Gordon-familie hoop steeds

Mnr. Carlo Gordon se ouers en familie bid dat hul broer en seun gevind word.
Leandrea Louw
Leandrea Louw – Die ouers en familie van mnr. Carlo Gordon, die vermiste kaptein van die Resplendent, wat sowat ’n week gelede gesink het, klou steeds aan die hoop dat hy binnekort gevind sal word.

Gordon word reeds 11 dae ter see vermis.

Mnr. Ryan Gordon, Carlo se broer, sê as ’n familie voel dit of hy bloot see toe is en nog nie teruggekeer het nie.

“Ons hoop en bid steeds hy sal gou terugkeer. Daar is steeds ’n moontlikheid dat hy nog leef. Hy is ’n hoogs intelligente man wat 16 jaar lank op die see gewerk het. Toe die vis op die laagste was, sou hy vir dae vas, maar tyd loop vir hom uit,” sê Ryan.

Ryan het sy misnoë met Hangana Seafood, ’n filiaal van Ohlthaver & List te kenne gegee en sê hulle doen eenvoudig nie genoeg om na sy vermiste broer te soek nie.

“Die maatskappy het nou ’n versekeringsmaatskappy se prokureur gekry om met ons oor Carlo te praat. Eers ná lang briewe het Hangana ’n vlug vir ons gereël om oor die gebied te vlieg waar die boot gesink het. Ons het ook aangebied om kuslangs te ry om te sien of iets nie die strand bereik het vanwaar die boot gesink het nie. ’n Duiker uit Suid-Afrika is ook afgevaardig, maar ons is seker hy het nooit eers die water geraak nie,” sê hy.

Volgens Ryan het hulle verskeie idees aan Hangana gegee oor wat gedoen kan word in ’n poging om Carlo uit die see te haal.

“Ons het voorgestel ’n aantal bote word gebruik en probeer die Resplendent na vlakker waters trek. Aan ons is gesê dit het op ’n diepte van 320 m gesink en ons het nie duikers in Namibië wat so diep kan duik nie. Daar was ook praatjies dat ’n afstandbeheerde onderwatervoertuig (RVO) gehuur gaan word, maar dit gaan glo N$50 miljoen kos.

“Ons wil net ons broer terughê. Deur ’n versekeringsprokureur aan te wys om ons as familie te hanteer, gee ons die indruk Hangana het die soektog na ons broer laat vaar.”

Carlo se ouers sê hulle is uiters dankbaar teenoor die Walvisbaaise gemeenskap en ook die land vir hul ondersteuning in die moeilike tyd.

“Elke gebed, teksboodskap, oproep en druk word ongelooflik waardeer,” sê hulle.

Carlo se suster, me. Maurisha Santos, sê haar broer word as ’n held beskou en dit is daarom gepas om hom soos een te hanteer.

“Hy het sy tyd en familie vir Hangana Seafood opgeoffer, hoekom kan nie meer vir hom gedoen word nie? Ons wil net antwoorde hê en ons wil hê hy moet gevind word. My broer het die hartseer vir 26 families gespaar, hoekom moet een familie dan so ly?” vra sy.

Dieselfde sentiment is vroeër deur Carlo se vrou, Jacoline, beaam.

“Ons kan nie ophou hoop nie, ons moet net vertrou en glo. Ons sal nooit ophou bid en glo dat God my man sal teruggee nie. God alleen is in beheer en Hy sal antwoord. Hy sien ons seer. My kinders glo steeds hul pa leef en ek wil net vir hul onthalwe afsluiting hê.”

Me. Roux-Che Locke, woordvoerder van O&L, sê ’n mediaverklaring oor die kwessie sal later uitgereik word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!