Grondbelasting: Skikkingsooreenkoms kom dalk
Ministerie, grondeienaars gaan saamwerk
Elvira Hattingh - In ’n nuwe wending in die grondbelastingsage sal grondeienaars en die ministerie van grondhervorming nou probeer om ’n skikkingsooreenkoms buite die hof te bereik, vóór die Windhoek-sitting op 19 September plaasvind.
Mnr. Mark Kutzner, een van die regverteenwoordigers vir grondeienaars, sê hulle is deur die ministerie genader oor die alternatiewe formule wat hulle in die landroshof op Otjiwarongo voorgestel het, waarvolgens die waarde van ’n plaas deur sy ligging en produksiewaarde bepaal word.
Dit volg nadat ekspertgetuienis van geohidroloë en weidingskundiges in die landroshof aangehoor is, wat gedemonstreer het dat die isokaart waarop plaaswaardasies en gevolglik grondbelasting gebaseer is, nie wetenskaplik die toets kan deurstaan nie. Die getuies het gesê dit is nie korrek volgens agro-ekologiese sones ingedeel nie en dat drakrag asook gemiddelde reënvalsyfers nie in ag geneem is nie.
Dienooreenkomstig is die hofsitting op Otjiwarongo op Woensdag verdaag met die toestemming van mnr. Johannes Shiveni, die voorsittende beampte, dat daar tot voor die Windhoek-sitting saamgewerk mag word vir ’n moontlike skikking buite die hof.
Terselfdertyd is die sake van grondeienaars oral oor die land, wat van regsverteenwoordigers gebruik maak, ook tot die sitting in Windhoek uitgestel.
“Die ministerie het aan ons bekend gemaak dat hulle graag saam met ons wil werk en byvoorbeeld twee kolomme opstel van plaaswaardasies, waarvan die een kolom hul oorspronklike waardasie bevat en die ander ons waardasie, wat op bogenoemde formule geskoei is,” het Kutzner gesê.
“Daar sal gebruik gemaak word van die formule en inligting wat tydens die hofsitting voor die hof gebring is, met die hoop dat ons betyds ’n ooreenkoms met die ministerie kan bereik.
“Grondeienaars is nog altyd bereid om saam met die ministerie te werk. Hierdie is dus vir ons ’n redelike suksesstorie,” het hy gesê.
Die waardasiehof gaan egter voort vir grondeienaars wat hulleself verteenwoordig, op onderskeie dorpe soos oorspronklik deur die ministerie se kennisgewing aangedui.
Kutzner kon nie bevestig of, indien die ministerie hul voorgestelde formule aanvaar, dit ook sal geld in gevalle waar grondeienaars hulself verteenwoordig nie.
Hy het onlangs aan Republikein gesê die voorgestelde waardasieformule is ’n goeie, getoetste een wat die toets van tyd deurstaan het en internasionaal die aanvaarbare beginsels is waarvolgens die waarde van “prairie” (weiding en grasvlaktes) vasgestel word. Hy het ook gesê die gebruik daarvan mag in die toekoms voorkom dat daar weer 3 000 besware teen die voorlopige waardasierol ontvang word. Boonop meen hy dit is maklik verstaanbaar vir grondeienaars.
Daar is ooreengekom dat die waardasiehofsitting in Windhoek se landdroshof reeds om 09:00 op 16 September sal begin, en nie 10:00 soos in al die ander gevalle nie.
Sittings van die waardasiehof is nog tot 19 September geskeduleer en sal ook op Mariental, Keetmanshoop, Outjo en Omaruru plaasvind.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie