Gordhan, Jonas, Nene dalk in Cyril se span

Ministers wat Jacob Zuma “verban” het, soos Pravin Gordhan, Mcebisi Jonas en Nhlanhla Nene, kan dalk pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet haal.
Pres. Cyril Ramaphosa en die res van die ANC se topses vergader Vrydag om veranderinge aan die kabinet te bespreek, het drie mense aan Bloomberg bevestig.

Malusi Gigaba, wat Woensdag sy eerste volledige begrotingsrede as minister van finansies lewer, gaan na verwagting afgedank word. Zuma het Gigaba op 31 Maart 2017 in ’n middernagtelike skommeling aangestel toe hy van Pravin Gordhan ontslae geraak het, al het Gigaba geen agtergrond in die ekonomie, belasting of bankwese nie.

Die aanstelling het die rand laat tuimel en baie buitelanders staatseffekte laat verkoop.

Gordhan en Mcebisi Jonas, sy adjunk, het die respek van beleggingsfirmas en het die afgelope jaar ’n veldtog teen staatskaping gevoer. Dis onduidelik of hulle weer vir die tesourie oorweeg word.

Gordhan het verlede week op die vraag of hy weer minister van finansies sal word as Ramaphosa hom vra, bloot geantwoord: “Ek is hier om te dien.”

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, sê dis die president se prerogatief om die kabinet te verander, maar daar sal “uiteraard” gesprekvoering onder die topleierskap van die party wees.

Tyrone Seale, die presidensie se waarnemende woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Nhlanhla Nene wou nie kommentaar lewer nie.

Nene is in Desember 2015 as minister van finansies afgedank en met die onbekende ANC-LP Des van Rooyen vervang. Ná vier dae waarin die rand in duie gestort het, het Zuma Gordhan, wat ook van 2009-’14 die minister was, aangestel.

Van Rooyen is toe as minister van samewerkende regering en tradisionele sake aangestel.

Zweli Mkhize, tot Desember die ANC se sekretaris-generaal, word glo ook oorweeg as ministers. – Netwerk24/Bloomberg, bygewerk

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!