Grondbelasting ís wettig
‘n Appèlsaak oor of die staat grondbelasting van plaaseienaars mag eis, het nie geslaag nie.
Elvira Hattingh - Namibiese grondeienaars het ‘n vyf jaar lange saak verloor waarin die grondwetlikheid van die betaling van grondbelasting op kommersiële landbougrond uitgedaag is.
Die hooggeregshof het op Vrydag 28 Julie die finale woord hieroor gesê toe die appèlsaak tussen Kambazembi-gasteplaas, wat verskeie plaaseienaars verteenwoordig, en die staat met koste van die hand gewys is.
Appèlregters Sylvester Mainga, Yvonne Mokgoro en Dave Smuts het die hoërhof se beslissing van November 2017 beaam.
Mnr. Charlie Bodenstein, wat namens Constitution Watch (voorheen bekend as die Grondeienaarsvereniging van Namibië of LOAN) in die saak opgetree het, het Vrydag gesê die uitspraak beteken dit is die einde van dié pad en die laaste woord is gespreek oor die grondwetlikheid daarvan om grondbelasting van plaaseienaars te eis.
Adv. Reinhard Tötemeyer het grondeienaars se saak in die hooggeregshof behartig, terwyl die staat deur adv. Vincent Maleka (bygestaan deur advokate Eliaser Nekwaya en Frank Pelser) verteenwoordig is.
Dié saak hou nie verband met die saak waarin grondeienaars individuele waardasies bevraagteken nie.
2016 SE HOËRHOFBESLISSING
Die hoërhof se regters Thomas Masuku en Shafimane Ueitele het in ‘n gekonsolideerde saak in November 2016 téén kommersiële grondeienaars beslis en gesê die nalating van ’n administratiewe taak soos om landbougrond vyfjaarliks te waardeer, beteken nie grondbelasting kan nie geëis word nie. Boonop mag ’n uitvoerende mag soos die minister van grondhervorming belasting eis.
Dit volg nadat die verhoor van die gekonsolideerde sake tussen Kambazembi-gasteplaas en die respondente (die ministeries van landbou, water en bosbou, finansies, die grondhervorming se advieskomitee, kommissaris van binnelandse inkomste en die aanklaer-generaal van Namibië) op 1 September 2016 begin het.
KONSTITUSIONELE KWESSIES
In die eerste aansoek van 2013 wou grondeienaars gehad het dat artikels 76 tot 80 van die Landbou (kommersiële) Grondhervormingswet van 1995 en die regulasies wat daaronder val, strydig met die Grondwet verklaar moet word.
Daar is aan die hand van die Grondwet (artikel 63.2) onder meer betoog dat die wetgewende gesag van belasting by die Nasionale Vergadering (NV) berus en dat uitvoerende magte soos die minister van grondhervorming nie onafhanklike mag kan hê om belasting op te lê nie.
Regters Masuku en Ueitele het egter gesê die Grondwet dui aan dat die NV die mag en funksie het om “voorsiening te maak” vir inkomste en belasting. Dit is dus regmatig om ’n uitvoerende mag toe te laat om belasting te eis en dat die grondhervormingswet in die opsig nie strydig met die Grondwet is nie.
NALATING ONTNEEM NIE MAG
Grondeienaars het ook aansoek gedoen om die grondwaardasie van die boekjare 2013-’14 en 2015-’16 boekjare ter syde te stel omdat die applikant van mening is dat geen geldige waardasierol toe bestaan het nadat die vorige verval het nie.
Die hof het egter met die staat saamgestem dat die nalating van ’n administratiewe taak binne ’n gegewe tydperk nié ’n administratiewe beampte van sy mag of plig ontneem nie.
“Indien geen nuwe waardasierol ’n vorige opvolg nie, beteken dit die minister kan nie grondbelasting eis nie? Wat dan van grondeienaars se plig om jaarliks belasting te betaal asook dat daar voorsiening in die wet gemaak word dat ’n bestaande rol slegs vervang word wanneer ’n nuwe rol deur die waardasiehof goedgekeur is?”
WETWYSIGING SKEP NIE NUWE REGIME
In saak A234 van 2015 het die applikant gevra dat sekere wetswysigings deur die regering in die hof nietig verklaar moet word: Die minister van grondhervorming het in 2015 ’n wetswysiging in die Staatskoerant gepubliseer waarvolgens waardasierolle nie meer vyfjaarliks sal verstryk nie, maar vir ’n onbeperkte tyd geldig sal wees totdat dit deur ’n nuwe vervang word.
Die applikant het betoog die wetswysiging is retrospektief van aard, ontneem grondeienaars van hul regte, is ongrondwetlik en maak die afdwing van grondbelasting nog meer onvoorspelbaar.
“Ons het reeds bevind dat indien die grondhervormingswet in konteks beskou word, verval ’n waardasierol slegs sodra ’n nuwe deur die waardasiehof goedgekeur word. Die wetswysiging bekragtig dié begrip en verander nie aan die feit dat die wet steeds voorskryf dat die minister landbougrond vyfjaarliks moet waardeer of die proses waarvolgens dit gedoen moet word nie. Dit skep nie ’n nuwe regime vir grondbelasting nie en verwoes ook nie die bestaande een nie.”
In die laaste saak het die applikant betoog die huidige waardasierol en kennisgewing van 1 Julie 2016 vir die sitting van die waardasiehof is ongeldig. Die hof het egter beslis dat die voorlopige waardasierol van 2012 steeds geldig bly en dat regter Elton Hoff nie die voorlopige waardasierol in September 2013 ter syde gestel het nie, maar eerder gesê het die korrekte prosedure is nie voor die waardasiehofsitting gevolg nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie