Groen vingers
Groen vingers

Groen vingers

[email protected]
Sanet de Waal
Leandrea Louw

Die Wêreldvoedseldagvieringe is vanjaar in Utuseb aangebied; 'n dorpie ongeveer 40 kilometer vanaf Walvisbaai – diep in die woestyn - geleë.

Ten spyte van die warm en winderige weer was dit werklik 'n vreugdevolle geleentheid. Tydens die toesprake is verbysterende syfers bekend gemaak.

Neville Andre, die goewerneur van Erongo, het gesê volgens voorlopige bevindings van 'n studie wat ná die droogteseisoen van 2012-’13 gedoen is, is daar omtrent 330 925 mense wat voedselonsekerheid ervaar, terwyl 447 577 mense matige voedselonsekerheid en 859 898 mense voedselveiligheid ervaar. Voedselonsekerheid kom meer algemeen in die noordwestelike streke voor, hoofsaaklik as gevolg van chroniese armoede en droogtes.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies het gesê ongeveer 3 miljard mense wêreldwyd kan nie 'n gesonde dieet bekostig nie.

Wat ek uit hierdie vieringe geneem het, of waarop die klem gelê is, is dat ons moet terugkeer na ons oorsprong om ons eie voedsel te verbou.

Namibië voer ongeveer 70% van sy voedsel in, en aangesien ons 'n droë klimaat het, kan ons allerhande kruie, groente en vrugte plant.

Net hier in Walvisbaai, by die Walvis Bay Child and Family Centre, is “differently abled” individue verantwoordelik vir 'n tuin met spinasie, kruie en ander groente.

Ek het al verby talle private wonings met kweekhuise geloop en daar is 'n olyfboomplantasie buite Walvisbaai. Ons het ook al die geleentheid gehad om pampoene uit ons tuin te oes, wat bewys ondanks die strawwe klimaat waarin ons ons bevind hier langs die kus, ons ons eie vrugte en groente kan groei.

'n Eenvoudige avakodo kan soms jou linkernier kos, maar miskien moet jy jou eie groei? (’n avo, nie ’n nier nie) Hoeveel sal dit jou kos? YouTube is vol wenke en truuks oor hoe om jou eie kos te kweek; as jy nie weet waar om te begin nie.

Ek het onlangs weer die geleentheid gehad om by die Twaloloka Aid Support & Kindness (TASK)-organisasie aan te sluit wat elke Maandag, Woensdag en Vrydag meer as 400 kinders van Narraville en Kuisebmond voed.

Teen hierdie tyd ken die kinders die wit Landi wat drie keer per week die sop en brood aflewer. Sodra hulle die Landi sien, gryp hulle hul bakkies en hardloop na die plek waar dit uitgedeel word. Ek kyk rond en sien hierdie kinders se gelukkige gesiggies, hoe hulle hul vingers aflek (want dis sommer lekker sop) en ek besef hoe kos so 'n groot verskil in iemand se lewe kan maak. Veral in 'n kind se lewe, maar die meeste van ons kan dit nie eens bekostig om ‘n gesonde maaltyd te koop met die nodige voedingwaarde nie.

Hoewel ek nie eens 'n gewone huisplant aan die lewe kan hou nie, het ek gelukkig 'n man gehad wat groen vingers het, so kom ek daag jouself (en myself uit) liewe leser, laat ons begin belê in tuine in ons agterplase en terugkeer na waar ons vrugte en groente tussen ons bure uitdeel.

Die Covid-19-pandemie het beslis ook die toestand van voedselsekerheid benadruk.

As al hierdie redes jou nie oortuig het om jou hande bietjie vuil te maak nie, is daar werklik geen beter terapie as om in 'n tuin te werk nie!

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer