‘Groei’ vir 2019 ’n skrale 0,51%
Elvira Wood - Aan die einde van 2019 verwag ekonome dat die land se ekonomie met nét 0,51% gaan groei.
Dit is die laagste vlak tot nog toe dié jaar wat die 38 ekonome wat aan Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem, voorspel het.
Boonop het hulle dié voorspelling gemaak voordat die land in die duister gedompel is weens beurtkrag.
Dié groeivooruitsig is beduidend laer as die 1,31% wat hulle in Februarie voorspel het.
Die standaard-afwyking op die voorspelling is ’n skamele 0,34, wat wys dat die groep ekonome se verwagtinge basies ooreenstem.
Wat verder kommerwekkend is, is dat ekonome ook hul vooruitsig vir groei in 2020 sedert die begin van die jaar beduidend afwaarts aangepas het.
Waar hulle in Januarie 1,9% groei vir 2020 voorspel het, voorspel hulle nou net 1,2%.
Dié laer groeisyfers is in lyn met wat die tesourie ook voorspel.
Tito Mboweni, minister van finansies, het in Oktober met die voorlegging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gesê die tesourie verwag nou groei van net 0,5% vir die jaar.
Dit is ’n drastiese aanpassing teenoor die 1,5% wat hy nog aan die begin van die jaar voorspel het.
Die Reserwebank verwag steeds groei van 1%, terwyl die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service 0,7% voorspel en Standard & Poor’s Global Ratings 1,6%.
Die Wêreldbank het ook in Oktober sy groeivooruitsig vir die land van 1,3% tot 0,8% aangepas.
Elke maand moet die ekonome voorspellings oor 14 ekonomiese veranderlikes maak.
Die voorspellings gee ’n goeie riglyn van wat in die ekonomie kan gebeur.
Ondanks die donker prentjie wat ekonome vir die ekonomie skets, het hulle nie enige beduidende aanpassings gemaak wat betref wisselkoerse nie.
Ekonome verwag tans dat die rand teen die einde van die jaar teen R14,74 teenoor die dollar sal verhandel. Hulle het die afgelope twee maande dié bedrag met net 2c aangepas.
Dit is wel beduidend swakker as die R13,80 teenoor die dollar wat hulle in Februarie voorspel het.
Waar ekonome donker dae vir die rand sien, voorspel hulle steeds ’n goeie toekoms vir die goudprys.
Hulle verwag dat goud teen die einde van die jaar teen $1 462,89 per fynons sal verhandel. Dit is effens laer as die $1 463,47 per fynons wat hulle in Oktober voorspel het.
Die goudprys het in Augustus reeds die hoogte ingeskiet vanweë kommer internasionaal oor die handelsverhouding tussen die VSA en China.
Dit het op 8 Augustus op $1 500 per fynons op die hoogste vlak in ses jaar verhandel. Dit het sedertdien effens teruggesak en verhandel teen sowat $1 463 per fynons.
In Februarie het ekonome nog verwag dat goud teen die einde van die jaar teen $1 310,36 per fynons sou verhandel.
Die gemiddelde verwagte olieprys is nou $62,14 per vat en die gemiddelde verwagte inflasiekoers is 4,43%.
Ekonome verwag nou ’n tekort op die lopende rekening van R165,10 miljard. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie