Goldman Sachs waarsku oor Gordhan
Rand kan verder knak
Suid-Afrika se kredietgradering sal verlaag word en die rand sal “knak” indien Pravin Gordhan, minister van finansies, uit sy pos verwyder word.
So sê die invloedryke bankgroep Goldman Sachs in ’n onderhoud met Bloomberg.
Die geldeenheid het sedert 23 Augustus reeds 6,2% van sy waarde verloor. Dit het op dié dag bekend geword dat die polisie se ondersoekeenheid, die Valke, Gordhan ingeroep het in verband met ’n ondersoek oor beweerde ongerymdhede by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) tydens sy termyn van 1998 tot 2009.
Gordhan het geweier om hom by die Valke aan te meld en het herhaal dat hy niks verkeerd gedoen het nie.
Opposisiepartye en sommige onafhanklike ontleders beskuldig pres. Jacob Zuma daarvan dat hy hierdeur probeer om groter beheer oor die nasionale departement van finansies te kry. Hy ontken dit.
“Die onderliggende kwessie is wat die politieke agenda is wat agter die aanval op die minister sit,” het Colin Coleman, vennoot en hoof van die Goldman Sachs-groep, in ’n onderhoud Maandag op Bloomberg TV gesê.
“Indien die minister in hegtenis geneem of aangekla word, sal jy die rand verder sien knak. Dit sal baie sleg deur die kredietgraderingsagentskappe geïnterpreteer word en sal waarskynlik daartoe lei dat Suid-Afrika se skuldgradering verlaag word.”
Die rand het Maandag teen 13:00 Suid-Afrikaanse reeds met 1,1% tot R14,49 teenoor die Amerikaanse dollar teruggeval, op koers vir sy laagste vlak sedert 15 Julie. Die opbrengskoerse op staatseffekte het met 14 basispunte tot 9,11% gestyg.
Gordhan is in Desember verlede jaar as minister van finansies heraangestel nadat Zuma gedwing is om ’n besluit om te keer om Nhlanhla Nene as minister van finansies met ’n onbekende parlementêre agterbanker te vervang.
Gordhan het ’n kredietafgradering afgeweer deur beloftes te doen om besteding te verminder en ’n perk op skuld te plaas. Dit kom te midde van oproepe deur die regerende ANC om die begroting te “herprioritiseer” ná sy swakker vertoning by die stembus vroeër vandeesmaand.
Die graderingsagentskappe Fitch Ratings en S&P Global Ratings het Suid-Afrika se langtermyn- buitelandsevalutagradering in Junie op BBB- geplaas. Dit is die laagste beleggingsgraad.
Die agentskappe het toe gesê indien die land ’n verdere afgradering wil vryspring, moet die regering besliste maatreëls instel om groei aan te moedig, beleidsonsekerheid teen te werk en politieke oproer te laat bedaar. - Netwerk24/Fin24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie