Grand oom en tannie
-Lloyd Zandberg
Ons het baie, baie lank gelede by ’n oom en tannie gaan eet wat albei verslaaf aan Grandpa-kopseerpoeier was. Hulle was goeie huisvriende van my ouers. Hul verslawing het vermoedelik ontstaan oor hul middelkind, die enigste dogter, eerder ’n seun wou wees. Hulle kon dit nie verstaan nie.
Blykbaar woon dié nou op Prince Albert. Die mense is mos vreeslik arty en different daar. Weens hul abnormale verslawing het ons hulle Grandma en Grandpa genoem, maar dit is net toegelaat as ons van hulle gepraat het, normaalweg in ons huis, en nie voor hulle nie. Ek kan nie die oom se regte naam onthou nie, maar ek weet die tannie was Gillian en sy is ’n laerskoolonderwyseres. Dit was iewers in die Kaap, in die winter. Dit was so koud soos Everest se piek. Toe word ons genooi vir ’n Sondagete. Tradisioneel is dit nie ’n mak besigheid nie. Jy moet vir jou loop opdress en netjies maak vir so ’n byeenkoms. Die tannie het daai dag die stokke gevat en besluit om haar baie gewilde tamatiebredie met geelrys vir ons te maak.
Die oom was reeds op sy tiende poeiertjie en gevolglik was hy net daar vir die samesyn. Ek is mal oor ’n bredie, maar tamatiebredie, en ander oorgewig vriende sal met my saamstem, gee die onaangenaamste sooibrand van die eeu. Ek het eendag begin koors kry van die sooibrand nadat ek ’n tamatiebredie by ’n basaar geëet het. Ek was baie nervous toe ek sien Grandma staan met die houer tamaties.
Die Oom het elke paar minute ’n pluk gevat terwyl die tannie die bredie gebrou het. Eventually, ná baie lank, was die kos klaar en ons het ogies gemaak. Die bredie was oukei, maar ek wou nie seconds geskep het nie. Ek het van sekere dinge gehou, maar as jy ’n rosyntjie naby my bring, belowe ek vir jou, gaan ek braak. ’n Warm rosyntjie kry my vir maande onder. Ek het besluit eendag gaan ek my eie bredie ontwerp, want Grandma s’n het potensiaal, maar dit is nie vir my nie. Ons het gegroet, weer huis toe gery en voor ons kaggel gaan kaart speel.
Dit is nou jare later en ek wonder hoe dit met die poeierkoppe gaan. My suster sê sy het op Facebook gesien dat Prince Albert al intussen ’n baardjie en sterk voorams het, maar sy weet nie hoe dit met Grandma en Grandpa gaan nie. Nou die dag is dit yskoud en ek het ’n slegte dag by die werk gehad. Dit is toe dat ek besluit elke dag is iemand se eendag en vandag ontwerp ek ook ’n tamatiebredie. Op my manier. Sonder rosyntjies of tonne tamaties. En dít is waarmee ek vorendag gekom het:
My tamatiebredie
Bestanddele:
· 1 kg Skaapvleis. Ek verkies skaapnek, al is dit net so grillerig soos vals toonnaels. Moenie te lank daarna kyk nie.
· 25 ml Olyfolie. As ons kosmaak, gebruik ons altyd ’n goeie olyfolie. Net popcorn en vetkoek word in kookolie voorberei.
· 1 Knoffelhuisie.
· 1 Ui, grof gekap.
· Varsgemaalde swartpeper.
· Pienksout. Dit is blykbaar gesonder as gewone sout.
· 3 Koppies water. Ek vervang die water met rooiwyn, maar dit is omdat ek nie waardes het nie.
· 1 kg Tamaties. As jy ook, soos ek, dik is en jou slukderm lek, halveer die hoeveelheid. Of verdubbel jou Rennies-voorraad. Dit is immers ’n tamatiebredie, so dit moet in.
· 5 ml Suiker.
· 5 ml Kerriepoeier. Moet nou nie ’n flou ding gebruik nie. Hy moet bietjie skop.
· 2 ml Tiemie. As ek ooit ‘n troeteldier moet aanneem, sal ek hom Tiemie noem.
· Gemmer. Baie ook. Ek het dit al genoem, maar gemmer moet onmiddellik Namibië se nasionale plant word. Ons kan nie daarsonder nie.
· ’n Derde van ’n Steak & Chops-botteltjie. Party mense sê dit is ’n kommin spice. Maar ek het nie tyd om speserye tot daai punt te ontleed nie.
· Botterskorsie en aartappels. Die een is vir die kleur en die ander vir krag. Die bredie moet soos ‘n sunset lyk as jy met hom klaar is.
· ’n Lekker groot stoompot. Die outydse soort, waarvan die verf al begin afdop. As jy nie weet waarvan ek praat nie, is jy te jonk vir kook. Readymade meal vir jou.
Metode
Gooi die olyfolie in jou stoompot. Leen jou ma s’n as jy nie een het nie. Daai pot vorm ‘n groot deel van die geur. Verhit. Voeg die nekkies (of jou keuse van skaap) in en braai tot hulle minder aardig lyk. Sodra die vleis bruin is, skep dit uit en gee hulle ’n blaaskans. Gooi nog bietjie olyfolie in die pot en laat sweet nou die uie, knoffel en gemmer vir ’n paar minute. Ek is nie presies seker tot wanneer nie (gaan met jou hart). As jy voel die bogenoemde het genoeg aandag gekry, voeg die tiemie, kerriepoeier, Steak & Chops, sout, suiker en growwepeper by. Nou kan hulle vir ’n wyle handevat en gesels. Sodra dit stil raak, gooi jy weer die nekkies in. Die hele affêre moet nou soos ’n droë rivierbed lyk. Bruin, droog en hartseer. Maar moenie moed opgee nie. Ons gaan nou die sunset begin verf.
Nou is dit tyd vir die tamaties en die rooiwyn (of water, niemand sal weet nie). Voeg die tamaties en rooiwyn by die rivierbed. Maak seker die hele besigheid is met vloeistof bedek. Laat stoom nou die konkoksie op lae hitte vir ’n uur of tot die nekkies mak genoeg is om te eet. Skaapnek is taaier as ’n binneband.
Gooi nou die aartappels en botterskorsie in die pot, maar moenie die deksels opsit nie, anders gaan jy met ’n sop opeindig. Intussen moes jou mond al begin water het en jou lus vir rooiwyn en kaartspeel meer raak. Sit nou ’n rysie of pasta op. Voel die aartappels. Amper gaar? Nog nie. Dek dan solank die tafel. Voel weer die aartappels. Ja, nou is ons reg vir eet.
Roep die gaste nader en laat iemand vir julle ogies maak.
As jy alleen is vir die aand en deur al hierdie moeite gegaan het, net vir jouself – kontak my. Ons moet vriende raak. Al is jy ’n dogtertjie wat eintlik ’n seun wil wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie