Grieselrige geskiedenisse van kwaad

In die omgewing van Loch Ness in Skotland is vele plekke met verstommende stories.
Pedro Vorster
Pedro Vorster – Die historiese Fort George, naby die Skotse kusdorpie Ardersier, is behalwe 'n militêre basis ook 'n oorlogsmuseum. As wapens, propaganda en militêre regalia jou interesseer, moet jy die museum besoek.

Soos te wagte word Skotse eer, dapperheid en durf hier besing. Nogtans vind die Britte se nederlaag by Magersfontein 'n uitstalruimte teen een muur waar vertel word van die 1899 Boere-oorlog-veldslag toe die Skotse troepe hier deur die Boere afgemaai was. Die slagting was so groot dit staan as die “Swart week” in die Britse pers bekend.

Behalwe ou en nuwe handwapens word geskiedkundige items, soos Hitler se persoonlike korrespondensiekissie dramaties op 'n Nazi-vlag uitgestal met 'n Luger-pistool (nie syne nie).

In 'n meegaande brief, onderteken deur Britse generaals, word kortliks verslag gedoen oor die diktator se laaste ure: “In hierdie kissie is Hitler se persoonlike private korrespondensie gehou en hy het dit gebruik gedurende die oorlog tot sy dood in die bunker by die Kanselary, Berlyn. Ek het die boks op die vloer gevind van Hitler se slaapkamer in die bunker. 'n Groot kluis oorkant die bed was oopgebreek deur die Russe en die boks op die vloer was ook deur hulle oopgebreek.

“'n Jong Duitse hospitaalsoldaat (wat perfek Engels kon praat) het aan my gesê hy was die Führer se persoonlike versorger en dat Hitler altyd hierdie boksie met hom rondgedra het.

“Hy het ook gesê dat hy gehelp het om die Führer se liggaam van sy slaapkamer in die bunker boontoe te dra tot waar die liggaam verbrand is, omtrent 45 m van die ingang van die bunker waar hy 'n hoop as aan my gewys het waar dit sou plaasgevind het.

“Ek was vergesel deur Generaal Sir John Brown en Generaal Sir Kenneth Buchanan en ek het die boks van die bunker geneem in die eerste deel van Mei 1945, baie vinnig nadat die Russe die Kanselary ge-okkupeer het.” (Vrylik vertaal, P Vorster)

Dié nota is onderteken deur Sir Kenneth en Sir John Brown, maar laasgenoemde se handtekening lyk meer na Anderson as Brown.



SPOOKHUIS DEUR DIE EEUE

Die misterieuse Loch Ness gee sy geheime ook suinig weg.

Van die dorpie, Fort Augustus, aan die westelikste oewer van Loch Ness, swaai deur Inverfarigaig (vra vyf Skotte die uitspraak en kry tien antwoorde) tot voor Foyers waar die berugte afgebrande Boleskine herehuis staan.

Die makabere reputasie van die huis begin in die 10de eeu toe 'n kerk daar sou afgebrand het met al die diensgangers binne. Op die fondasies word die eerste Boleskine-huis gebou.

Die berugste eienaar van die huis was die towenaar Aleister Crowley. Hy betrek die huis in 1899, die donker Magersfontein jaar. Rondom sy bedrywe in en om die huis is 'n menigte grusame staaltjie opgedis totdat feit en fiksie nou kraaines geword het.

Die magiese verbintenis word voortgesit toe Jimmy Page die huis aankoop. Hy is die hoofkitaarspeler van die wêreldberoemde rockgroep Led Zeppelin en is behep met die okkult.

Die huis brand af.

Daarna verwissel die huis weer en weer van eienaars en die laaste besitters omskep dit in 'n hotel. Die egpaar ervaar geen bonatuurlike gebeure nie, altans vererg hul bloedig vir sulke gerugte, maar in 2015, terwyl hulle terugkom van inkopies, staan die huis alweer in ligte laaie.

Die inhoud van die huis het hierna net vir oulaas weer eens aan die brand geslaan. Dié keer is die struktuur totaal vernietig. Daar is nou 'n vereniging gestig en besoeke aan die uitgebrande dop moet deesdae vooraf bespreek word.

Dit was laatmiddag en die atmosfeer was grou toe ons drie brawe manne die bult uitklim na die berugte herehuis. Agter ons het die somber, diep Loch Ness gelê en brou. Oorkant die huis was dit doodstil in die eeuoue kerkhof langs die nou pad.

Twee woonwaens het in Boleskine se agterplaas gestaan. Ek het gaan klop. Hard. Genoeg om die dooies te wek.

Niemand het oopgemaak nie.


FOTO’s
Die Luger-pistool, insignia, kissie en geskiedkundige nota in Fort George se militêre museum. Foto's Pedro Vorster

Die bouwerk aan Fort George het so stadig gevorder dat die fort met voltooiing verouderd was en geen kanon ooit afgevuur is nie.

’n Voorstelling van die ou dae in die Skotse weermag toe man, vrou en baba kwartiere kon deel.

By Fort Augustus – lankal sonder fort – word die Kaladoniese waterweë deur middel van sluise tot op Loch Ness se watervlak gebring.

Die begraafplaas langs Loch Ness is vol geskiedkundige oorlogsgrafte.

Die Boleskine spookhuis kry nuwe lewe met wolhaarstories met baie wolf maar weinig byt.

Jimmy Page, kitaarspeler van die legendariese rockgroep Led Zeppelin, in die middel-1970's. Foto ledzeppelin.com

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!