Gratis grond kry gemengde reaksie
Gratis grond kry gemengde reaksie

Gratis grond kry gemengde reaksie

Dit is onbekend hoeveel die inwerkingstelling van hul tienpuntplan om die ekonomie uit die as te laat herrys gaan kos.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die hoëvlakpaneel oor die ekonomie het nie korrupsie in berekening gebring toe hulle koppe bymekaargesit het oor hoe om die land se ellende om te keer nie.

Mnr. Johannes !Gawaxab, die voorsitter van die paneel, het gister gesê dit was nie deel van die opdrag aan hulle om na die impak van korrupsie op die ekonomie te kyk nie.

Hulle het egter ’n aanbeveling gemaak vir die hervorming van die staatsdiens, sê hy.

Dit sluit volgens hom die versterking van strukture om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te bevorder in.

’n Paneellid, mnr. Vetumbuavi Mungundu, sê hulle maak ook ’n aanbeveling vir die verskerpte toepassing van regsreëls.

Dit sal wetstoepassingsliggame, soos die Teenkorrupsiekommissie, help om dié euwel harder te beveg, sê hy.

Me. Inge Zaamwani-Kamwi, ’n raadgewer van pres. Hage Geingob, het gesê die paneel se “fokus was rein om die ekonomie om te keer”.

!Gawaxab het ook gister tydens die bekendstelling van hul verslag by Staatshuis gesê hulle het nog nie die koste bereken vir die inwerkingstelling van hul aanbevelings nie.

Hulle is tans besig daarmee en sal binne tien dae terugvoering gee, sê hy.

‘Kopieer en plak’

Opposisiepartye het gister gesê die hoëvlakpaneel se aanbeveling van gratis grond aan almal in stedelike gebiede se informele nedersettings, is niks anders as ’n afskrif van húl aanbevelings nie.

Mnr. McHenry Venaani, die leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PMD), sê Namibië sou op ’n beter plek gewees het as Geingob die afgelope vyf jaar na hulle geluister het. “Dit is (’n) PDM- een Namibië, een erf-beleid. Kopieer en plak. So, ons verwelkom die idee. As HG tydens die laaste vyf jaar met my in gesprek getree het, sou hy ver gewees het.”

Mnr. Bernadus Swartbooi, die leier van die Landless People’s Movement (LPM), sê: “Hulle sluit nou aan by LPM se politieke en beleidstandpunt. Baie interessant dat die paneel wat deur Swapo se Hage aangestel is, ’n LPM-beleidsrigting na hom gooi.”

Die grondaktivis en leier van die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR), mnr. Job Amupanda, het gister gesê hy moet nog die dokument bestudeer.

Dr. Panduleni Itula, die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat, sê hy het in sy manifes verlede jaar voorgestel almal ouer as 21 moet ’n stuk grond teen N$1 000 ontvang.

Die ekonoom, mnr. Mally Likukela, het gesê die plan is nie ekonomies sinvol nie.

“Grond is ’n faktor van produksie en wie ook al dit bekom, moet ’n prys betaal en die prys vir grond is huur volgens basiese ekonomiese teorie. Om dit gratis weg te gee of te skenk, kom neer op verkwisting van hulpbronne en ’n koste vir die ekonomie.”

In die hoofstad alleen woon honderdduisende mense in informele nedersettings.

!Gawaxab meen hul aanbeveling sal die konstruksiebedryf ’n hupstoot gee.

Hy het beklemtoon die oordrag van eienaarskap moet wettig geskied.

Me. Lydia Amutenya, woordvoerder van die Windhoek-munisipaliteit, het gesê die hoofstad het na raming 420 000 inwoners in informele nedersettings.

Werkskepping

Mungunda sê die paneel beveel ’n een jaar lange internskap vir gegradueerdes aan in ’n poging om geskoolde werkloosheid aan te spreek.

Hy sê dit sal in samewerking met die private sektor gedoen word.

Om werkloosheid onder mense sonder formele opleiding aan te spreek, moet geleenthede binne die landbousektor ontgin word.

Dit is van kritieke belang, sê Mungunda, dat dié sektor bestand gemaak word teen die risiko’s wat klimaatsverandering bied.

Volgens !Gawaxab kan die houtskoolbedryf sowat 10 000 poste lewer.

Sou die regering nie hul aanbevelings in werking stel nie, sal werkloosheid en ongelykheid vererger, het !Gawaxab gewaarsku.

Zaamwani-Kamwi sê hulle is verbind tot die inwerkingstelling van die aanbevelings.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!