Gru00fcnau-moordverdagtes bly in aanhouding
Gru00fcnau-moordverdagtes bly in aanhouding

Grünau-moordverdagtes bly in aanhouding

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - ‘n Bejaarde pa en sy middeljarige seun bly in aanhouding nadat hulle daarvan beskuldig word dat hulle ‘n 47-jarige man by Grünau vermoor en van sy liggaam ontslae geraak het.


Assistent-landdros Bernolda Swartbooi het gister in die Karasburg-landdroshof gelas dat mnr. Jan Willem Frederick Thirion (82) en sy 52-jarige seun, mnr. Gideon Joshua Thirion, in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning. Sy het die saak tot 18 Februarie 2021 vir verdere ondersoek uitgestel, asook vir hulle om regsverteenwoordiging te bekom.

Albei Thirions word daarvan beskuldig dat hulle vir mnr. Jacobus Muisoor vermoor het, asook van dwarsboming van die gereg nadat hulle glo van Muisoor se liggaam op die pad tussen Grünau en Karasburg ontslae geraak het.

Mnr. Willem Thirion het op drie ander klagte verskyn wat verband hou met die ootredering van die wet op vuurwapens en ammunisie.

Mnr. Kasale Fourie het vir die staat verskyn.

Volgens die Namibiese polisie se waarnemende streekskommissaris in die ||Kharasstreek, adj.komm. Tauno Hamukoto, het die 82-jarige beskuldigde na bewering vir Muisoor by Grünau doodgeskiet.

Thrion het na bewering sy seun wat op Karasburg woon, gebel om hom te help om die liggaam te vervoer. Hulle het glo verlede Maandagoggend van die liggaam sowat 20 km buite Grünau op die pad na Keetmanshoop ontslae geraak.

“Die liggaam is omstreeks 02:25 deur ‘n motoris gevind. Dit blyk of die oorledene deur ‘n voertuig raakgery is, maar met nadere ondersoek het die polisie verskeie gate in sy maag gesien waaruit bloed gekom het,” het Hamukoto gesê.

Hy sê volgens die nadoodse ondersoek wat in die Keetmanshoop-staatshospitaal gedoen is, het die resultate aangedui dat die gate soortgelyk aan skietwonde is - spesifiek van ‘n haelgeweer.

“Ons het ‘n span speurders en die spesiale reserwemag gestuur om ondersoek in te stel en hulle glo die oorledene is deur die verdagte geskiet,” het hy gesê.

Boonop is die moordwapen glo in die plafon van mnr. Willem Thirion se huis op Grünau gevind.

-[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer