Gondwana, Hollard se beslissing in April
Gondwana, Hollard se beslissing in April

Gondwana, Hollard se beslissing in April

Die swaarde was uit in die Windhoekse hoërhof tussen Namibië se toerismereus en sy versekeringsmaatskappy.
Ronelle Rademeyer
Francoise Steynberg



Hoërhofregter Kobus Miller sal op 13 April sy beslissing lewer oor die dringendheid van die saak tussen Gondwana Collection Namibia en Hollard Namibia.

Beide partye het Vrydag in die Windhoekse hoërhof hul ­argumente gelewer. Adv. Raymond Heathcote wat vir Hollard verteenwoordig, het geëis dat die saak van die rol geskrap word, “want die dringendheid is nie waterdig nie”.

Hy het uitgevaar teenoor die media­veldtog van Insurance Claims Africa (ICA), openbare eisfasiliteerders wat meer as 900 eisers in Namibië en Suid-Afrika verteenwoordig, en vergoeding vanaf groot versekeringsmaatskappye vir dekking teen sakeonderbrekings weens Covid-19 aansoek gedoen het.

“ICA het 'n aggressiewe mediaveldtog begin waar hulle Boesmans op 'n voetstuk plaas. Dit is vernederend vir hulle. Julle veg jul geveg in die media,” het Heathcote beklemtoon.

Hy verwys na die webinaar wat die ICA verlede Woensdag oor die stand van pandemie-eise in Namibië gehou het.

“ICA werk teen 'n kommissie van 5%; dit is geen geheim nie. ICA het 'n direkte belang in die aansoek.”

Heathcote het die uitvoerende hoof van Gondwana, mnr. Gys Joubert, daarvan beskuldig dat hy nie gehoor gegee het aan Hollard se versoek in Junie 2020 vir verdere inligting om hul eis te verifieer nie.

“Toe het Joubert gesê ­Gondwana moenie aangejaag word nie, want hulle het nog twee jaar in hul kontrak om inligting te verskaf. Joubert is 'n man wat baie ekonomies met sy feite is.”

Heathcote het ook ­Gondwana se finansiële posisie weens die ­Covid-19-pandemie ­bevraagteken: “Waarom het Bank Windhoek vir Gondwana 'n lening van N$70 miljoen aangebied, maar N$50 miljoen was genoeg?”

Hy vra “waarom moet ons dringend in die hof wees as Gondwana se bruto inkomste N$108 miljoen is? Dit het niks met kontantvloei te doen nie. Ons is nie onnosel nie”.

Heathcote sê Gondwana se “aandeelhouers het begin rusteloos raak, nie die bank wat sê die maat­skappy met sy nie-roerende bates van N$792 miljoen wat vir N$630 miljoen verseker is, moet gelik­wideer word nie”.

Volgens Heathcote het die Covid-19-­­pandemie 'n verwoestende impak op almal gehad en almal het ­verliese gely.

“Gondwana moet feite en inligting oor hul kontantvloei verskaf. Waarom moet die saak op 31 Maart verhoor word?” het hy gevra.



'INKOMSTE-VERLIES VAN 95%'

Gondwana se advokaat Ian Green, SC, van Suid-Afrika het gesê Covid-19 se teenwoordigheid is werklik en 'n feit met die regering wat daagliks Covid-19-syfers verskaf.

“Selfs Hollard se regsverteenwoordigers dra maskers,” het hy gesê.

Green het beklemtoon die saak is dringend, “want Gondwana het 95% van sy inkomste verloor en kan nie voortgaan om besigheid te doen nie”.

Hy het bygevoeg dat 1 100 van Gondwana se werknemers hul werk kan verloor en dit 'n impak op die ­lewensbestaan van mense het.

“Daar moet na die polis gekyk word, na die uitgebreide skade wat die uitbreking van 'n pandemie het en die regering jou weens Covid-19 beperk om na jou eiendom te gaan,” het Green gesê.

Hy sê Hollard het op 11 ­September 2020 vir Gondwana in kennis gestel dat dit na deeglike oorweging en regs­advies nie sakeonderbrekingseise weens die inperking van die ­Covid-19-pandemie gaan dek nie.

Volgens Green is die inligting wat Hollard van Gondwana verwag, ­onrealisties. Gondwana is volgens Europese wette daaraan verbind om hul kliënte se private inligting ­vertroulik te hou.

Green is ook nie geneë daarmee dat Heathcote vir Joubert onder kruisondervraging wil neem nie en meen Hollard het steeds nie 'n antwoordende beëdigde verklaring by die hof ingedien nie.

Wat die media betref, sê ­Gondwana beide hulle en Hollard het mediaverklarings uitgereik in reaksie op navrae van die media.

Joubert was saam met nóg 'n Hollard-­kliënt, N/a'an ku sê, na die webinaar genooi om die verwoestende impak van Covid-19 op die ­lewensbestaan van hul werkers en gemeenskappe te verduidelik.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer