Gondwana en Bank Windhoek vat hande

Meer as 20 projekte ondersteun.
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Om hul 21-jarige bestaan te vier, wou Gondwana, 'n leier in die plaaslike toerismebedryf en bewaarder van Namibiese stories, iets doen om hul bydrae tot die Namibiese samelewing te vergroot.
Gondwana-lodges is sterk verbind tot die gemeenskappe waarin hulle werk.
Deur hul projekte het hulle oor die jare heen verskeie klein maatskappye ondersteun en hulle die kans gegee om toegang tot kliënte en markte dwarsoor die wêreld te hê.
Om hierdie proses te vergemaklik het Gondwana laas week hul jongste welsynsprojek bekend gestel by hul Gondwana-sjebeen tydens vanjaar se Namibië Toerisme Ekspo.
Die Gondwana Care Trust sal verantwoordelik wees vir die bestuur van alle korporatiewe maatskaplike projekte waarby Gondwana betrokke is. Die Gondwana Care Trust ondersteun tans meer as 20 projekte dwarsoor Namibië.
Die trust wil bewustheid van hierdie projekte verhoog en 'n platform aan mense en besighede bied om daarby betrokke te raak.
Mnr. Gys Joubert, besturende direkteur van Gondwana, het hul passie vir die ontwikkeling van die plaaslike bevolking beklemtoon.
“Ons is passievol oor hierdie deel van ons werksaamhede en glo dit maak nie net 'n verskil in die lewens van die groepe wat ons ondersteun nie, maar het ook 'n reuse-impak op die gehalte van ons k­liënte se ervaring,” het hy gesê.
“Dit maak ons toegewyd aan ons maatskaplike verantwoordelikheid en gemeenskapsondersteuning, wat fundamenteel aan ons maatskappy se werksaamhede is, aangesien ons nog altyd 'n positiewe verskil in ons omgewing en gemeenskappe gemaak het.”
Gondwana het ook hul Meal for Two-projek bekend gestel.
In vennootskap met Bank Windhoek sal Gondwana een ete vir elke ete wat by hul lodges bedien word, aan hongergeteisterde gebiede skenk.
“Die Gondwana-ver­sameling en Bank Windhoek het hierdie veldtog van stapel gestuur om die aantal mense vir wie hongerte 'n daaglikse werklikheid is, te verminder. Nou sal elke gas by 'n Gondwana-lodge 'n bydra kan maak elke keer as hulle 'n ete geniet,” het Jacqueline Pack, uitvoerende bemarkingsbeampte van Bank Windhoek, gesê.
Die konsep van Meal for Two is reeds 'n geruime tyd in werking.
Deur middel van Gondwana se selfversorgingsentrum, 'n werkplaas in Stampriet wat 70% van die vars produkte wat by hul lodges gebruik word, verskaf, bied hulle lankal reeds deurlopende ondersteuning aan baie voedingskemas in die land.
Gondwana en Bank Windhoek het ook hul Faces of Namibia-veldtog tydens dié byeenkoms van stapel gestuur. Dit het ten doel om Namibiese stories te vier en met die wêreld te deel.
“Namibië en sy mense is spesiaal. In vennoot­skap met Bank Windhoek het ons besluit om vanjaar ons land en sy mense te vier deur Namibiërs uit te nooi om hul persoonlike verhale te deel oor dinge, plekke, mense of net onvergeetlike oomblikke in ons land,” het mnr. Manfred Goldbeck, Godwana se bemarkingsbestuurder, gesê.
Deelnemers kan N$10 000 wen en moet in minder as 1 000 woorde hul Namibiese stories deel, wat saam met 'n foto van die storieverteller gepubliseer sal word.
Kompetisievoorwaardes kan op Gondwana en Bank Windhoek se webwerwe besigtig word.
Die kompetisie duur van 1 Junie tot 31 Julie en die wenners sal einde Augustus aangekondig word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!