Grondkwessie onder die loep

Die lang verwagte nasionale grondkonferensie begin volgende week, waartydens daar oor die vordering en toekoms van grondhervorming beslis moet word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Tydens die tweede nasionale grondkonferensie wat van 1 tot 5 Oktober by die Safari Hotel en Konferensiesentrum in Windhoek plaasvind, sal kwessies soos onder meer die stedelike grondhervormings­program, die verwydering van die veterinêre ­kordonheining (rooilyn) en grondwaardering en prysbepaling bespreek word.

Verder sal ondersteuning vóór en ná hervestiging, die ­leningskema vir regstellende aksie-boere asook kommersiële banke se ­benadering tot kommunale grond bespreek word.

Volgens die ministerie van grondhervorming se voorlopige program, sal verrigtinge op Maandag 1 Oktober om 08:00 afskop met die aankoms van ­verskeie nasionale leiers, wat ­pres. Hage Geingob insluit.

Nadat die goewerneur van die Khomasstreek, me. Laura Mcleod-Katjirua, asook verskeie verteenwoordigers van plaaslike nieregerings­organisasies, oorlogveterane, ­tradisionele hoofde, opposisiepartye en die ­heersende Swapo-party se sekretaris-generaal, me. Sophia ­Shaningwa en die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba die konferensie toegespreek het, sal minister Utoni Nujoma terugvoering gee oor die vordering met die toepassing van die besluite wat tydens 1991 se grondkonferensie geneem is.

Nuwe kwessies wat sedert 1991 aan die lig gekom het, sluit in die tegniese komitee op ­kommersiële landbougrond, die posisie van plaaswerkers, die rol van kommunale grond in die toekoms, toegang tot kommunale grond, ­benadeelde gemeenskappe, natuurbewaring teenoor boere se regte, betaling vir grond, grondtoekenning en ­administrasie, asook gesamentlike weidingsregte.

Die grootskaalse verskuiwing van boere uit kommunale grondgebied, kleinboere se toegang tot kommunale grond, nieregeringsorganisasies en koöperasies sal ook bespreek word.

Die ministerie van grondhervorming se webwerf bevat verslae oor vorige besprekings en ook 'n omvattende verslag oor die bevindinge.

Hierin is 'n lys kwessies met betrekking tot 1991 se besluite en voornemens geïdentifiseer. Die lys sluit in voor­vaderlike grondeise, die gewillige koper en gewillige verkoper-beginsel van ­toepassing op landbougrond, die ­nasionale hervestigingsprogram, en hervestigingskriteria en onteiening van landbougrond met regverdige vergoeding.

Die lys sluit ook die kwessie van plase in buitelandse besit in, asook ongebruikte plase, afwesige eienaars, grondbelasting en die grootte en hoeveelheid plase in die land.

Nóg kwessies sluit in grens­geskille tussen tradisionele owerhede, 'n nasionale referendum oor die Grondwet, grondlewering en voorkeur aan plaaslike streekinwoners in die hervestigingsproses.

Inheemse groepe eis toelating tot nasionale parke as woongebiede, dat natuurlike hulpbronne soos grond genasionaliseer word, en dat die Etosha Nasionale Park ­verklein moet word.

Die tweede dag van die konferensie sal voorleggings van verskeie ministeries behels, asook insette van Agribank, nasionale ­vakbonde en akademici van Namibië en Suid-Afrika.

Die Verenigde Nasies (VN) se ekonomiese kommissie vir Afrika, en sy voedsel- en landbouorganisasie (FAO) sal ook bydraes lewer, terwyl Zimbabwiese ­regeringsbeamptes genooi is om oor die ondersteuning van hervestigde boere te praat.

Van dag drie af sal wegbreeksessies gehou word waartydens vyf verskillende groepe spesifieke kwessies sal pak.

Dit sluit in landbouhervorming, grondbestuur, verblyfregsekerheid, stedelike grondhervorming, grondbelasting en die waardasiestelsel, asook grondgebruik, produktiwiteit en omgewingsvolhoubaarheid.

