Graffiti walg HAN
Graffiti walg HAN

Graffiti walg HAN

Die Gasvryheidsvereniging van Namibië hou in Junie hul Toerismekongres op Lüderitz.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN) is ontstig oor graffiti op die geskiedkundige Garub Rail-stasiegebou in die Suide – ’n gewilde plek vir toeriste wat wilde perde wil besigtig.

“HAN is gewalg deur die gebrek aan respek wat buitelandse graffitikunstenaars teenoor een van Namibië se geskiedkundige geboue in die Suide betoon,” het me. Gitta Paetzold, HAN se uitvoerende hoof, gesê.

“Ons glo Namibiërs moet opstaan en wys ons gee vir die land se geskiedkundige en omgewingserfenis om, en dit is wat van ons land ’n unieke reisbestemming maak.”

In die sosiale media gons dit ná die graffiti glo deur ’n Franse en ’n Kanadese burger op Namibiese geboue aangebring is.

Namibiërs en mense van heinde en verre het hul onsteltenis hieroor uitgespreek.



Paetzold sê die voorval bevestig opnuut die behoefte vir Namibië en sy toerismebedryf om op die waarde van sy erfenis te fokus.

Sy sê dit is presies die fokus van HAN se Toerismekongres 2020 wat vanjaar op 19 Junie op Lüderitz sal plaasvind.



“HAN werk nou saam met strategiese vennote wat Namibië se uniekheid bewaar en die buitengewone kenmerke van ons land se flora, ongerepte natuur en inspirerende geskiedenis bevorder.”

Vanjaar se kongrestema is “Unlocking new horizons”.

“HAN se tweedaagse Handelsforum en Toerismekongres op Lüderitz, waar Namibië se diamantstormloop plaasgevind het, is op die voorstoep van die spergebied, waar ons nuwe toerismegeleenthede gaan ontdek,” sê Paetzold.

Dit sluit Lüderitz, Aus, Rosh Pinah en Oranjemund in.

“HAN hoop om hierdie spesiale geleentheid op Kolmanskop aan te bied om ’n tikkie nostalgie en glans by hierdie nuwe horisonne te voeg. Dit is die perfekte tyd om meer op ons geskiedenis as toerismeproduk te fokus.”

Paetzold sê Namibië het ’n ryk mynbou- en spoorweggeskiedenis wat in storieboeke vervat is.

“Vanjaar gaan ons eie luukse mobiele hotel, die Desert Express, HAN-kongresgangers tydens sy eerste reis op die spoorlyn van die ||Kharasstreek af via Keetmanshoop, Aus en Garub na Lüderitz neem.”



Sy sê die treinrit alleen is ’n sleuteltoerismeproduk vir die toekoms “en ons is opgewonde oor wat dit en baie ander geleenthede gaan bring wat op die Tsau //Khaeb Nasionale Park fokus”.

Die HAN-kongres word deur Namibia Breweries Limited (NBL), Standard Bank Namibia, Air Namibia en Bannerman Resources geborg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!