Goue drinkgenot

Twee ingenieursvriende met ’n liefde vir bier se motorhuis-proefnemings het in ’n volwaardige, kommersiële vakmansbrouery op Swakopmund ontwikkel.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Of jy dit vlytbier, vakmansbier of boetiekbier noem . . . die craft-bier wat die ingenieursduo André Genis (67) en Dup Calitz (53) die afgelope twee jaar by hul kommersiële brouery op Swakopmund brou, het Namibiërs aan die praat.

Namib Dunes Craft Brewery het in September 2017 met produksie begin nadat dié twee vennote die uitgerekte administratiewe proses afgehandel het en al vyf lisensies bekom het om bier kommersieel te kan vervaardig.

Die brougogga het egter veel vroeër al gebyt en Dup het in 2013 met ’n klein tuisbrouery in sy garage begin, vertel André.

Die twee ken mekaar al 25 jaar en kort voor lank het André, ’n afgetrede siviele ingenieur, sommer vir die pret saam met Dup begin brou. “Ons het ons tuisbrouery later na my huis verskuif en groter gegaan.”

Hulle het aangesluit by die Namibië Tuisbrouersvereniging om by ander tuisbrouers kers op te steek, resepte en idees uit te ruil en bowenal pret te hê en goeie bier te proe.

André sê toe hy eindelik besluit om af te tree, het hulle besef die tyd is ryp om hul stokperdjie in ’n kommersieel lewensvatbare onderneming te omskep.

Hoewel Dup steeds voltyds as meganiese ingenieur in die mynbou werk, bring hy sy afnaweke in hul brouery by die Eastern Concepts-leefstylsentrum in Swakopmund se nywerheidsgebied deur.

“Met die hulp van Tannie Google het ons navorsing gedoen oor maatskappye wat toerusting vir brouerye vervaardig,” vertel André.

As ingenieurs was die ontwerp en uitleg van die brouery vir hulle kinderspeletjies. “Toe die toerusting uit China in April 2017 in die land aankom, het Dup se twee seuns, Oscar en Michael, en my seuns, Iain and André (jnr.), hand bygesit met die installering van die vlekvrye staal-tenks waarin die bier fermenteer. Ons moes ook die water en elektrisiteit koppel en ontsyfer hoe die elektriese kontroles werk,” sê hy.

Daarna het hulle tuisbrouers uit Windhoek genooi en met resepte begin eksperimenteer.

André sê net soos daar ’n periodieke tabel vir die chemiese elemente en hul eienskappe is, beskik die brouersbedryf oor ’n periodieke tabel vir bier.

Hoewel ’n legio verskillende biere wêreldwyd gebrou word, is daar net twee oorhoofse tipes bier, naamlik lager en ale.

André sê hulle het aanvanklik drie verskillende ales vervaardig en dit later na vyf uitgebrei: ’n Indiese pale ale (pale ale), ’n blonde ale, ’n witbier (Weissbier), ’n Belgiese witbier (Belgian Witbier) en ’n Ierse rooi ale (Irish red ale).

Hy sê al die bier word volgense die Reinheitsgebot uit net vier bestanddele vervaardig: water, graan (meestal gemoute gars), hop, en gis.

“Witbier word van helfte koring, helfte gars gemaak. Die ander biere word alles van gemoute gars gemaak,” verduidelik André.

“Die enigste bier waarby ons geurmiddels voeg, is die Belgiese witbier. Dit kry lemoenskil, koljander en kamille as geurmiddels by.”

Hy verduidelik verder die verskil tussen die style en geure hang dan af van die gehalte van die water, hoe donker die gars gerooster is, watter soort en hoeveel hop jy byvoeg, en watter soort gis gebruik word.

André sê hulle maak beproefde real beers en dit werk vir hulle.

“Die ale pas lekker by ons opset in, maar ons het planne om vorentoe ’n lager ook te maak.”

Namib Dunes beskik tans oor vier fermenteerders van 1 000 liter elk en vervaardig 6 500 bottels bier per maand. Verlede jaar het hulle 40 000 bottels bier verkoop.

André sê Swakopmund se koel weer is ideaal vir hul produk, want die bier kan teen sowat 20°C kondisioneer.

In hierdie stadium word dit meestal aan die kus versprei, met vaatjies (kegs) by kroeë as hul nuutste innovering.

In Windhoek kan bierliefhebbers Namib Dunes se biere by Embassy Liqour Store koop.

