Grondbelastingsaak: u2018Applikant oneerliku2019
Grondbelastingsaak: u2018Applikant oneerliku2019

Grondbelastingsaak: ‘Applikant oneerlik’

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Grondeienaars kan hulself voorberei op die sitting van die grondwaardasiehof wat op 1 Augustus op Grootfontein sal begin, nadat regter Collins Parker gister Kambazembi Gasteplaas se dringende aansoek van 23 Junie in die hoërhof van die hand gewys het.
“Die hof bevind dat die aansoeker se optrede oneerlik en berekenend was, met die doel om die afsluiting van die talle soortgelyke hofsake te vertraag. Gevolglik word die aansoek van die hand gewys en is die applikant verantwoordelik vir die regskoste,” het Parker gesê.
Dit volg nadat ‘n dringende aansoek in die hoërhof teen die regering ingedien is om die jongste voorlopige waardasierol vir grondeienaars asook die kennisgewing van waardasiehofsittings nietig te verklaar. Kambazembi Gasteplaas tree hiervoor namens Constitution Watch op, wat voorheen as die Grondeienaarsvereniging van Namibië, of LOAN, bekend was.
In sy uitspraak het Parker gesê die applikant tree nie logies op nie.
“Hy vra dat, vir die doeleindes van die dringende aansoek, die bestaande grondhervormingswet en -regulasies as geldig en grondwetlik beskou word, terwyl hy in ‘n ander hofsaak die grondwetlikheid van sekere bepalings in dieselfde wet bevraagteken.
“In nog ‘n saak bevraagteken die applikant die geldigheid van ‘n wysiging van ‘n regulasie.
“Dit is nie logies nie. Soos ek die wet verstaan, is ‘n wet en sy regulasies geldig of nie. Dit kan nie slegs bindend op Maandag of in Meimaand wees, en dan weer ongeldig op Dinsdag of in Juniemaand nie,” het hy gesê.
“Sonder om doekies om te draai, moet ek sê dat die applikant se houding op geen ander manier as oneerlik beskryf kan word nie,” het Parker gesê.
Die hof het ook bevind dat die applikant nie die dringendheid van sy aansoek kon bewys nie.
“Die applikant kon slegs na ‘n uitspraak van 18 September 2013 verwys waartydens regter Elton Hoff die waardasiehofsitting in 2013 nietig verklaar het. Dié uitspraak is gelewer op grond van die spesifieke vereistes van daardie saak en daar kan nie redeneer word dat Hoff ‘n beginsel beklemtoon het wat op alle sake van toepassing is nie.
“Ek vind dit geensins moeilik om te bevind dat die aansoeker nie die dringendheid van die aansoek kon bewys nie.”
Parker het gesê hy verneem van die respondente dat die applikant reeds verskeie aansoeke asook tussentydse aansoeke by die hof ingedien het om die regering se pogings tot grondhervorming om ongelykhede van die verlede reg te stel, te dwarsboom.
“Die respondente se regsverteenwoordiger, mnr. Nazeer Cassim, het ook gesê die applikant het sedert 2007 geen grondbelasting betaal soos vereis deur die Landbou (Kommersiële) Grondhervormingswet 6 van 1995 nie. Die talle hofaansoeke word as ‘n manier beskou om nie grondbelasting te betaal nie.”
Cassim het die ministeries van landbou, water en bosbou, finansies, die grondhervorming se advieskomitee, kommissaris van binnelandse inkomste en die aanklaer-generaal van Namibië verteenwoordig.
Kambazembi Gasteplaas se regsverteenwoordiger, mnr. Charlie Bodenstein, het sy frustrasie uitgespreek en gesê hulle kry nie die geleentheid om hul onderskeie sake voor die hof te laat dien nie.
In Mei vanjaar is reeds drie kennisgewings van mosie by die hoërhof ingedien.
Die eerste hiervan het gevra dat uitspraak gelewer moet word in ‘n dringende aansoek van 30 Oktober 2015 waarin die grondwaardasie van Augustus 2015 nietig verklaar moet word. Die tweede aansoek het gevra dat die grondbelasting van 29 Julie 2016 tersyde gestel moet word en ook dat die heffing en invordering van verdere grondbelasting opgeskort moet word tot tyd en wyl uitspraak gelewer word in nog vyf ander hangende grondbelastingsake.
Die waardasiehof sal voorts vanaf 1 Augustus tot 19 September op onder meer Grootfontein, Gobabis, Mariental, Keetmanshoop, Outjo, Otjiwarongo, Omaruru en in Windhoek sittings hê.

Kambazembi sê grondbelasting ís betaal
Kambazembi Gasteplaas het intussen state aan Republikein vertoon waarvolgens mnr. Joachim Rust grondbelasting jaarliks vanaf 2007 tot 2012 betaal het.
“Dit is nie waar dat Kambazembi nie grondbelasting wil betaal nie en niks sedert 2007 betaal het nie. Grondbelasting is jaarliks tussen 2007 en 2012 betaal en Kambazembi gaan steeds voort om dit jaarliks in ‘n trust by die prokureur se kantoor te betaal.
“Die laaste betaling is juis in Junie 2016 gedoen,” het Sven-Eric Stender, woordvoerder van Waterberg Wilderness, gesê.
Stender sê Rust kon nie die ministerie se stelling van twee weke gelede aanveg toe hulle beweer dat hy nie betaal het nie omdat hy ‘n te kort kennisgewing hiervan ontvang het.
“Hy was ver van sy plaas waar hy die kwitansies hou. Boonop was sy regsverteenwoordigers van mening dat dié feit nie relevant was vir die dringende aansoek in die hof nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!