Grens-chaos weens aandklokreu00ebl
Grens-chaos weens aandklokreu00ebl

Grens-chaos weens aandklokreël

Die groot opeenhoping van vragmotors by Suid-Afrikaanse grensposte was gister steeds 'n probleem.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



'n Tekort aan noodsaaklike voorrade soos kos, farmaseutiese produkte en voertuigonderdele word op die vooraand van die feesseisoen by handelaars in Namibië ervaar weens groot opeenhopings van vragverkeer by die suidelike grensposte.

Dit het verlede week Maandag ontstaan nadat die Suid-Afrikaanse ­departement van binnelandse sake 'n aandklokreël by grensposte ingestel het wat tussen 24:00 en 04:00 geld.

Asof dit nie erg genoeg was nie, het 'n kragonderbreking later die week by die Nakop-grenspos verder tot die probleem bygedra omdat vrag­kontrolerings nie kon geskied nie.

Vrydag was die ry waarin honderde lorries voor dié grenspos gewag het om vrag na Namibië te bring, meer as 10 km lank.

Mnr. Stephan Terblanche, uitvoerende hoof van FP du Toit Transport, sê mnr. Jonas Sheelongo, adjunk- uitvoerende direkteur van vervoer in die ministerie van werke en vervoer, is oor die krisis ingelig en versoek om op regeringsvlak in te gryp.

“Een van die grootste frustrasies van Covid-19 (vir vervoerders) was nie die pandemie nie, maar die staatsmasjinerie se onvermoë om besluite vinnig te kommunikeer,” sê Terblanche.

Die aandklokreël is Vrydag gelig, sê hy, maar teen gister was die ry by Nakop steeds baie lank.

Mnr. Jaco Snyders, 'n Namibiese vragmotorbestuurder wat vir E&H Transport mangaan tussen Kathu in die Noord-Kaap en Ariamsvlei vervoer vanwaar dit per trein na ­Lüderitz gaan, sê die gemoedere onder lorriedrywers loop hoog.

“Dis 'n gemors. Die ouens (lorriedrywers) is vol draadwerk, want hulle is geïrriteerd. Hier is nie kos, water en toiletgeriewe nie.

“Ek wag al weer 23 uur om deur die grens te gaan, nadat ek Vrydag ook so lank moes wag. Die ouens se geduld is op. Sommige lorriedrywers wil nie wag nie en druk voor in die ry in. . . Hier het al 'n bakleiery uit­gebreek,” het hy gister vanaf Nakop aan ­Republikein gesê.

Terblanche sê die situasie by Vioolsdrift was soortgelyk as by Nakop.

Hy sê omdat lorriedrywers so lank wag vir die uitslae van Covid-19-toetse by die Botswana-grensposte, maak die meeste vragmotorbestuurders van die grenspos by Nakop gebruik as hulle vrag vanaf Gauteng of ­KwaZulu-Natal na Namibië bring, al is dit 400 km verder om Upington om te ry.

Botswana se ministerie van gesondheid en welsyn het egter Saterdag 'n kennisgewing uitgereik waarin mnr. Malebogo Kebabonye sê die regering het besluit om tot 12 Desember geen Covid-19-toetse by grensposte te doen nie.

“Die opheffing is om die vrye vloei van noodsaaklike goedere na Bo­tswana en ander lande in die streek te bewerkstellig,” lui die kennisgewing.

Vragmotorbestuurders moet wel kan toon dat hulle nie langer terug as 72 uur, negatief vir Covid-19 getoets het nie.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!