Met dié twee biervriende se passie en vernuf is dit waarskynlik net ’n kwessie van tyd voor Namib Dunes se goue nektar ’n gevestigde en geliefde Namibiese skuimkop is wat landswyd versprei word.



DIE VIER BESTANDDELE

Water:

Bier se hoofbestanddeel is water (90-95%) en daarom speel die gehalte en chemiese samestelling daarvan ’n baie groot rol.

Die beste water is sogenaamde sagte water met min minerale. Dublin se harde water het ’n ale soos Guinness tot gevolg gehad en die sagte water van Plzen in die Tsjeggiese Republiek het geboorte gegee aan die beroemde pilsener.

Gars:

Die gars wat vir bierbrouery gebruik word, ondergaan ’n vermoutingsproses. Dit word natgemaak en toegelaat om te begin ontkiem. Dié proses word gestuit deur baie warm lug daaroor te blaas.

Hoe droog die mout dan gemaak word, bepaal die kleur en geur van die bier.

Karamel- en toffiesmake is kenmerkend van ’n ligter mout en sjokolade dié van ’n donker geroosterde mout. Die meeste brouers sal ’n kombinasie van tot ses soorte mout gebruik, elk met ’n invloed op die kleur en geur van die bier.

Die mout word dan tot hawergort gemaal, sodat makliker by die stysel uitgekom word. Nou word dit met water by ’n presiese temperatuur gemeng en laat staan, sodat die stysel in fermenteerbare suikers kan verander.

Hop:

Hop is die gedroogde blomme van die Humulus lupulus-plant, en behoort tot dieselfde plantfamilie (Cannabaceae) as hennep en dagga.

Behalwe dat dit geur en aroma aan bier verleen, dien dit as ’n stabiliseringsagent en natuurlike preserveermiddel. Brouers gebruik gewoonlik ’n paar soorte hop om verskillende geure te bewerkstellig.

Gis:

Gis se doel is om die suikers in die brou te omskep. Die eerste fermentasie duur sowat ses dae. Hierna word die bier in ’n tenk gepomp en verkoel tot sowat 5°C. Nou begin die tweede fermentasie, wat dan koolsuurgas afskei en die oulike borreltjies in bier veroorsaak.

Ná sowat twee weke volg die verfyningsproses waarin die oorblywende gis en sediment verwyder word.

’n Verdere twee weke later (28 dae in totaal) is die goue nektar gereed om gebottel, geblik of in vate getap te word.

BIERSOORTE

Alle biere word in die drie hoofsoorte verdeel naamlike tradisionele bier, ale en lager.

Tradisionele bier kry nie hop in nie en is ongefiltreerd. Dit beteken die gis bly deel van die bier.

Met die vervaardiging van ale dryf die gis tydens fermentasie bo die bier, terwyl die gis in die vervaardiging van lager aan die onderkant van die fermentasietenk is.

Tradisionele bier is so oud soos die berge en is reeds in die tyd van die piramides beskryf. Dit word al eeue lank in huise oraloor Afrika en die wêreld gebrou.

Dit word gemaak van sorghummout of milletmout, en gewoonlik ander ongemoute grane soos mielies.

Ale is gebrou voordat die brouers met gesofistikeerde toerusting begin het om die proses fyn te beheer. Die uitwerking daarvan is ‘n donkerder kleur en vrugtesmake. Ale verskil van tradisionele biere deurdat die stysel omgeskakel is in suiker en daarom is die bier gewoonlik helderder.

Die gis fermenteer teen temperature van 18°C tot 20°C.

Ale-gis beweeg tydens fermentasie na die bokant van die fermentasiehouer.

Aan die einde van fermentasie daal die gis na onder en vorm ’n sigbare gislaag. Hierdie gis kan ook herwin word en in ’n daaropvolgende brousel gesit word.

Dit word meestal in Brittanje en België gebrou.

Lagerbiere het met die nywerheidsrevolusie en die ontwikkeling van prosesbeheer uit die ale-bierstyle ontwikkel. Die eerste goudgekleurde biere is in 1842 deur Josef Groll in die stad Pilsen in die Tsjeggiese Republiek gebrou.

Die ligter kleur is die gevolg van minder gemodifiseerde garsmout, en aangesien die gisproses teen laer temperature plaasvind (ongeveer 12°C), het dit nie dieselfde vrugtige geur nie.

(Bykomende bron: wikipedia.com)

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!