Griekwa-senter het kenners gaande
Griekwa-senter het kenners gaande

Griekwa-senter het kenners gaande

Rugby
Hendrik Cronjé - Skryf die naam Tertius Kruger neer as 'n moontlike Springbok. Want as Pieter Bergh, hulpafrigter van die Griekwas, se lof vir dié speler 'n aanduiding van sy potensiaal is, dan staan Springbok klaar agter dié jongeling se naam geskryf.

Willie le Roux was in 2013 Griekwas se laaste Bok en die laaste speler uit die sogenaamde kleiner unies wat toetsrugby gespeel het.

Bergh se Facebook-inskrywings oor Kruger sê daar is nou weer 'n Griekwa op die toets-horison.

Die 24-jarige senter beleef 'n droomseisoen. Hy is as Griekwas se speler van die jaar aangewys. Kruger is ook agterspeler van die jaar en die spelers se speler van die jaar vir 2017 gekies.

“Ek het vanjaar die voorreg gehad om Tertius by Griekwas af te rig,” skryf Bergh.

“Ek het lanklaas in my lewe so 'n talentvolle rugbyspeler gesien. Van sy eerste oefening by ons in November 2016 het ek geweet hierdie is 'n spesiale speler met hope talent.”

Kruger het sy eerbewyse nie volgens Bergh net aan sy natuurlike talente te danke nie.

“Hy het hard gewerk deur die jaar en is baie professioneel. Jy kry nie meer baie senters wat die bal in twee hande dra, goeie voete, vaart en krag én die vermoë het om onder druk na albei kante goeie aangeë te maak nie.

“Ek sien 'n toekomstige Springbok.”

Kruger was 'n leenspeler by Griekwas en moet aan die einde van die Curriebeker na die Cheetahs terugkeer.

“Ek hoop hy kry genoeg speelkans daar. Indien nie, sal ons hom altyd met ope arms in Kimberley terug verwelkom.”

Bergh glo sy blondekop-senter is goed genoeg om later dié maand, nog as 'n Griekwa-speler soos die geval in 2013 met Le Roux was, in die nasionale groep vir November en Desember se Bok-toer na Europa ingesluit te word.

Dis moontlik, maar onwaar­skynlik. Die Bok-keurders sal hom waarskynlik eers minstens op Pro14-vlak wil sien, voordat hulle hom enigsins betrek.

Om sy punt te staaf, het Bergh 'n video van nege minute se hoogtepunte van Kruger se spel in die Griekwa-trui by sy Facebook-inskrywing oor die bonkige senter geplaas.

Hy het ook 'n skermgreep van Kruger se Curriebeker-statistieke tot voor die naweek se wedstryde – waar dit met ander senters soos Rohan Janse van Rensburg en EW Viljoen s'n vergelyk word – by sy inskrywing gevoeg.

Daarvolgens het Kruger baie goed gevaar. Hy staan nie vir een van hulle terug nie.

Bergh het aan Rapport gesê hy het die inskrywing geplaas omdat mense nie altyd die spelers by die sogenaamde klein unies raaksien nie.

Hy is nie die enigste huidige Curriebeker-afrigter wat hom tot sosiale media gewend het om Kruger se lof te besing nie.

Die Griffons-afrigter, Oersond Gorgonzola, voorspel self groot dinge vir Kruger.

“Maak hom 'n Bok,” het Gorgonzola se Facebook-inskrywing op SupaRugby se blad gelui.

“Neem hom saam op die einde van die jaar se toer. Hy is die mees afgeronde buitesenter in Suid-Afrika.”

Selfs 'n voormalige afrigter van die Westelike Provinsie, Kobus van der Merwe, raak opgewonde oor Kruger se spel.

“Hy is my opwindendste agterspeler van die jaar!!!” het Van der Merwe se inskrywing op Bergh se Facebook-blad gelui. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!