Pres. Geingob sal op Vrydag 5 Oktober ná die aanneem van dié konferensie se resolusies, die ­geleentheid amptelik afsluit.

STATISTIEK BEKENDGESTEL

‘n Simposium dis onlangs deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) in Windhoek aangebied, waartydens statistiek oor die besit van landbougrond ter voorbereiding van die nasionale grondkonferensie bekendgemaak is.

Die NSA se raadsvoorsitter, dr. John Steytler, het tydens die geleentheid gesê dit is belangrik dat statistieke beskikbaar is vir die konferensie.

Hiervolgens besit voorheen bevoordeeldes sowat 70,1% (of 27,8 miljoen ha) van die beskikbare 39,7 miljoen ha kommersiële grond in die land, terwyl 16% hiervan in die besit van voorheen benadeeldes is. Dit sluit in plase wat deur die regstellende aksie leningskema (AALS) en deur finansiering van ander kommersiële banke bekom is.

Namibië is sowat 82,4 miljoen hektaar groot en 48% (39,7 miljoen ha) van die land bestaan uit kommersiële landbougrond, terwyl 35% (28,7 miljoen ha) hiervan kommunale landbougrond is. Staatsgrond beslaan 13,9 miljoen ha, of 17% van die land - kommersiële plase in staatbesit uitgesluit.

STATISTIEK: KOMMERSIËLE LANDBOU

Kommersiële landbougrond wat in private besit is, verteenwoordig 41,6% van Namibië.

Volgens die ministerie van grondhervorming se 2012-2017 waardasierol, beskik Namibië oor sowat 12 382 plase en dele van plase. Sowat 52,2% van hierdie plase is in individue se besit, terwyl maatskappye 31,5% hiervan besit en die regering 13,8%. Die oorblywende 2% word deur byvoorbeeld boereverenigings en kerke besit.

Ofskoon oproepe tydens streekskonferensies gedoen is vir die onteiening van buitelanders se plase, blyk dit buitelanders besit slegs 3% of 1,2 miljoen ha kommersiële landbougrond in Namibië, terwyl 97,7% van kommersiële landbougrond deur Namibiërs besit word.

Die meeste hiervan (639 667 ha of 53%) word deur Duitse burgers besit, gevolg deur Suid-Afrikaners wat 353 875 ha (of 29,3%) besit en Amerikaners wat 82 024 ha (6,8%) besit.

Ander buitelanders wat ‘n kleiner hoeveelheid kommersiële landbougrond besit, sluit onder andere Oostenrykers, Switserse, Britse, Italiaanse, Portugese, Hollandse, Kanadese en Chinese burgers in.

Die ministerie van grondhervorming het sedert 2008 ‘n meer betroubare lys van hervestigingsplase begin byhou. Hiervolgens is 443 plase teen Junie vanjaar vir hervestigingsdoeleindes bekom.

Plase is van die ministerie van landbou, water en bosbou aan die ministerie van grondhervorming vir hervestigingsdoeleindes oorgedra, wat beteken die totale getal staan tans op 486 plase.

In totaal het 5 352 mense tot dusver voordeel uit die nasionale hervestigingsprogram getrek. Altesaam 1 030 huishoudings is sedert 2002 hervestig.

Inwoners van die Oshikotostreek het tot dusver die grootste voordeel uit die hervestigingsprogram getrek, met 1 499 mense van dié streek wat hervestig is. Die Omahekestreek staan tweede in die ry, met 1 455 inwoners wat hervestig is. Die Erongostreek is heel laaste, waar slegs 76 mense hervestig is.

Volgens wet het die regering voorkoopreg op enige kommersiële landbougrond voor dit op die vrye mark verkoop kan word.

Tussen 1992 en 2018 is altesaam 8,1 miljoen ha vir die staat aangebied, waarvan 5,1 miljoen ha van die hand gewys is. Die regering het dus sowat 3 miljoen ha of slegs 37% hiervan gekoop.

