Gogga maak vir baba bang
Gogga maak vir baba bang

Gogga maak vir baba bang

Mariselle Stofberg
Kyk, ek en my ma is ’n gedugte span wat eintlik enigiets kan saamdoen, maar met twee spesifieke take sukkel ons baie: Eerstens sal ons nooit saam die Amazing Race kan doen nie, want ons twee werk nie altyd optimaal saam as ons onder druk is nie.

Die tweede is die doodmaak van goggas.

Ek hou nie van goedjies wat rondkruip nie, en ek spring nie op en af oor insekte nie. Ek spring dalk op die tafels en meubels, maar ek en goggas is nie maatjies nie.

Ek sit een aand doodrustig in my kamer terwyl my ma besig is in die kombuis, toe sy my met so ’n effense hoë stemmetjie begin roep.

As my ma se stem so hoog raak, dan weet ek êrens is daar probleme. Hoe hoër die stem, hoe groter die probleem, en hier het sy ’n hele paar oktawe bo normaal begin roep.

Ek storm soos Rambo die kombuis in, gereed om die bedreiging aan te val, toe ek sien sy en ons boerboel, Bella, kyk al twee ewe benoud na die parmantige groen drasak wat in die kombuis staan.

Dié het video tapes in wat my ma vir iemand wil gee om in MP4-formaat om te skakel. My ma staan gerat met die besem soos een of ander Romeinse soldaat met sy swaard sal staan, en Bella lyk soos een of ander polisiehond wat wag om toe te slaan.

“Sellie, hier is een vieslike, gruwelike gogga onder my sak. En ek belowe jou, hy het net-net minder as ’n duisend pote wat kriewel.”

Eers wil ek giggel oor die kamma-gogga, maar wie laaste lag, lag altyd die lekkerste, want toe meneer gogga sy koppietjie onder die drasak uitsteek, toe gooi ek so ’n bietjie in my hande op. Dit is iets om van nagmerries te kry. Met sy amper drie meter lange rooi lyf met sulke gevaarlike rooi strepe, amper vierduisend pote en twee, jy hoor reg, twee koppe, wou ek net daar my tassie pak en hol.

My ma en Bella Die Vegter het die gevaar onder die sak vasgevang en gehoop Mariselle kan êrens kom help. My eerste instink is om my gewig tot my voordeel te gebruik, en op die sak met tapes te spring in die hoop dat ek hom kan dooddruk.

“Sellie, nee my kind, jy kan nie op my tapes spring nie, asseblief. Dit is kosbaar.”

Toe moet ek noodgedwonge my planne so ’n bietjie aanpas. Ek kry toe die matjie wat altyd voor die deur staan reg en soos een of ander superheld lig ek die drasak op en gooi die mat oor, sodat ek darem iets kan kry waarop ek mag spring. Voor meneer gogga nog dink hy kan hol, toe is die mat oor hom. Ek besluit om my ma se besem te gebruik en haal toe al 23 jaar se frustrasies op die matjie uit.

Ek slaan asof my lewe daarvan afhang, en besluit ná 20 minute om te waag en te kyk. So waar as wragtig beweeg die ding nog. Ek bel my tannie histeries, want hier sien ek al hoe ons die huis maar moet afbrand of iets, want met so ’n gogga gaan ek nie slaap nie.

Al wat ek blykbaar kan doen om myself te red, is om die gogga se koppe af te kap, anders staan die ding blykbaar uit die dood uit op en neem wraak. Ek huil en gooi bietjie op, want met elke kriewel van daai pote voel ek die naarheid weer opstoot.

Toe ek seker is gogga is dood, stel my ma voor ons spoel hom in die toilet af.

“Daar is geen manier dat ek die ding afspoel in dieselfde toilet wat ek moet gebruik nie, want indien hy nie dood is nie, en hy sy reverse gear gebruik, moet jy my maar eerder uitsit.”

Nadat ons van hom ontslae geraak het en ek net weer in my kamer is, hoor ek weer my ma skree, want gogga se boetie is hier om wraak te neem.

Indien iemand ’n drieslaapkamerhuis beskikbaar het, kontak my asseblief.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!