Graanmark in SA skep sekuriteit vir streek
Graanmark in SA skep sekuriteit vir streek

Graanmark in SA skep sekuriteit vir streek

Prysverhouding tussen vleis, mielies gunstig
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – Die plant van koring in Suid-Afrika is grootliks afgehandel, maar met wisselende verwagtinge.

Sowat 95% van die nagenoeg 501 000 hektaar onder koring word in vier provinsies, die Wes-Kaap, Vrystaat, Limpopo en die Noord-Kaap, geproduseer met die Wes-Kaap as die belangrikste streek. Dié provinsie se aandeel is 64%.

Produksie-omstandighede in dié provinsie wissel, maar die Swartland se goeie reën die afgelope tyd hou groot belofte in dat sake besig is om te herstel ná uitmegelende droogtes, berig die Landboubesigheidskamer.

Suid-Afrika se invoerafhanklikheid wat koring betref, neem toe. Van die totale verwagte verbruik van 3,3 miljoen ton, sal slegs 1,5 miljoen ton plaaslik geproduseer word, met die gevolg dat bykans 2 miljoen ton ingevoer sal moet word.

Die wisselvallige rand kan tot gevolg hê dat ingevoerde koring kan lei tot duurder brood. Altesaam 96% van alle koring in Suid-Afrika is vir menslike verbruik.

Somergrane se oestyd het aangebreek en die weer speel saam. Na verwagting sal die strooptempo nou toeneem danksy gunstige weersomstandighede. Suid-Afrika stuur egter weer af op rekord mielievoorrade, want saam met die oordragvoorraad van bykans 3,7 miljoen ton en die verwagte totale mielieoes van 12,6 miljoen ton kan die totale aanbod tot 16,3 miljoen ton laat toeneem.

Totale verbruik – binnelands sowel as uitvoere, word op 13,1 miljoen geraam. Die binnelandse vraag vir menslike verbruik beloop net meer as 5 miljoen ton terwyl 5,4 miljioen ton vir dierlike gebruik en nywerheidsdoeleindes verwerk of aangewend kan word.

Van die verwagte uitvoere is die meerderheid steeds in onverwerkte formaat, wat aandag geniet. Suid-Afrika behoort meer en meer verwerkings binnelandse te doen om sodoende die voordele van werkskepping en toegevoegde waarde te kan ontsluit.

Daar sal na verwagting oordragvoorraad van meer as 3,1 miljoen ton teen die einde van die 2018-’19 bemarkingsjaar wees.

Dié feit gee gemoedsrus, maar die voordele het teenstellende impakte. Vir die verbruiker dui dit op voortgesette lae kosinflasie as mielies die grootste deel van jou aankope uitmaak, maar vir produsente dui dit op volgehou prysdruk.

Die volhoubaarheid by die plaashek sal dus onder druk bly en boere se vermoë om skuld te diens, uiteraard ook.

Produsente sal dus die kosteknyptang moet oorkom om wins te kan maak. Meer met minder is dus die antwoord, maar groter oeste sal plaashekpryse onder druk hou.

Sonneblomsaad seaanbod vir die nuwe seisoen word op net minder as 1 miljoen ton geraam en binnelandse lewering sal na verwagting net duskant 8 miljoen ton wees.

Oordragvoorraad en die oes behoort te voldoen aan die totale vraag van 8,6 miljoen ton, want na verwagting sal slegs 200 ton in die huidige bemarkingseisoen uitgevoer word.

Na verwagting kan uitvoere tot soveel as 500 ton wees. Van die totale aanbod sal nagenoeg 840 000 ton tot olie en oliekoek verwerk word. Wat hierdie produk betref, is voedselsekerheid dus ook gewaarborg en behoort plaashekpryse nie tot kosinflasie by te dra nie.

Suid-Afrika staar hierdie jaar ’n oorskot aan soja in die gesig. Die totale verwagte aanbod kan net meer as 1,7 miljien ton wees. Met oordragvoorraad van 330 535 ton, word die binnelandse oes op 1,4 miljoen ton geraam.

Hiervan gaan nagenoeg 1,18 miljoen verbruik word as binnelandse vraag en beperkte uitvoere. Net weer as 1,1 miljoen ton van die totale vraag word vir dierlike gebruik verwerk – volvet-meel, olie en oliekoek.

Dié vraag- en aanbodsituasie sal bepaald ‘n rol speel in produksiebesluite, want tensy binnelandse verbruik kan verhoog, gaan die bedryf te make kry met afwaartse prysdruk as gevolg van die ooraanbod. Die feit dat soja besig is om sonneblomsaad te vervang in die eetbare olie- en oliekoekmark, is opmerkbaar.

In die geheel gesien dui die vraag en aanbod in die graanbedryf dus op gunstige omstandighede vir die verbruiker, uitgesonder in die geval van koring.

Verbruikers van mielies en soja, soos lewendehaweprodusente, kan dus uitsien van nog ‘n jaar van ‘n gunstige vleis-mielie-prysverhoudings en dit op sigself kan die vraag na veral voerkraaldiere in stand hou.

Die kwessie van produsenteprys vlakke van vee wat sywaarts beweeg, kan egter druk plaas op winsgewendheid, maar laer pryse is die gevolg van trae vraag.

Suid-Afrikaanse verbruikers en hul eweknië in die streek behoort dus met geruste harte te gaan slaap. Daar sal genoeg kos wees.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer