Goeieman blitsig op die renosterspoor

Des Erasmuss
Des Erasmus - “Met die wegtrek het ek gevlieg soos ’n arend. Toe land ek soos ’n Cessna,” sê Johan Bronkhorst van die moordende roete van die Brandberg Rhino Run Saterdag met Uis as basis.
“Hierdie was ’n tawwe een, erger as die Comrades.”
Neutvars terug van vanjaar se Comrades ultra-marathon in Suid-Afrika het Bronkhorst die derde plek in die bergroete van Uis ingeneem met die drafpad wat oor 26 km van berge en dale gestrek het.
Weer het Namibiese atletiek se Koning van die Berge, Erich Goeie­man, in die kleure van Guan’s Packaging van Walvisbaai, gewen. Hy het die moordende roete vanjaar in 20 minute vinniger as verlede jaar gewen.
Terwyl Goeieman sy frokkie gebruik het om ’n effense sweet van sy voorkop te vee, het hy gesê hy het maar teen die horlosie gedraf. “Ek weet nie wie was tweede nie. Agter my het ek niemand gesien nie.”
Sowat 3 km van die wegspringplek was Goeieman reeds met sowat 500 meter voor nadat die ander deelnemers in die eerste skof van die ru-landskap vasgeval het.
Goeieman sê hy berei hom nou voor om in die lente aan The Rock, die veldhalfmarathon om die Spitzkoppe, deel te neem.
Ander atlete wees maar gewaarsku: elke tree wat Goeieman nou draf, is bereken op die Lucky Star in die vroeë somer tussen Swakopmund en Walvisbaai.
Vir die Goeiemans was dit ’n goeie dag met Erich se jonger broer, Albertus, wat die 13 km gewen het. By die eindpunt het hy elke keer gebuk toe met hom gesels is. Die rede? Sy bobeenspiere kon net nie die verskriklike toets deurstaan nie.
Die Renosterdraf was vanjaar twee keer groter as verlede jaar met 264 deelnemers by die wegspringplek by die Daureb Isib kampeerterrein aan die buitewyke van Uis. Heelwat van die meer as driehonderd geregistreerdes kon dit nie na die afgeleë Uis maak nie.
Die ganse opbrengs van meer as N$250 000 gaan vir die Red die Renostersfonds. Die bedreigde swartrenosters se natuurlike weigebied is juis in dié omgewing.
Onder die 264 deelnemers was daar 87 bergfietsryers.

Die uitslae was:
Mans 13 km: 1. Albertus Goeieman, 2. Mathias Matota, 3. Braam van Wyk.
Vroue 13 km: 1. Bernise van der Westhuizen, 2. Gabi Raith, 3. Anja Schroeder.
Mans 26 km: 1. Erich Goeieman, 2. Mathias Kanesius, 3. Johan Bronkhorst.
Vroue 26 km: 1. Risa Dreyer, ­2. Corné Verwey, 3. Nadine Agnew.
Mans 31 km fietsry: 1. Luke Munting, 2. Johnnie Ulega,
3. Pieter Praetorius.
Vroue 21 km fietsry: 1. Lilani Swart, 2. Natascha Kuehl, 3. Janeke Volkman.
Die pretloop oor 6 km is deur Charl Botes van Swakopmund gewen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer