Google vir goeie vangste hier
Google vir goeie vangste hier

Google vir goeie vangste hier

Hengel
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Adri Basson, 'n groot figuur in vorige eras van die land se sport, is een van die min mense wat met sy eie hengelgat kan spog waar hy laas Woensdag 'n allemintige kabeljou van presies 20 kg gehaak het.

Adri se Gat, wat na die bekende gholfspeler en voormalige kaptein van die Suidwes-rugbyspan vernoem is, sal enige ywerige hengelaar na die noordekant van Hentiesbaai lok waar dié bekende visvangplek min of meer halfpad tussen Bococksbaai en Horingbaai geleë is.

Google gerus en jy sal die presiese plek van Basson se geheim ontdek.

Basson sê hy het sedert 1976 daar begin hengel en doen dit gereeld die afgelope dekades deur drie tot vier keer per jaar sy bakkie se neus kus se kant toe te draai. Omrede hy die gat ontdek het en gereeld die grotes daar gaan uittrek het, is dié stukkie heil­saamheid later na hom vernoem.

Basson is van mening dat sy nuutste grote en ander vangste op 'n goeie hengelseisoen dui.

“Allerhande vreemde spesies is deur die jare al daar aan wal gebring. Pylsterte, babers, St. Joseph-haaie, haaie en sandhaaie is gevang en so elke nou en dan maak 'n vis van 28 kg of meer sy verskyning aan 'n hengelaar se hoek.

“Dit wil vir my voorkom of die ouens met die komende seisoen goeie vangste langs die kus kan geniet, want hengelaars was die laaste twee weke sommer lekker bedrywig by Adri se Gat wat goeie vangste gelewer het,” vertel Basson trots.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer