Goudprys klim, olie wip op en af
Goudprys klim, olie wip op en af

Goudprys klim, olie wip op en af

Die wisselvalligheid volg op die Amerikaanse lugaanval Vrydag op Bagdad in Irak, waarin genl.maj. Kassem Soleimani van Iran dood is.
Elvira Wood – Hulpbronmarkte is in rep en roer.

Die olieprys spring sedert Vrydag op en af tussen sowat $67 en bykans $71 per vat, terwyl die goudprys van $1 539,40 Vrydag tot $1 609,86 per fynons Dinsdagaand gestyg het.

Die rand het in dié tydperk van R14,09 teenoor die dollar tot R14,44 verswak.

Woensdagmiddag het die rand so verhandel:

· R14,25 teenoor die dollar;

· R18,71 teenoor die Britse pond; en

· R15,87 teenoor die euro.

Hulpbronne het so verhandel:

· Goud: $1 582,44 per fynons;

· Platinum: $968,63 per ons; en

· Olie: $68,54 per vat.

Die wisselvalligheid volg op die Amerikaanse lugaanval Vrydag op Bagdad in Irak, waarin genl.maj. Kassem Soleimani van Iran dood is. Iran se regering het wraak geneem deur Dinsdag Irakse militêre basisse, wat Amerikaanse soldate huisves, aan te val.

Lukman Otunuga, senior ontleder by FXTM, sê Woensdag in ’n nota dat Iran se teenaanval die kommer oor ’n moontlike volskaalse oorlog tussen die VSA en Iran laat toeneem het.

Dit het ’n groot negatiewe invloed op die markte.

Otunuga sê die gebeure het beleggers na toevlugsoorde soos goud laat stroom.

“Goud het Woensdag weens die geopolitieke skokke vir die eerste keer in byna sewe jaar deur die vlak van $1 600 per fynons gebreek,” sê hy.

Otunuga sê hy verwag dat die goudprys waarskynlik rondom $1 600 gaan verhandel en selfs tot so hoog as $1 630 kan styg.

Hy sê olie is uiters sensitief vir markgebeure. “In die lig van die vrees dat spanning in die Midde-Ooste kan toeneem, kan oliepryse vir eers wisselvallig bly. Alle oë is nou op pres. Donald Trump van die VSA vir sy reaksie oor moontlike vergelding.

“Dit sal interessant wees om te sien hoe baie geopolitieke skokke die olieprys gaan ondersteun voordat beleggers hul fokus weer op die handelskrisis tussen die VSA en China rig,” sê hy.

Bloomberg berig daar is groot kommer oor hoe die situasie tussen die VSA en Iran die olietoevoer na die res van die wêreld kan beïnvloed.

Die meeste ruolie-uitvoer uit die Persiese Golf, insluitend verskepings vanuit Saoedi-Arabië, Iran en Irak, gaan deur die Straat van Hormoes, ’n nou waterweg wat Iran herhaaldelik gedreig het om te sluit as ’n oorlog uitbreek.

Kwangrae Kim, ’n hulpbronontleder by Samsun Futures, verwag ook dat oliemarkte wisselvallig kan bly.

Die kombinasie van ’n swakker rand en hoër olieprys kan veral slegte nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste wees.

Die vooruitsig vir die brandstofprys wat op 5 Februarie in werking tree, lyk by die dag slegter.

Volgens die jongste syfers wat die Sentrale Energiefonds Woensdag beskikbaar gestel het, is die oorverhaling (potensiële daling) op 95-oktaan-petrol nou net 7c.

Vrydag was die oorverhaling nog 14c, terwyl dit op 1 Januarie nog 22c was.

Die onderverhaling op 93-oktaan (potensiële styging) is nou 3c en vir alle grade van diesel is dit 21c.

Op 1 Januarie was dit nog onderskeidelik ’n oorverhaling (potensiële daling) van 8c op 93-oktaan en ’n onderverhaling van 19c op diesel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!