat 180 000 ton hout per jaar benodig,” het Gadney gesê.
Dít is slegs 5,7% van die beskikbare indringerbos wat oor 'n tydperk van 25 jaar benut sal word.
“Die kragstasie sal 'n oesgebied van sowat 20 000 ha per jaar benodig om aan die gang gehou te word – rofweg die grootte van twee groot kommersiële plase,” het Gadney gesê.
“Daar is genoeg indringerbos in 'n radius van 100 km rondom die beplande kragstasie om twee 20 megawatt-kragstasies vir 25 jaar lank aan die gang te hou, sonder dat die hergroei van bosse in berekening gebring hoef te word,” het hy gesê.
“Dit is ook belangrik om te weet ons beplan nie om bosse heeltemal te verwyder nie, maar eerder uit te dun. Die beskikbaarheid van die kragstasie sal 85% tot 100% wees. Dit beteken die kragstasie sal vir 'n kort tydjie van die jaar vir instandhoudingswerk afgeskakel word.”
Hy sê die aanleg se kapasiteit sal oornag tot 10 megawatt verminder word om oormatige metaalslyting in die ketels te voorkom, maar dit sal vroeg soggens weer volstoom loop.
Gadney sê onlangse studies het getoon die bosindringingsprobleem neem tans sowat 30 miljoen ha landbougrond in Namibië in beslag en brei teen 'n koers van 4% per jaar uit.
“Bosspesies wat die aggressiefste indringers in die Oshikotostreek is, sluit swarthaak, mopanie, deurmekaarbos, sekelbos, rooihaak en hardekool in,” het hy gesê.
“Die energie-inhoud van Namibië se bosse is sowat 16 megajoules per kg.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie