Grondhervorming in die kollig by regskonferensie
Met toenemende eise om bekostigbare grond, word stabiliteit bedreig en die beste plan van aksie is om wette te skryf wat met die tye tred hou.
Jessica Botes in Swakopmund
Die belangrikheid van grondeienaarskap is deur hoofregter Peter Shivute beklemtoon tydens 'n konferensie vir regsdosente van Suider-Afrika in Namibië wat verlede Woensdag in Swakopmund begin het.
Hy het gesê grondeienaarskap verbeter lewensgehalte en verteenwoordig 'n hoër mate van vervulling.
“Ons Grondwet voorsien dat alle Namibiërs die reg het om grond of vaste eiendom te besit en wat hulle aan hul erfgename kan nalaat,” het Shivute gesê.
Volgens hom is grondbesit 'n integrale deel van die samelewing en dra dit tot sosiale ontwikkeling by. Die verwoestende droogte wat byna 39 miljoen mense in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) raak, is volgens hom die grootste bedreiging vir ons land.
“Dié toedrag van sake het 'n negatiewe impak op ons landbou en die lewensbestaan van mens en dier. Soos ons bewus is, het die grondkwessie reeds verskeie dispute veroorsaak,” het Shivute gesê.
Hy het gewaarsku dat dié situasie stabiliteit bedreig en gesê die beste plan van aksie is om wette te skryf wat op die veranderende tye gemik is.
“Die grootste uitdaging wat ons nou in die gesig staar, is die voorsiening van toeganklike en bekostigbare grond. Ongelukkig gaan grondloosheid hand aan hand met 'n lae inkomste. Verstedeliking het hoë bevolkingsdigteid meegebring wat al hoe meer druk op stede en dorpe plaas vir die voorsiening van basiese geriewe. Gevolglik is grond wat vir uitbreiding geoormerk is, gekoppel aan infrastruktuurontwikkeling wat duur is en die koste van grond tot buitensporige pryse dryf.
“Die toenemende belangstelling in grond deur plaaslike en buitelandse beleggers, verhoog die waarde van grond in só 'n mate dat mense wat deel is van middelklas- of arm gemeenskappe dit nie kan bekostig nie. Moet ook nie vergeet dat dié mense die meerderheid van ons bevolking is nie,” het hy gesê.
Volgens Shivute is daar ook 'n behoefte om die publiek oor hul regte in te lig ten opsige van die registrasie van die grond wat hulle bewoon en die sekuriteit wat met daardie registrasie gepaardgaan.
“Dit is belangrik vir burgers om nie net hul regte te ken nie, maar om dit toe te pas.”
Die konferensie se tema, “Land Reform: Lessons of Law, Good Governance and Legal Education”, was gemik op 'n breë groep beroepslui uit verskeie regsdissiplines wat nie noodwendig spesialiste is in kwessies wat verband hou met grondhervorming nie.
In sy verwelkomingsrede het prof. Lazarus Hangula gesê omvattende en ingeligte debatte in die verskillende sessies by die konferensie sal tot die verbetering van regsopleiding in Namibië en Suider-Afrika bydra. Volgens hom kan 'n verbetering in regsdosente se kapasiteit om gehalte regsopleiding te bied, alle persone se toegang tot geregtigheid verbeter.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie