Grond, mag en politiek: Lesse uit Zimbabwe

Die herverdeling van grond moenie net uit ’n landbouperspektief beskou word nie.
Pieter Labuschagne - Die kritieke kernvraag oor die herverdeling van landbougrond in Suid-Afrika is of die debat gaan oor grond waarop mense aktief wil boer en of dit wesenlik oor politieke mag handel.

In die ontleding van politiek is dit kernbelangrik om dieper as die oppervlakkige retoriek te kyk ten einde die onderliggende fundamentele grondoorsaak te identifiseer. Die retoriek van politieke handeling moet nooit net op blote sigwaarde verdiskonteer word nie; dit gaan dikwels oor dieperliggende redes.

Dit is daarom belangrik dat die primêre rolspelers die herverdeling van grond nie net suiwer binne landbouverband sien nie. Die aandrang om die herverdeling van landbougrond en die gepaardgaande retoriek bevat ’n dieperliggende fundamentele magselement wat dikwels misgekyk word.

Die gewapende stryd in die destydse Rhodesië/Zimbabwe het op die oppervlak oor demokrasie en stemreg gegaan, terwyl die herverdeling van grond vanuit ’n ekonomiese en landbouperspektief gehanteer is. Dít terwyl die stryd in wese oor grond as magsbron gehandel het.

Hierdie miskenning van die belang van grond as magsbron het later in 2000 in Zimbabwe tot wydverspreide plaasbesettings, ’n politiek-ekonomiese vryval en die ekonomiese ineenstorting van die land aanleiding gegee.

In die voorafgaande bloedige guerrillastryd (1964 tot 1980), waarin ongeveer 30 000 mense gesterf het, het guerrillavegters dikwels in onderhoude na die stryd as ’n geveg om grond verwys.

Die guerilla-vegters het grondbesit dikwels as belangriker as politieke mag en ’n inklusiewe demokrasie beskou.

Op ’n Zanu-PF-byeenkoms aan die vooraand van die plaasbesettings was die tema baie spesifiek en ’n banier het gelui: “Political power alone is meaningless, unless people have land.”

In 1980 het Zanu-PF wel politieke mag verkry, maar ekonomiese beheer en die besit van landbougrond was steeds oorwegend in wit hande. Daar was sterk druk om grond te herverdeel, maar nie noodwendig vir boerdery-bedrywighede nie. Die besit van grond is as magsbron beskou omdat dit in swart gemeenskappe ’n dieper betekenis het.

In die gronddebat in Suid-Afrika moet dié dimensie nie misken word nie.

Waar is die groot groep swart boere wat wil boer?

’n Kollega in die politieke wetenskappe vertel onlangs hoe die studente in sy klas sterk ten gunste van die grootskaalse herverdeling van grond was. Op die vraag hoeveel van hulle bereid sou wees om op ’n afgeleë plaas te gaan boer, was die reaksie maar flou.

Dit is gevolglik belangrik om die herverdeling van grond nie alleen uit ’n rasionele landbouperspektief te beskou nie, maar te besef dat die besit van grond die verkryging van politiek-ekonomiese mag is. Hierdie magsdimensie is diep in die tradisionele bewussyn gesetel en vorm ’n fundamentele deel van magspolitiek.

HISTORIESE SITUASIE IN RHODESIë/ZIMBABWE

In die voormalige Rhodesië was grondbesit tussen wit en swart baie ongelyk.

Toe die guerrillastryd in die 1960’s begin het, het wit boere, wat slegs 5% van die totale bevolking uitgemaak het, ongeveer 33% van alle grond besit. Die grond wat in die reservate aan die swart kleinboere behoort het, was marginale landbougrond in lae reënvalstreke.

In totaal het die wit boere 35 miljoen hektaar vrugbare grond besit, terwyl die swart kleinboere tot 21 miljoen hektaar se marginale landbougrond beperk was.

Die sogenaamde swart reservate moes 400 000 meer mense huisves as wat die drakrag van die grond was.

Die veteraanvegter en senior Zanu-PF-leier, Josiah Tongogara, het die grondkwessie as die hoofrede vir die guerrilla-oorlog bestempel.

Wanneer plaasboere in die bloedige stryd deur Zanu-PF- en Zapu-vegters aangeval is, het die guerrillas dikwels uitgeroep dat die setlaars hul “grond gesteel het”.

In die tydperk ná onafhanklikheid in 1980 het die herverdeling van grond aanvanklik redelik goed verloop, alhoewel net 36 000 uit die beoogde 162 000 swart gesinne op hoofsaaklik onbewoonde grond hervestig is.

Die nuwe grondbesitters het die grond as bestaansboere benut, wat min tot die totale landbou-produksie bygedra het.

Die tweede groep, sowat 300 kommersiële swart boere, het met redelike sukses begin boer en tot landbou-produksie bygedra.

Die verdere herverdeling van grond het in 1989-’90 verlangsaam, hoofsaaklik weens die gebrek aan geld en ook omdat die regime van oudpres. Robert Mugabe se politieke wil ontbreek het. Die begrotingstekort vir die herverdeling van grond het in 1985 met 20% en in 1988-’89 met 67% gekrimp.

Studies het aangedui dat die verdere herverdeling van grond nadelig vir voedselsekerheid en die landbousektor se bydrae tot buitelandse valuta sou wees. Dié sektor was destyds die grootste bydraer tot buitelandse valuta.

Die Britse regering, wat op die Lancasterhuis-beraad in 1980, geld vir die herverdeling van grond belowe het, het ook sy finansiële bydrae gestaak. Die hoofrede was dat groot plase wat wel aangekoop is, aan die Mugabe-binnekring en vriende gegee is wat nie daarop geboer het nie.

Die herverdeling van grond in Zimbabwe het hoofsaaklik tot kommunale boerdery gelei en daar was ’n skerp kontras tussen die produksie van dié sektor en kommersiële sektore.

In 1989 was die kommunale sektor (hoofsaaklik swart kleinboere met ongeveer 800 000 gesinne) se bruto produksie ongeveer 30% van die totaal, terwyl die 4 500 hoofsaaklik wit kommersiële boere vir 70% daarvan verantwoordelik was.

Die verkope uit die kommunale boere se beeskudde het in dié tydperk tot 24,2 miljoen Amerikaanse dollar beloop teenoor die kommersiële boere se $224,3 miljoen.

Die wit boere het in die laat 1980’s rekordoeste opgelewer. In die landbougordel tussen Harare en Mutare was die gemiddelde mielie-opbrengs 6 ton per hektaar, teenoor die gemiddeld van onder die 4 ton per hektaar in Suid-Afrika.

In Zimbabwe het die uitvoer van mielies, koring en ander produkte heelwat buitelandse valuta verdien en dit was onnodig om ten duurste kos in te voer.

EKONOMIESE INEENSTORTING

Die nederlaag wat Mugabe in die referendum in 2000 oor die voorgestelde grondwetveranderings gelei het, was die katalisator vir die politieke en sosio-ekonomiese verval. Die reaksie van die Mugabe-regime was wreed en beslissend, en sogenaamde “oorlogsveterane” het opdrag gekry om wit plase te beset. Die opdrag is met geweld uitgevoer, wit boere is aangerand en in groot getalle van die plase verdryf.

Die plaasboere was om twee redes in die visier van die Mugabe-regime: Omdat hulle saam met hul plaaswerkers die opposisieparty (MDC) gesteun het en omdat die regerende party grond as magsbron wou bekom.

Die ekonomiese ineenstorting van Zimbabwe kan ook regstreeks tot dié plaasbesettings herlei word. Die 4 500 wit boere is binne agt jaar tot 500 verminder en hul bydrae van 70% tot landbou-produksie het binne vyf jaar grootliks verdwyn.

Die inflasiekoers wat tydens onafhanklikheid in 1980 op 5% gestaan het, het geleidelik voor die plaasbesettings tot net onder 50% geklim en binne een jaar (2001) tot 112% verdubbel. Net drie jaar later het die inflasiekoers op 600% gestaan en in 2008 het dit tot ’n verstommende 231 150 888% opgeskiet. Die wisselkoers van die Zimbabwiese dollar was voor die plaasbesettings 100 teenoor een Amerikaanse dollar, maar dit het in net vyf jaar tot 550 000 teenoor 1 verswak.

In 1985 was Zimbabwe een van die Afrikalande met die laagste voorkoms van armoede, maar teen 2008 het 85% van die bevolking onder die broodlyn gelewe.

In 1996 was die ekonomiese groeikoers in Zimbabwe net onder dubbelsyfers; in die paar jaar ná die plaasbesettings van 2001 het die groeikoers tot onder -15% gedaal.

In die tydperk 2000 tot 2007 het die ekonomie en die bruto binnelandse produk met 40% gekrimp. In dieselfde tydperk het landbouproduksie met 51% en die uitvoer van tabak, wat 33% van Zimbabwe se buitelandse valuta verdien het, met 80% afgeneem.

LESSE VIR SUID-AFRIKA

Die herverdeling van grond is ’n uiters ingewikkelde saak, wat nugter oordeel en omsigtigheid vereis. Zimbabwe dien as voorbeeld hoe ’n land, wat eens kos uitgevoer het en wie se inwoners ’n aanvaarbare lewenstandaard kon handhaaf, in net een dekade in duie kan stort.

Dit rede was dat dit nie in Zimbabwe oor voedselsekerheid gegaan het nie, maar oor grondbesit as ’n bron van (politieke) mag.

In Suid-Afrika wil dit lyk asof Julius Malema, leier van die EFF, die reïnkarnasie van wyle Chenjerai “Hitler” Hunzvi, wat destyds die oorlogsveterane georkestreer het met die besetting van landbougrond, is.

Die oënskynlike gemak waarmee Malema ongestraf op onwettige grondbesettings aandring, dra by tot sy bravade.

Met die herverdeling van grond, moet staatsgrond eers ter sprake kom. Dan moet voornemende swart boere geïdentifiseer word en hulle moet opleiding en die nodige logistieke en finansiële steun kry.

Voedselsekerheid en ekonomiese groei moenie beïnvloed word met die herverdeling en oordrag van landbougrond nie.

Die vernaamste les wat ons by Zimbabwe kan leer, is dat dit gevaarlik is as grond eksklusief as ’n bron van mag gesien word.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!