Die meeste grond wat deur die regering van die hand gewys is, is in die Otjozondjupastreek geleë en beslaan sowat 1,6 miljoen ha.

KRITIEK OP STATISTIEK

Dié statistiek het intussen ook onder kritiek deurgeloop.

Ten spyte daarvan dat kenners meen meer debatvoering behoort oor die besit van grond in dorp- en stedelike gebiede plaas te vind, is geen statistieke hieroor bekendgestel nie.

Die NSA se statistikus-generaal en uitvoerende hoof, mnr. Alex Shimuafeni, het erken ‘n tekortkoming in die statistiek is dat die besit van grond in stede en dorpe nie ingesluit is nie.

Dr. Anna Muller van die Namibië Behuisingsaksiegroep het tydens ‘n voorbereidingskursus deur die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) vir joernaliste gesê Namibië is vinnig besig om ‘n verstedelikte land te word.

Mnr. Guillermo Delgado, koördineer van grond, welstand en behuisingprogram by die Geïntegreerde Grondbestuursinstituut (ILMI), het bygevoeg hy sou aanraai dat vier van die vyf dae van die nasionale grondkonferensie oor stedelike grond behoort te handel, terwyl net een dag aan landelike grondkwesses gewy behoort te word.

Volgens die voorgestelde konferensieprogram sál die onderwerp bespreek word.

Verdere kritiek teen die NSA-statistieke was dat dit hoofsaaklik betrekking het tot kommersiële landbougrond, terwyl statistieke oor grondbesit en -toegang in kommunale gebiede afgeskeep is.

Die president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, het ook intussen aan Republikein gesê om slegs te sê dat 70,1% van kommersiële landbougrond in die besit van voorheen bevoordeeldes is, nie ‘n geheelbeeld bied van hoeveel landbougrond werklik in voorheen benadeeldes en -bevoordeeldes se besit is nie.

Hy is van mening dat dit belangrik is om álle landbougrond – ook kommunale landbougrond, wat sowat 28 miljoen ha beslaan – in te sluit om te sien wie beskik oor en het toegang tot die gebruik van landbougrond.

“Verder behoort produksiepotensiaal, of drakrag van grond, ook in aanmerking geneem te word aangesien dit bestokking bepaal,” het hy bygevoeg.

ACEDEMICI SE INSETTE

Intussen het academici van Nust, ILMI, Navorsing en Inligtingsdienste van Namibië (Raison) en die Universiteit van Namibië (Unam) ook tydens ‘n kortkursus aan joernaliste gesê tydens die nasionale grondkonferensie sal aansprake op voorvaderlike grond in heroorweging geneem móét word, terwyl die beginsels van gewillige verkoper, gewillige koper en die onteiening van grond sonder vergoeding, versigtig opgeweeg moet word.

Die dokumente wat tydens die geleentheid deur die acaddemici voorgelê is, sal ook tydens die nasionale grondkonferensie voorgelê word en is vir die publiek by ilmi.nust.na beskikbaar.

VOORVADERLIKE GROND

Prof. Mutjinde Katjiua, hoof van Nust se departement van grond en eiendomwetenskappe, het gesê tot dusver is voorvaderlike grondeise nie in die grondhervestigingsprogram in ag geneem nie, maar dat dit nie langer uitgelaat sal kan word nie.

“Tydens die vorige konferensie is besluit dat dié onderwerp té kompleks is om ‘n antwoord op te kry, daarom is dit nie bespreek nie,” het hy gesê.

Hy het egter gesê voor enige sulke eise gemaak sal kan word, moet daar eers besluit word op ‘n afsnydatum van hoe lank terug eise gemaak kan word.

Katjiua het gesê 44 000 jaar gelede het hoofsaaklik net Sangroepe in Namibië gewoon het, waarna interne migrasie begin het.

