Groep vir Wêreldbeker-stryde neem vorm aan

Divan Rossouw en Renaldo Bothma is twee van die opspraakwekkende insluitings.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Afrigter Phil Davies se Namibiese nasionale rugbygroep met die oog op die naderende kwalifiserende Wêreldbeker-veldtog maak gewis vir interessante leesstof.

Die Wallieser het 'n sterk oefengroep van 34 spelers byeen geroep wat sal voorberei vir die 2018 Rugby Afrika Goue Beker-reeks waarvan die wenner ook die vasteland se verteenwoordiger by die 2019 Wêreldbeker in Japan sal wees.

Vyftien plaaslike spelers van die Windhoek Draught Welwitschias, saam met altesame 19 spelers wat hul rugby in Suid-Afrika of Europa speel, is in die oefengroep ingesluit.

Namibië begin sy aanslag op 16 Junie met 'n tuiswedstryd teen Uganda. Dit word op die volgende twee naweke gevolg deur 'n tuiswedstryd teen Tunisië, wat in 2017 swak gevaar het, en 'n wegwedstryd teen Marokko, wat uit die B-afdeling bevorder is.

Die tradisionele sterkste kompetisie word in die wegwedstryd teen Peter de Villiers se Zimbabwe-span (weg op 4 Augustus) en ter afsluiting teen Kenia in Windhoek op 18 Augustus verwag.

Afrika se regstreekse kwalifiseerder sal in 'n Wêreldbeker-groep saam met die titelhouer Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Italië en die repechage-wenner geplaas wees.

Vir buitestanders sal die klaarblyk­like uittrede van losskakel Theuns Kotzé straks die mees opsigtelike verandering wees aan die groep wat in 2017 die Afrikabeker vir die vierde jaar op 'n streep gewen het.

Kotzé is Namibië se rekordpuntemaker (430 punte in 40 toetse) en 'n veteraan van twee Wêreldbekers, terwyl sy taktiese skopvoet en ­rugbybrein altyd 'n diep doring in die vlees van die ander Afrika-spanne was.

Sedert verlede jaar het Davies egter vir Cliven Loubser in toetse begin blootstel en die jongman het sonder uitsondering sy kanse in die beginspan aangegryp. Die opgang van PW Steenkamp vir die 2018 Welwitschias het ook sy insluiting bevestig.

Straks die mees opwindende nuweling is Divan Rossouw, wat vanjaar in Superrugby as vleuel vir die Bulls deurgebreek het. Die oudspeler van Windhoek Gimnasium en die nasionale o.20's se fokus op sy studies by Tuks om hom as 'n geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer, het tevore in die pad gekom wanneer Namibië hom op toetsvlak wou betrek. Met sy ondervinding teen die Waisake Naholos van die rugbywêreld sal ondersteuners lippe aflek om te sien wat hy vir Namibië kan uitrig.

Renaldo Bothma se naam verskyn ook op die lys, hoewel die voormalige nasionale kaptein baie het om te bewys voordat hy weer die toetstrui sal aantrek. Die agtsteman van Harlequins in Londen is op die herstelpad nadat hy vanjaar sy linkerarm vir die derde keer gebreek het en Jan Publiek wonder openlik of sy beste rugbydae verby is.

Namibië het boonop nog altyd 'n oorvloed aan losvoorspelers van internasionale gehalte gehad en die kompetisie vir plekke sal opnuut straf wees. Leneve Damens, wat vanjaar as kaptein van die Welwitschias uitstaande spel lewer, en selfs Adriaan Booysen se weglating laat die wenkbroue lig, maar ten minste is min aanspraakmakers ooit verder as 'n foonoproep weg.

Damens, met nege toetse agter sy naam, en nog drie staatmaker-snellers van die vorige Wêreldbeker in David Philander, Johann Tromp en Russell van Wyk se fokus intussen sal wees om in die SuperSport uitdaagreeks met goeie vertonings te wys dat hulle onmisbaar vir die toetsspan se groot wedstryde moet wees.

Philander het verlede jaar vier drieë in sy drie Afrikabeker-toetse gedruk en was deurentyd giftig op die aanval, terwyl Tromp se rekord van 16 drieë in 34 toetse ook vanself spreek.

Talle posisies wemel van opsies en met die moontlikheid van beserings of die werklikheid van professionele rugby dat spelers soms net vir sekere wedstryde vrystelling kry, kan openinge onverwags geskep word vir aanspraakmakers wat hulle tans buite die groep bevind.

Na verneem word, sal Davies komende Donderdag in Windhoek aankom. In die voorlopige beplanning is 'n oefenkamp op Stellenbosch vir sowat 'n week lank vroeg in Junie genoem om die nasionale groep as 'n eenheid saam te snoer.

Die spelersgroep (klub en getal toetse tussen hakies):

Heelagters en vleuels: Chrysander Botha (Kudus, 49), Divan Rossouw (Blou Bulle, 0), Gino Wilson (Western Suburbs, 10).

Senters: Darryl de la Harpe (Western Suburbs, 40), Johan Deysel (Sharks, 17), Janry du Toit (Wanderers, 0), JC Greyling (Wanderers, 23), Lesley Klim (Doncaster, Engeland, 7), Justin Newman (Pukke, 7).

Losskakels: Cliven Loubser (Tuks, 6), PW Steenkamp (Pukke, 0).

Skrumskakels: Eugene Jantjies (Western Suburbs, 61), Helarius Kisting (Unam, 4), Damian Stevens (Sharks, 15), Wihan von Wielligh (Pukke en Luiperds o.21, 0).

Losvoorspelers: Renaldo Bothma (Harlequins, Engeland, 15), Wian Conradie (Universiteit Johannesburg, 10), Rohan Kitshoff (Wanderers, 37), Janco Venter (Maties/Jersey-rugbyklub, 19).

Slotte: Muharua (Max) Katjijeko (Unam, 5), Ruan Ludick (Wanderers, 12), Adriaan Ludick (Blou Bulle o.21, 0), Johan Retief (Pukke, 3), Mahepisa Tjeriko (Unam, 8), Tjiuee Uanivi (London Scottish, 21), Pieter-Jan van Lill (Bayonne, Frankryk, 45).

Stutte: Johannes (Aranos) Coetzee (Vrystaat Cheetahs, 14), Abel (AJ) de Klerk (Wanderers, 21), Desiderius Sethie (Unam, 0), Nelius Theron (Pukke, 2), Casper Viviers (Bobigny, Frankryk, 29).

Hakers: Obert Nortjé (Unam, 6), Louis van der Westhuizen (Pukke, 14), Torsten van Jaarsveld (Vrystaat Cheetahs, 13).

• Nog tien spelers is in geval van onttrekkings op bystand geplaas:

Stutte: Collen Smith (Bury Saints Edmunds, Engeland, 15), André Rademeyer (Maties, 0), Nian Berg (Wanderers, 0).

Losvoorspelers: Thomasau Forbes (Western Suburbs, 13), Prince !Goaseb (Blou Bulle o.20, 0), Christo van der Merwe (Wanderers, 7).

Vleuels en heelagters: David Philander (Wanderers, 30), Russell van Wyk (Western Suburbs, 9), Johann Tromp (Wanderers, 34), Chad Plato (Kudus, 0).

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!