Goud vir renosters

B2Gold het ’n reuseskenking ten bate van swartrenosters en gemeenskappe in die Noordweste gemaak.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - B2Gold het tydens ’n glansryke aand by Droombos in die hoofstad geskitter met sy skenking van sowat N$25 miljoen se goud vir renosterbewaring.

Donderdagaand is geskiedenis gemaak toe 1 000 onse goud ten bate van Namibië se ikoniese vlagskipspesie, die swartrenoster, as belegging aangebied is.

“B2Gold gebruik sy goud om ’n bedreigde spesie te bewaar,” het die direksievoorsitter, dr. Leake Hangala, gesê.

Altesaam 1 000 unieke B2Gold Rhino Gold Bars is bekend gestel.

Uit die 1 000 goudstawe is 690 in een ons beskikbaar en 300 in half onse.

Die goudstawe van 10 500 g verteenwoordig die 10 jaar wat renosters in die wildernis sal oorleef as renosterstropery teen die huidige koers voortduur.

Voorop die stawe is die Namibwoestyn uitgebeeld en agterop ’n swartrenosterkoei en haar kalf, wat hoop vir die spesie se toekoms verteenwoordig.

“Renosters is een van Namibië se lewende natuurlike hulpbronne wat gemeenskappe ongelooflike voordele bied,” het me. Bernadette Jagger, adjunkminister van die omgewing en toerisme, gesê.

Me. Ginger Mauney, van die Save the Rhino Trust (SRT) Namibia, wie se breinkind die projek was, het gesê renosters is net waardevol as hulle lewend is.

“Die SRT se sakevennote, die ministerie van die omgewing en toerisme, die Namibiese polisie, Integrated Rural Development and Nature Conservation (IRDNC) en die gemeenskappe in bewaringsgebiede probeer die laaste vrylopende swartrenosters in die wêreld bewaar,” het Mauney gesê.

“Renosterbewaarders en spoorsnyers van bewaringsgebiede loop 30 km per dag om hulle te beskerm.”

Mauney het gesê net soos kinders die goudstawe kan erf, moet die toekomsgeslagte ’n wêreld beërf waar renosters vry kan loop.

Mnr. Mark Dawe, besturende direkteur van B2Gold in Namibië, sê renosterbewaarders is ware helde.

“Veral weens die jare lange droogte in die Noordweste is die gemeenskappe se enigste inkomste toerisme,” het Dawe gesê.

Dr. Chris Brown, uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), het dit beaam en gesê die vlagskipspesie van die Noordweste, die swartrenoster, ondersteun gemeenskappe deur toerisme.

Mnr. Clive Johnson, van Vancouver in Kanada, B2Gold se president en uitvoerende hoof, het gesê die klimaatskrisis is ’n werklikheid – veral in die Noordweste waar gemeenskappe onder jare se droogte gebukkend gaan.

“Ons prehistoriese metaal, goud, word nou gebruik om ’n prehistoriese dier te red, maar ook gemeenskappe se bestaan.”

Om in ’n B2Gold Rhino Gold Bar te belê, stuur ’n e-pos aan [email protected].

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!