Grond: Wit boere wíl praat
Voorheen bevoordeeldes sê hulle gee lank reeds samewerking wat betref grondhervorming.
Elvira Hattingh
Die president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, sê dit is onwaar dat wit kommersiële boere nie in gesprek tree oor grondhervorming nie, en hulle kan staaf dat hulle van meet af betrokke in dié proses was.
Dit volg ná mediaberigte waarin plaaslike grondaktivistegroepe wit kommersiële boeregemeenskappe daarvan beskuldig dat hulle huiwerig is om by die gronddebat betrokke te raak en glo waarsku dat 'n tyd sal kom wat swart mense hul grond afvat.
Volgens 'n artikel Maandag in Republikein se susterskoerant Namibian Sun het die Landless People's Movement (LPM) asook die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) gesê die onlangs gepubliseerde statistieke wat aandui 70% van kommersiële grond is in wit besit, regverdig onteiening.
Die LPM het glo onder meer aan Namibian Sun gesê voorheen bevoordeelde boere wil nie in gesprek met hulle hieroor tree nie en is gelukkig om die status quo te handhaaf.
Die LPM het voorts gesê weens hul weiering om betrokke te raak, berei hulle nou wetlike prosedures voor asook prosesse vir die onteiening van kommersiële plase.
Hulle beplan om met die plase rondom Dordabis en Omitara te begin, asook rondom Tsumkwe, indien nodig. Die LPM-leier, mnr. Bernadus Swartbooi, is glo besig om na plaaslike en internasionale prokureurs uit te reik wat hom op 'n pro bono-basis sal bystaan.
Die AR-leier, mnr. Job Amupanda, het ook met Namibian Sun gepraat en wit kommersiële boere gewaarsku en gesê hulle moet begin betrokke raak by die toekomstige leiers van die land.
“Ons leef nie in 'n illusie nie. Ons weet die wit man besit die grond met die toestemming van die lafaard en die swart elite wat nie die wit man kan konfronteer nie. Maar hierdie mense (huidige leiers) gaan binnekort sterf en dan sal ons ons grond kry.”
BEWYSE VAN SAMEWERKING
Van der Merwe sê georganiseerde landbou het, as verteenwoordiger van eienaars van kommersiële plase, van die begin af dit duidelik aan die regering gestel dat hulle deel van die grondhervormingsproses sal vorm en bydraes sal lewer om volhoubare grondhervorming te verseker.
“In September 2003 het ons reeds 'n eerste bydrae gelewer in die vorm van 'n raamwerk vir die volhoubare gebruik van landbougrond en grondhervestiging in Namibië.
“Ons het in Junie 2004 voorstelle vir die opstelling van beginsels en prosedures gemaak vir die onteiening van grond vir hervestigingsdoeleindes, met die doel om praktiese en toepaslike riglyne te bied vir grondonteiening, wat die minister op 'n onbevooroordeelde wyse sal oorweeg.
“In 2005 het die NLU voorstelle gemaak vir die vestiging van 'n Onderhandelingsforum as 'n raadplegende forum tussen grondeienaars, die regering en die burgerlike samelewing wat deur grondhervestiging geraak word.
“Intussen het ons modelle voorgestel waarvolgens plase gekategoriseer en bepunt moet word volgens wie dit besit en of dit doeltreffend benut word, want dit bied 'n puntestelsel waarvolgens besluit kan word watter plase vir hervestigingsdoeleindes aangewend kan word.
“In 2013 het ons 'n dokument opgestel oor die produksiewaarde van landbougrond, wat gebruik kan word om regverdige en bekostigbare grondbelasting uit te werk,” het Van der Merwe gesê.
Van der Merwe sê die regering se teiken is om 15 miljoen hektaar van die land se beskikbare 38 miljoen ha teen 2020 in die besit van voorheen benadeeldes te hê.
Tans is sowat 9,5 miljoen ha reeds oorgedra, hetsy deur hervestiging of die regstellende aksie-leningskema, AALS. “Daar is vordering in die opsig,” het hy gesê. Hy sê nog 'n brandende kwessie is dat van die 8,1 miljoen ha kommersiële grond wat sedert 1992 aan die ministerie van grondhervorming gebied is, hulle slegs sowat 37% gekoop het en die res (63% of 5,2 miljoen ha) van die hand gewys is.
“Wit kommersiële boere gee hul samewerking en bied hul grond aan die regering. Die grondeienaar kan nie daarvoor verantwoordelik gehou word as die regering dit nie wil koop nie.
NEEM AKTIEF DEEL
“Daar moet ondersoek ingestel word na die eintlike probleem, naamlik wat die rede is dat die regering van die grond van die hand wys.
Van der Merwe sê om te sê 70,1% van kommersiële landbougrond is in die besit van voorheen bevoordeeldes, bied ook nie 'n geheelbeeld nie.
Hy is van mening dat dit belangrik is om alle landbougrond – ook kommunale landbougrond, wat sowat 28 miljoen ha beslaan – in te sluit om te sien wie beskik oor en het toegang tot die gebruik van landbougrond. “Verder behoort produksiepotensiaal of drakrag van grond ook in aanmerking geneem te word, waarvolgens bestokking bepaal word,” het hy gesê.
Hy het gesê voorheen bevoordeelde kommersiële boere neem aktief deel aan grondhervormingsgesprekke en het reeds hul standpunte in verskeie media gestel – selfs ook op nasionale televisie. Terselfdertyd was hulle teenwoordig op al die afgelope streekgrondkonferensies.
Van der Merwe het egter gesê hulle is oop vir gesprekvoering en het veral die verantwoordelikheid om met die regering van die dag te praat.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie