Graad 12's help minderbevoorregtes

Helene Bam
Chané Corbett, Graad 12, Privaatskool Welwitschia, Windhoek



Die graad 12-klas van Welwitchia Privaatskool het vanjaar 'n groot projek aangepak om minderbevoorregtes in en om Windhoek se harte te raak.

Juffrou Melanie Campbell, die Afrikaans-onderwyseres, het leerlinge in vyf groepe verdeel. Die groepe is onderskeidelik vir die insameling van klere, kos, beddegoed, skryfbehoeftes en speelgoed verantwoordelik. Elke groep werk saam om die items in te samel. Die res van die skool word betrek deur vir enige donasies vir elk van die groepe te vra.

Om seker te maak dat daar nie net op een kinderhuis gefokus word nie, besluit elke groep self wie voordeel uit hul insameling gaan trek. Op dié manier word ons almal bewus van ander straat- of weeskinders en maak sodoende minderbevoorregte kinders oral in Windhoek se harte weer warm.

Aanvanklik is op dié projek besluit omdat straatkinders vanjaar as 'n tema in Afrikaans behandel word asook omdat dit vir graad 12-leerlinge tragies is om so baie straatkinders in die hoofstad te sien.

Die klasse het die nagevolge bestudeer van kinders wat op die straat is, asook die redes waarom hulle daar bly. Deur navorsing is bevind dat baie kinders namens hul ouers op straat gaan bedel omdat die ouers self nie opgelei is om te kan werk nie. Daarbenewens kan dié kinders nie aldag kies in watter omstandighede hulle hulself bevind nie – nes elkeen van ons – en die mening was dat die leerders kinders wat in aaklige omstandighede verkeer of daarvan ontsnap het, wil bystaan.

Saam met die skryfbehoeftes wat aan hulle voorsien gaan word, wil die matrieks ook ou leesboeke oor basiese opleiding skenk. Inkleurboeke en kryte sal die kinders op 'n prettige manier help leer.

Dit is vir ons uiters belangrik om 'n verskil in hul lewe te maak en, indien moontlik, vir 'n enkele dag hul bestaan aangenaam en vreugdevol te maak. Van die woorde in die skoollied is: ‘We believe that every child matters’, en dus kan ons nie wag om 'n glimlag op elke straatkind se gesig te help sit nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer