Gordongate: ‘Laaste spyker in die doodskis’

Afgradering nou onafwendbaar
Jo-Mare Duddy Booysen
Die Gordhan-dagvaarding is die laaste spyker in die doodskis van Suid-Afrika se kredietgradering, reken Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group.

Dié stap kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie, het hy gesê nadat ’n dagvaarding gister op Pravin Gordhan, Suid-Afrika se minister van finansies, Oupa Magashula, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), en Ivan Pillay, voormalige adjunk-kommissaris van die SAID, bestel is om op 2 November in die Pretoriase streekhof te verskyn.

“In die huidige omgewing van die #FeesMustFall, werkloosheid en (byna) geen groei in die ekonomie, is hierdie ’n baie gevaarlike stap,” sê Roodt.

Hy glo dit is veel eerder ’n reaksie van pres. Jacob Zuma om terug te veg teen al die onlangse terugslae wat hy ervaar het.

“Hy het deurgeloop onder die grondwetlike hof en ook onder Thuli Madonsela, die uittredende openbare beskermer, om maar net twee gevalle te noem. Ek dink hy probeer nou terugbaklei,” sê Roodt.

“Ek raak baie bang vir wat besig is om in die land te gebeur. Dit is lank reeds ’n gegewe dat ons afgegradeer gaan word, hierdie is net die laaste strooi,” reken hy.

Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, sê: “Hierdie is nie ’n stap om Gordhan te straf nie, maar om alle Suid-Afrikaners te straf.

“Dit is nie goed vir die land nie en nie goed vir die ekonomie nie.”

“Ek het nog nooit daarvan gehoor dat ’n dienende minister van finansies enige plek in die wêreld in hegtenis geneem en aangekla word van bedrog nie. Dit is mal,” sê hy.

Tydsberekening

Daniel Silke, politieke ontleder, het in reaksie op die lasbrief gesê: “Ons bespiegel al lank dat afgestuur word op ’n botsing tussen Gordhan, wat die ekonomie probeer bestuur en red van afgradering, en diegene met gevestigde belange om die status quo te handhaaf.

“Die afgelope maande was Gordhan baie uitgesproke teen sy politieke vyande op ’n wyse wat amper as uitlokkend beskou kan word. Dit wil nou lyk asof hulle finaal optree deur die nasionale vervolgingsgesag in te span om die een of ander soort klagte teen hom in te stel.

“Die tydsberekening hiervan is deurslaggewend gegewe die medium­termynbegrotingsraamwerk wat Gordhan op 26 Oktober moet lewer en terwyl ons steeds wag vir hersiening deur die kredietgraderingsagentskappe.

“ ’n Mens kan dus aanvoer Gordhan se manier van sake hanteer, het gevestigde belange omgekrap wat baie jare lank voordele en steun geniet het uit die wyse waarop die regering sy sake gedoen het. Gordhan probeer sommige van hierdie buitensporighede, skuiwergate of voordele verwyder en nou word die politieke mat onder Gordhan uitgetrek. As aanklagte hom in die gesig staar, sal dit sy posisie in die kabinet uiters problematies maak.”

Vierde aanval

Die politieke ontleder JP Landman sê die implikasies van ’n vervolging van Pravin Gordhan sal “afgryslik” wees – maak nie saak hoe ’n mens daarna kyk nie.

Maar dit sal daarvan afhang of Gordhan bedank en of hy aanbly. Die scenario sal minder ernstig wees as hy wel aanbly in sy pos, maar “as hy sou loop, dan is ons in die moeilikheid”.

Die tydsberekening van die vervolging teen Gordhan is volgens Landman “baie eienaardig”.

“Ons sal moet sien of daar werklik ’n saak teen Gordhan is. Alles wat ’n mens tot dusver gehoor het, dui daarop dat daar nie ’n saak teen Gordhan uit te maak is nie.”

- Netwerk24

Aanklag polities ­gemotiveerd, sê Pravin

Die saak is polities gemotiveerd en Suid-Afrikaners moet vra waarom dit aanhangig gemaak is net enkele weke voordat hy die mediumtermynbegrotingsraamwerk moet lewer, het Gordhan gisteroggend in ’n toespraak in Midrand gesê.

“Daar is geen saak nie,” het Gordhan gesê.

Hy wil hê Suid-Afrikaners moet hulself afvra wie werklik die Valke se politieke meesters is.

Gordhan sê al wat die tesourie wil doen, is om Suid-Afrika te verteenwoordig en seker te maak die land se finansies word ordentlik bestuur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!