Goeiemann: Ek het niks verkeerd gedoen
Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, sê hy is nooit oor die vennootskapsbestuur van Namport geraadpleeg nie.
Catherine Sasman
Die Namibiese Haweowerheid (Namport) sê hy moet nog 'n lewensvatbaarheidstudie doen om te bepaal of dit in die toekoms nodig gaan wees om 'n vennoot by die bestuur van Walvisbaai se hawe te betrek.
“Die studie sal toon of groter waarde vir ons aandeelhouer (die regering) by sy belegging gevoeg gaan word as 'n derde party by die bestuur van die vraghouerterminaal betrek word,” het mnr. Kevin Harry, Namport se uitvoerende hoof, verlede week gesê.
Harry sê dit is praktyk by hawens wêreldwyd om by tye private kontrakteurs by vraghanteringdienste te betrek, terwyl die verhuurdienste en eiendomsverwante funksies steeds by die haweowerhede en regerings berus.
“Ek moet benadruk die bepaling oor of waarde toegevoeg gaan word, kan net gemaak word ná 'n lewensvatbaarheidstudie in besonderhede onderneem is en 'n finale aanbeveling gemaak is,” het hy gesê.
Hy het dié opmerkings gemaak ná The Namibian vroeër berig het die uittredende uitvoerende direkteur van werke en vervoer, mnr. Willem Goeiemann, 'n voorlopige kabinetsvoorlegging opgestel waarin hy te kenne gee hy is ten gunste daarvan dat die staatsbeheerde Dubai Port World (DP World) die nuwe N$4,2 miljard-terminaal vir skeepsvraghouers vir tussen 30 en 50 jaar lank bestuur.
Goeiemann het volgens die berig ook gesê 'n lewensvatbaarheidstudie is nie nodig nie, maar Namport het sy aanbeveling verwerp.
Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, het intussen ingetree en in 'n brief gesê Goeiemann se konsepdokument aan die kabinet is nie aan hom voorgelê of met hom bespreek voor dit aan verskeie ander uitvoerende direkteure gestuur is nie.
Hy het dit aan sy eweknieë by staatsondernemings, finansies, internasionale betrekkinge en samewerking, die nasionale beplanningskommissie, asook aan Namport en die Walvisbaai Korridorgroep gestuur.
“Die vraghouerterminaal is 'n nasionale projek deur die regering. Die lening wat by die Afrika-ontwikkelingsbank uitgeneem is, word deur die regering terugbetaal,” het Mutorwa gesê. Volgens hom is Namport die owerheid wat dit moet bedryf en bestuur.
Hy sê Namport het hom in Desember genader oor 'n lewensvatbaarheidstudie vir 'n moontlike vennootskap met 'n ander entiteit en hy het ingestem dat dit gedoen word.
“Die besluit sal op grond van die studie geneem word,” het Mutorwa benadruk.
Volgens hom sal 'n deursigtige tenderproses onderneem word indien die studie wys 'n private-openbare vennootskap is die aangewese pad.
Hy het duidelik gemaak hy, as minister, kan 'n kabinetsvoorlegging maak, en nie die uitvoerende direkteur nie.
“Al hierdie nonsens van hierdie maatskappy (DP World) van daar (Dubai). . . Goeiemann moet dit verduidelik,” het hy gesê.
ONREGVERDIG
Goeiemann het die artikel in The Namibian intussen as onbillik beskryf en gesê daar is steeds “interne kwessies” wat bespreek moet word.
“Ek het nie enigiets verkeerd gedoen nie,” sê hy en voer aan hy het aan Mutorwa geskryf en laasgenoemde het hom versoek om “te koördineer en te konsulteer”.
Goeiemann ontken hy het enigiets aan die kabinet gestuur en sê die minister moet so 'n besluit neem.
“Ons oorweeg niks nie. Ek het net teenoor 'n belegger en die publiek gereageer. Dit was net 'n voorstel. In sy brief op 20 Februarie sê Goeiemann die ingebruikneming van die vraghouerterminaal het ongelukkig met 'n afname in vragvolume saamgeval en die dalende tendens bedreig die hawe se volhoubaarheid.
Hy sê die regering beplan om deur die ministerie van werke en vervoer 'n vennootskapsooreenkoms vir die bedryf en bestuur daarvan met DP World aan te gaan. Laasgenoemde het volgens hom op 19 November verlede jaar formeel laat blyk hy stel daarin belang om dit te doen.
Goeiemann sê voorts die regering en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het 'n bestaande bilaterale ooreenkoms, wat logistieke samewerking insluit.
GEHEIME DOKUMENT
'n Dokument wat as geheim gemerk is, toon DP World het op 12 November verlede jaar 'n verstandhoudingsooreenkoms met die Namibië Nywerheidsontwikkelingsagentskap (Nida) aangegaan om die !Nara Namib Free Economic Zone (!NNEFZ) op Walvisbaai te vestig en te bedryf.
NNEFZ wil 'n logistieke kern vestig deur die vraghouerterminaal te gebruik.
Dit blyk verder uit die dokument DP World sal aanvanklik N$310 miljoen belê met sy langtermynverbintenis wat N$24 miljard sal beloop wanneer die vrye ekonomiese sone ten volle operasioneel is.
Verder sal 9 000 werksgeleenthede geskep word, of 'n waarde gelykstaande aan 25% van die bruto binnelandse produk (BBP). Die moontlikheid bestaan om direkte buitelandse beleggings van N$51 miljard te ontsluit, blyk dit uit die dokument.
“DP World is voornemens om die Walvisbaai-hawe 'n alternatiewe logistieke handelskanaal in die Suider-Afrikaanse mark te maak.”
Voorts blyk dit DP World het onderneem om waarborge te lewer vir enige uitstaande lenings van Namport vir die bou van die terminaal, dat oor aandeelhouding onderhandel sal word en die buitelandse maatskappy jaarliks 'n konsessiefooi en konsessieregte sal betaal as 'n ooreenkoms gesluit word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie