Groen lig vir 2de, 3de dosisse; net byeenkomste verklein
Groen lig vir 2de, 3de dosisse; net byeenkomste verklein

Groen lig vir 2de, 3de dosisse; net byeenkomste verklein

Om ingeënt te wees, beteken die kans is minder dat jy die virus aan ander gaan oordra en sodoende beskerm jy diegene om jou.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Inwoners wat AstraZeneca, Pfizer en Johnson as entstowwe teen Covid-19 ontvang het, kan net soos in die geval van Sinopharm vir ’n derde bykomende dosis van dieselfde entstof gaan.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula mag die derde entstof egter ook verskillend van die eerste twee dosisse wees.

Met verwysing na herinfeksies sê Shangula sowat 95% van mense produseer teenliggaampies twee weke nadat hulle die siekte opgedoen het. Dis moontlik dat dié teenliggaampies mettertyd afneem, wat die persoon weer vatbaar vir infeksie maak.

“Sommige mense mag moontlik in die eerste plek bloot nie ’n onfeilbare reaksie van teenliggaampies ontwikkel het nie,” het hy gesê. Volgens Shangula is geen van die entstowwe wat teen Covid beskikbaar is, 100% doeltreffend om oordrag of infeksie te keer nie en is daar altyd ’n klein risiko dat sommige mense wat ten volle ingeënt is, weer besmet kan word.

“Dis ’n deurbraak-infeksie en heeltemal normaal om te gebeur. Dis belangrik om die beperkinge van entstowwe te verstaan. Geen entstof bied volledige beskerming aan elkeen wat dit ontvang nie.”

Hy het beklemtoon immunisering kan iemand se lewe red, met Covid-19-entstowwe wat sterk beskerming teen ernstige siekte, hospitalisasie en sterfte bied.

“Om ingeënt te wees, beteken die kans is minder dat jy die virus aan ander gaan oordra en sodoende beskerm jy diegene om jou.”

Shangula sê die aktiewe gevalle het drasties met 95,2% gestyg, met die aantal positiewe gevalle wat die afgelope twee weke verdubbel het. Sterfgevalle verteenwoordig ’n afname van 69%, terwyl die aantal hospitalisasies relatief laag bly. Met 25,9% van inwoners wat reeds ’n eerste dosis entstof ontvang het, sê die minister die daaglikse opname van immuniserings het met 10% gestyg.

Die nuwe regulasies om die pandemie hok te slaan, tree om middernag op 16 Desember in werking en geld tot 15 Januarie aanstaande jaar. Sou die epidemiologiese profiel van die siekte versleg, sê Shangula, sal die maatreëls op ’n vroeër datum herevalueer word.

“Ons het ’n waarnemingstydperk van 30 dae aanvaar. Die benadering het goed gewerk in ons reaksie tot die pandemie.”

[email protected]

(BLOKKIE)

VAKANSIETYD SE COVID-REËLS LYK SO:

1. Nie meer as 200 mense mag saamtrekke bywoon nie.

2. Die aandklokreël word nie heringestel nie.

3. Regulasies betreffende alkohol bly onveranderd.

4. Kontaksport mag plaasvind, maar nie deur meer as 200 toeskouers bygewoon word nie.

5. Regulasies betreffende openbare vervoer bly onveranderd. Een miljoen maskers gaan aan die openbare vervoersektor uitgedeel word.

6. Covid- en ander begrafnisse mag nie deur meer as 200 mense bygewoon word nie.

7. PCR-toetse mag nie ouer as 72 uur wees wanneer mense die land binnekom nie. Dit tel vandat die depper geneem is.

8. Ewekansige (“random” op Engels) PCR-toetse sal gedoen word op mense wat die land van elders af binnekom. Van die toetse sal aan genomiese volgordebepaling onderwerp word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!