Groen lig vir entstof afgewag
Groen lig vir entstof afgewag

Groen lig vir entstof afgewag

Voorbereiding vir die stoor en verspreiding van Covid-19-entstowwe in Namibië is onderweg.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Entstof sal na Namibië versend word die oomblik wanneer die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) die land se Entstof-ontplooiingsplan die groen lig gee.

Die plan word tans hersien, sê die adjunk- ­uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste en voorsitter van Namibië se nasionale taakspan vir ­entstowwe, me. Petronella Masabane.

Intussen het dr. Kalumbi Shangula, minister van gesondheid en maatskaplike dienste, gister gesê 'n besending AstraZeneca-entstof kan die land reeds so vroeg soos middel of laat Februarie bereik.

Hierdie boodskap is volgens hom Dinsdag van Covax, die Covid-19-entstof Globale Toegangsgeriewe, ontvang.

Die aflewering is onderhewig aan die WHO se noodgebruiklys (EUL).

Pres. Hage Geingob het gister gesê hy is bereid om in die openbaar die eerste persoon te wees wat die entstof ontvang.

Namibië sal volgens ­Shangula entstowwe vir minstens 60% van sy bevolking aanskaf na die aflewering van middels vir die 20% waarvoor reeds gedeeltelik betaal is.

'n Covid-19-entstoftaakspan evalueer volgens die minister die jongste inligting en opleidingsbehoeftes van gesondheidswerkers, asook alle regulerende, wets- en veiligheidsraamwerke om 'n hoëgehalte immuniseringsprogram te verseker. Hy het gesê die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) sal goedkeuring van entstowwe op die sneltrajek plaas.

In 'n poging om uiteindelik 80% van die bevolking in te ent, sê Masabane die ministerie sal Covax en die Afrika Mediese Voorrade Platform benut en is in bilaterale gesprekke met ­regerings van lande wat ent­stowwe produseer, asook direk met vervaardigers.

“Covax ken 'n sekere aantal dosisse van die entstof aan 'n land toe. Die land kan dan kies om sy totale toegekende deel of 'n deel daarvan te koop,” het Masabane verduidelik.

Die toekenning van dosisse aan lande is gebaseer op voorrade van vervaardigers.

Volgens haar het Covax beduidende voorrade van vervaardigers ontvang.

“Dit is hul verpligting en die rede vir die bestaan van geriewe om gelyke verspreiding te verseker.”

Masabane erken Namibië kan moontlik nie dadelik alles kry wat hy wil hê nie, maar die klem is steeds op gelykheid.

“Om dit in perspektief te plaas, ons kan nie net na die aantal toegekende dosisse kyk om te oordeel of ons 'n billike ooreenkoms kry nie. Ons moet na persentasie dosisse en die teikenbevolking kyk.”

Voorbereidings vir die stoor en verspreiding van ­entstowwe in Namibië is “baie beslis” aan die gang, het Masabane verseker. Ook is daar steun van die private sektor om waar nodig infrastruktuur soos ultra kouegeriewe beskikbaar te stel.

“Ons het 'n goed gevestigde ­immuniseringstelsel en -infrastruktuur vir kindersiektes. Ons moet nou tot die volwasse ­teikengroepe aanpas.”

Volgens Masabane is die teikenbevolking uitgestippel en opgedeel in fases ingeval die teikengroep nie almal ingeënt kan word nie. Shangula het herhaal gesondheidswerkers in die voorste linie en persone wat die risiko loop om ernstig siek te word of te sterf, sal eerste ingeënt word.

“Die getalle, stelsel en benadering wat deur die tegniese span voorgestel is, word deur die WHO, Unicef en Gavi (Entstof Alliansie) geëvalueer en sal daarna afgeteken word. Dit sal aangekondig word sodra dié prosesse voltooi is.”

Met verwysing na die Afrika-unie se beskikbaarstelling van 1,5 miljard dosisse aan lidlande, sê Masabane Namibië het reeds begin om vir die hulp aansoek te doen. “Wat ons ook al van welke bron ontvang, sal deel van die nasionale veldtog vorm.”

Masabane sê Namibië is ontvanklik vir enige entstof wat aan streng internasionale en plaaslike gehaltebeheer voldoen.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!