Grondgroep: Namibiu00ebrs moet bronne terugkry
Grondgroep: Namibiu00ebrs moet bronne terugkry

Grondgroep: Namibiërs moet bronne terugkry

Grondloses 'kom in vrede en sal nie uitgelok word nie'.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die Beweging vir Grondlose Mense (LPM) sê radikale transformasie is nodig om alle natuurlike hulpbronne terug in die hande van Namibiërs (en nie Chinese nie) te besorg sodat alle landgenote gelyke voordeel daaruit kan trek.

Hierdie stelling ondersteun mnr. Nangolo Mbumba, Swapo se sekretaris-generaal, se opmerking vroeër dié week dat alle natuurlike hulpbronne aan Namibiërs behoort.

Die party sal egter ongelyke toegang tot bronne ernstig moet ondersoek, sê die beweging.

“Namibië beleef 'n finansiële krisis. Om die situasie waarmee die land se leiers ons opgesaal het, te herstel, moet ons dié bronne gebruik,” het die LPM gesê. Die groep het gesê hulle is ongelukkig oor die feit dat president Hage Geingob sy woordvoerder, mnr. Albertus Aochamub, “gebruik” het om die voormalige adjunkminister van grondhervorming, mnr. Bernadus Swartbooi, as 'n “mislukte politikus”­ te brandmerk.

Hulle het ook vir Mbumba gekritiseer oor die stelling dat die publiek self moet oordeel of Swartbooi se onlangse uitlatings in die parlement goed of sleg was.

Me. Rosa Namises, lid van die LPM, het gesê Mbumba se kommentaar kan beskou word as 'n bedreiging en moontlike aanhitsing om die land te destabiliseer.

“Dit klink soos die ou dae van lae-intensiteit oorlog. Mense moenie ander, wat niks gedoen het, veroordeel nie,” het Namises gesê.

Die groep het gesê Mbumba se kommentaar bevat “Lubango-tendense” en het bygevoeg Swartbooi is die be­skermheer van die LPM.

“Ons is moeg vir onverdraagsaamheid, hebsug, gierigheid, jaloesie, agterdog, weerwraak, egoïsme, verwaandheid, die tendens om te maai waar jy nie gesaai het nie en die gewoonte van politici om meer te bestee as wat hulle het,” het die LPM gesê.



STORTINGSTERREIN VIR SKELMS

Die groep sê Namibië het 'n stortingsterrein vir “misdadige elemente” van elders geword.

Hulle het verwys na mnre. Kobi Alexander, Neil Haddock, Roberto Von Palace, Boris Bannai, Jack Huang en die groot “Chinese indringing” in veral die Khomasstreek.

Hulle sê baie “wêreldmisdadigers” het plaaslik grondbaronne kom word wat die land se geldkoffers dreineer.

Die LPM is van plan om die ombudsman, mnr. John Walters, te nader om druk op die ministerie van grond te plaas om die lys van begunstigdes van hervestigingsplase bekend te maak.

Hulle sê hulle het 'n volledige lys van hul eie - glo die produk van jare se navorsing. Hulle sê egter hulle wil dit nie vrystel voor die ministerie die amptelike lys bekend gestel het nie, om sodoende nie 'n geleentheid vir onenigheid te skep nie.

Mnr. Norberth Tjombonde het gesê gebaseer op die lys wat tot die LPM se beskikking is, is dit duidelik dat hervestiging tot dusver “bevooroordeeld en stamgebonde” was.

Die LPM het minister Utoni Nujoma gekritiseer vir sy opdrag om mense van Aroab van Plaas Dicksbusch op 27 Februarie te verwyder.

Hulle sê hulle ondersteun ook die mense op Plaas Mayerton 175 wat met uitsetting gedreig is, asook dié wat in die noordelike kommunale gebiede van hul grond ontneem word.

Die LPM het ook die skietery op 17 Februarie op Grootfontein afgekeur en sê hulle gaan op 4 Maart 'n vergadering in Khorixas, “wat die afgelope 27 jaar afgeskeep is”, hou.

Die groep het hulself ook gedistansieer van die onlangse stamaanvalle in Keetmanshoop en sê die land se mense moet probleme saam oplos. Hulle sê die polisie se reaksie met traangas en rubberkoeëls was ongevraagd.

“Ons bly vreedsaam en wil in gesprek met die regering wees. Ons sal nie uitgelok word nie. Ons hoop ook dat alle burgerlike organisasies aan die tweede grondkonferensie sal deelneem,” het Namises gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer