Gondwana se Zambezi Mubala Lodge binnekort oop

Ronelle Rademeyer
'n Nuwe Gondwana Collection-lodge in die Zambezistreek maak sy deure in November oop.

Die Zambezi Mubala Lodge is 'n paradys vir natuur- en visvangentoesiaste en 'n moet vir alle voëlkykliefhebbers en fotograwe. Bootritte met sonsondergang op die Zambezirivier gaan 'n belewenis wees.

Gondwana Collection se handelsmerk- en bemarkingsdirekteur, mnr. Mannfred Goldbeck, is oortuig daarvan dat die naam van die nuwe lodge presies is wat dit belowe om te wees.

“Mubala beteken ‘kleur’ in die plaaslike Silozi-taal. Die harmonieuse kleure van die natuur en sy refleksies op die water van die Zambezi gaan 'n unieke en onvergeetlike vakansie-ervaring bied.”

Die Zambezi Mubala Lodge word tans herbou op die perseel van die voormalige Kalizo Lodge, en akkommodasie kan van 1 November af bespreek word. Agtien ruim dubbelchalets en twee gesinchalets, almal en suite en met lugversorging, bied 'n asemrowende uitsig op die rivierlandskap. Daar is ook ses tentchalets met en suite-badkamers.

Gaste sal hier 'n tydelike tuiste vind, maar dit is ook die tuiste van die kleurvolle, vrolike en fladderende rooiborsbyevreter. Die kolonie op die oewer van die magtige Zambezirivier is een van die grootste in Suider-Afrika.

Die Zambezi Mubala Lodge is in die hart van die ongerepte natuur geleë.

Dit lê 40 km oos van Katima Mulilo op die Namibiese oewer van die Zambezi en kyk uit op Zambië. Dagtoere na die gewilde Victoria-valle, die Chobe Nasionale Park en ander nasionale parke word hoogs aanbeveel.

Vir navrae en besprekings, kontak [email protected] of [email protected].

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer