Gratis onderwys: Besware oor skryfbehoeftes opgeklaar
Gratis onderwys: Besware oor skryfbehoeftes opgeklaar

Gratis onderwys: Besware oor skryfbehoeftes opgeklaar

Die lyste van skoolvoorraad wat sommige skole versprei het, is glo bloot 'n gids vir onderwysers en skole oor watter tipe skryfbehoeftes leerders in verskillende grade benodig.
Kristien Kruger
Jemima Beukes – Terwyl sommige ouers kla dat die sogenaamde gratis onderwys in staatskole 'n klug is, het die mini­sterie van onderwys, kuns en kultuur bekendgemaak dat hy reeds in Maart 2021 sowat N$51 miljoen aan skole oraloor die land oorbetaal het om ­skryfbehoeftes en opvoedkundige materiaal aan te skaf.

Verskeie skole het lang lyste van skryfbehoeftes en skoolvoorraad aan ouers uitgereik wat hulle vir hul kinders moet koop – insluitend handboeke.

Me. Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur in die ministerie, het Maandag duidelikheid gebring oor die kwessie van die “wanopvattings” oor skryfbehoeftelyste wat tydens die vakansie versprei is.

Steenkamp het beklemtoon die lys dien bloot as 'n gids vir onderwysers en skole oor watter tipe skryfbehoeftes leerders in verskillende grade benodig.

Steenkamp sê skole mag nie enige minderbevoorregte leerder wegwys omdat hulle nie hierdie items het, of omdat hulle nie finansiële bydraes kan maak nie.



WAT IS GRATIS ­ONDERWYS?

Trouens, dis haar mening dat skole uit hul pad moet gaan om leerders te akkommodeer wat nie finansiële bydraes of skryfbehoeftes kan bekostig nie.

“As hulle dit nie kan bekostig nie, respekteer ons dit 100%; ons sal voorsien. Maar gratis onderwys word verkeerd verstaan.

“Dit neem nie die verpligtinge oor wat ouers teenoor hul kinders se opvoeding het nie. Dieselfde ouers wat bereid is om stewige fooie by privaat­skole te betaal, eis dat die regering vir alles betaal,” het sy gesê.

Volgens haar beteken gratis onderwys dat ouers nie onderwysers se salarisse, nutsrekeninge en die instandhouding van skoolgeriewe betaal nie. Deur skryfbehoeftes te koop, lewer hulle bloot 'n “minimale” bydrae tot hul kinders se opvoeding.

“Ons het 30 995 onderwysers in die land en minstens 27 000 is in diens van die staat; die regering betaal hul salarisse. By privaatskole betaal ouers die onderwysers se salarisse.

“Ons het 822 574 leerders in 2021 wat in koshuise gebly het en hiervan was 165 000 in staatskoshuise. Die regering het meer as 'n halfmiljard net aan spyseniering bestee. Ons betaal N$22 per kind per dag vir koshuise en ons vra nie waarheen hierdie geld gaan nie.

“Ons voed 450 000 leerders deur die skoolvoedingsprogram deur versterkte mielies te verskaf. Ouers betaal nie 'n enkele sent vir eksamenfooie nie. Ouers het 'n verpligting,” het sy gesê.



JUNIOR PRIMÊRE EN SEKONDÊRE LEERDERS SE SKRYFBEHOEFTES

Hoewel die regering die grootste deel van skryfbehoeftes voorsien, word volgens Steenkamp van ouers verwag om hierdie hulpbronne “aan te vul”, maar ouers moet beslis ook nie verplig word om skole van “Cobra-vloerpolitoer” of “toiletpapier” te voorsien vir die instandhouding van skole nie.

Volgens haar is die basiese skryfbehoeftes vir junior primêre vlak wat van ouers verwag word, slegs 'n liniaal, drie potlode, 'n uitveër, 'n skêr en die Mini Oxford-woordeboek.

Vir sekondêre leerders word van ouers verwag om hierdie basiese items plus 'n wetenskaplike sakrekenaar, wiskundestel en een of twee hardeband-oefenboeke te verskaf.

Die ander hardebandboeke soos uiteengesit in die skryfbehoeftelys moet deur die skole verskaf word.

“Ons sal nie die wiskundestel en wetenskaplike sakrekenaar verskaf nie; dis eenmalige betalings en 'n belegging in jou kind se opvoeding. Ouers kan hierdie items selfs maandeliks een vir een aankoop totdat hulle alles het.”



BRING KOPIEERPAPIER

Die aanvraag na kopieerpapier bly egter ononderhandelbaar, want die kopiëring van opvoedkundige materiaal neem 65% van die Universele Primêre Onderwys (UPE)-begroting in beslag.

“Ouers is nie onder enige verpligting om 'n blaailêer (Flip File) te koop as die leerder nog 'n boek het wat nie vol is nie. 'n Blaailêer van 50 tot 70 bladsye kos sowat N$75 – verwag ons regtig dat ouers dit moet koop?”



N$51 MILJOEN WORD SO TUSSEN STREKE VERDEEL

Van dié geld is minstens sowat N$36,3 miljoen reeds aan voorrade vir skole bestee. Tot dusver is Ohangwena die enigste streek wat sentrale verkryging en verspreiding van skoolbenodighede aan skole doen, terwyl in ander streke die voorraad direk na skole gestuur word.

Vanuit die N$51 miljoen, gaan sowat N$3,5 miljoen na die Erongostreek, N$2,4 miljoen aan Hardap, N$4 miljoen vir Kavango-Oos, N$3,5 miljoen vir Kavango-Wes en sowat N$1,7 miljoen gaan na die ||Karasstreek.

Sowat N$4 miljoen is uitgesit vir die Khomasstreek, sowat N$2,3 miljoen vir Kunene, N$5 miljoen vir Ohangwena en Omaheke sal sowat N$2,9 miljoen ontvang.

Die ander streke ontvang soos volg: Oshana N$4,7 miljoen, Oshikoto N$5 miljoen, Otjozondjupa N$3,7 miljoen, Zambezi N$3,2 miljoen, Omusati N$5 miljoen.

[email protected]

FOTO
Sowat N$36.3 miljoen is reeds op skoolvoorraad uitgegee. Foto Namibian Sun argief

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer