'Gratis water' kos honderde miljoene

NamWater sukkel “op onvolhoubare wyse” voort sonder die vergoeding vir waterdienste gelewer oor die afgelope twee jare van Covid-19.
Augetto Graig
Augetto Graig – Voorsiening van gratis water aan kwesbare gemeenskappe in informele nedersettings sedert April 2020 het munisipaliteite, dorpsrade en nedersettings se skuld aan NamWater tot 31 Desember 2021 bykans laat verdubbel.

Inligting verskaf deur NamWater se hoof van strategie en nuwe besigheidsontwikkeling, me. Kadiva Hamutumwa, dui dat landswye waterskuld in die tydperk met N$275,1 miljoen geklim het. Altesaam skuld plaaslike owerhede die nasionale waterverskaffer-staatsonderneming nou meer as N$564,9 miljoen.

Spesifiek skuld munisipaliteite NamWater nou N$145,5 miljoen – bykans N$100 miljoen meer as op 31 Maart 2020 toe die skuld op N$46,9 miljoen gestaan het. Hamutumwa se syfers dui dat NamWater in 2019 98% van die betrokke skuld kon invorder, in 2020 100% en in 2021, 95%.

Dorpsrade kon in 2020 net 80% van hul waterskuld delg en laas jaar net 50%. Kleiner dorpies vind terugbetaling nog moeiliker met 85% van skuld in 2019 betaal, teenoor 58% in 2020 en net 30% laas jaar. Dorpsrade se gesamentlike skuld het met N$154,2 miljoen aangegroei en staan tans op N$346,8 miljoen, terwyl nedersettings N$22,3 miljoen meer skuld vir water opgebou het en nou altesaam sowat N$72,6 miljoen skuld.

Nedersettings wat die meeste skuld, is Berseba, Tses en Witvlei; die dorpsrade wat die meeste agterstallig is, sluit Rundu, Katima, Otavi, Rehoboth en Okakarara in. In terme van munisipaliteite is Swakopmund en Keetmanshoop onder die groot debiteure, terwyl die hoofstad Windhoek die grootste skuld by NamWater het.

Windhoek se burgemeester het reeds vroeg vanjaar gesê die hoofstad skuld N$90 miljoen aan NamWater en het aan inwoners die vraag gestel of die munisipaliteit watervoorsiening maar moet afsny tot die skuld gedelg kan word. Dit het gevolg op 'n stadsraadresolusie in hul laaste vergadering van 2021 om sodanige toevoer teen einde Februarie op te skort.

Me. Sade Gawanas se nuutste plasing op sosiale media verlede week lui: “Ek is nie bereid om die burgemeester te wees wat water vir ons mees kwesbares in die samelewing afsny nie. Ek sal betrokke raak totdat ek 'n inskiklike plan het, en die raad raadpleeg. My hart is nie daar nie, ook nie my verstand of gees nie. Daarom gaan ons voort om betrokke te raak en 'n beter situasie vir die waterkwessie te vind.”

By navraag oor 'n oplossing het sy gesê: “Die oplossing hier is nie om alle watertoegang summier heeltemal af te sny nie, maar om alle belanghebbendes te raadpleeg en te betrek, sedert die besluit om af te sny verlede jaar geneem is. Ons kan die bestuurskomitee vra om die besluit nie uit te voer nie, totdat alle opsies uitgeput is,” het sy geantwoord.

Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling is die belanghebber na wie almal kyk vir 'n oplossing. Die uitvoerende direkteur mnr. Daniel Nghidinua het vandeesmaand aan Republikein bevestig dat die ministerie in 2020 bykans N$12,5 miljoen aan Stad Windhoek betaal het vir die eerste drie maande se gratis watervoorsiening, nadat die minister alle plaaslike owerhede opdrag gegee het om op dié wyse die uitbreking van die Covid-19-pandemie in Namibië te help bekamp.

Ander plaaslike owerhede was op soortgelyke wyse vir die gratis watervoorsiening vergoed, sê hy. “Die sentrale regering waardeer die samewerking en rol gespeel deur plaaslike owerhede, streeksrade en NamWater om toegang tot water te verseker en die ministerie bly verbind om hulpbronne te mobiliseer om die koste daarvoor te delg,” het hy gesê.

“Die hang egter af van beskikbaarheid van geld,” het hy gesê. Misbruik en vermorsing van die water moet stopgesit word, dring Nghidinua aan. Verder moet dié wat kan vir water betaal, sê hy.

NamWater se Hamutumwa sê die huidige stand van sake is onvolhoubaar en dat infrastruktuurontwikkeling en die vervanging van verouderde infrastruktuur tans nie kan voortgaan tensy betalings vir die water ontvang word nie. Verder word bedryfskoste belemmer en sonder 'n oplossing sal die instansie nie veel langer aan sy mandaat kan voldoen nie, sê sy.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!