Damara- en Herero-groepe het oor grond geveg, wat tot verdere ontworteling van groepe in sekere situasies gelei het. Daarna het Duitsers onteieningsopdragte in 1905 en 1907 uitgereik. Die Odendaalplan asook tuislandvorming tussen die 1920’s en 1960’s het ook ‘n bydrae gelewer.

“Die konferensie sal ook noodsaaklike standpunte moet inneem oor wanneer ‘n gebied as iemand se voorvaderlike grond geklassifiseer kan word. Hoeveel geslagte moes byvoorbeeld eers in ‘n gebied grootgeword het voor ‘n groep dit hul voorvaderlike grond kan noem?

“Kan grond as ‘voorvaderlik’ gereken word as jou voorsate daar begrawe is, of as ‘n groep meen dis waarvandaan hulle kom of dit vir hulle ‘n heilige gebied is?

“Daar moet onderskei word tussen herverspreiding van grond, of die vestiging van mense, versus die hervestiging van mense wat voorheen in ‘n gegewe gebied gewoon het.

“Tans word grond van ‘wit’ mense gekoop en aan ‘swart’ mense gegee, dus word alle swart mense onder dieselfde kam geskeer, ongeag van hul individuele geskiedenis van grondonteiening.”

Hy is van mening dat hoewel grond dalk nie weer aan sekere groepe toegeken sal kan word nie, dit belangrik is om hul verlies te erken en te bereken, en te bepaal hoe hulle daarvoor vergoed kan word.

GROND IS OOK GEKOOP

Intussen het voorheen bevoordeelde kommersiële boere bewyse gelewer dat hul voorvaders grond in wettig van destydse hoofmanne oorgekoop het.

Namibiese hoofmanne het glo talle plase aan destydse “wit setlaars” verkoop. Kapteins Hendrik Witbooi, David Vilander, Willem Christiaan (Timotheus Snewe), Hans Hendrik en Paul Frederik, leiers van die Witboois, die Mierlanders, die Bondelswarts, die Velskoendraers asook die Oorlams, tel onder die leiers wat plase verkoop het.

Bewyse van transaksies wat tussen hierdie hoofmanne en vroeë setlaars plaasgevind het, is in onder meer die vorm van getekende kontrakte in Namibië se nasionale argiewe te vind. Stawing van sulke transaksies is ook aanwesig in die vergaderingnotules van kaptein David Vilander se dorpsraad.

Kaptein Witbooi het byvoorbeeld in sy dagboeke geskryf oor verskeie aansprake wat op grond gemaak is en hoofmanne se outoriteit daaroor, maar dat wit setlaars hierdie outoriteit respekteer het.

Voor setlaars hulself iewers tydelik of permanent kon vestig, moes hulle toestemming van hoofmanne ontvang.

Vroeë inheemse gemeenskappe het naby waterbronne soos fonteiene of riviere gevestig, terwyl navorsing toon dat plase wat aan wit setlaars verkoop is, in droër gebiede was waar putte gegrawe moes word om by water uit te kom.

Die mees volledige navorsing hieroor is deur prof. E.L.P. Stals gedoen en word in sy boek, Môrewind oor die Karasberge, vervat.

Volgens die boek het hoofmanne op dié wyse van talle plase afstand gedoen. Enkele voorbeelde van plase wat byvoorbeeld deur Paul Frederik verkoop is, sluit in Kanas, Guois, Zandverhaar, Seeheim en Inachab wat aan Thomas Fish (1895), Thomas Gordon (1894), BB Sinclair (1895), CG Wheeler (1895), en F. Gessert (1896) verkoop is. Nog talle plase word gelys.

Dienooreenkomstig meen meningsvormers dat plase wat op dié wyse deur vroeë setlaars bekom is – wit of nie – erken moet word as synde dit wettig bekom is en nie oor dieselfde kam geskeer kan word as plase wat op ander wyses bekom is nie.

MISLUKTE BEGINSEL

Tydens die kortkursus vir joernaliste het prof. Wolfgang Werner van Nust se departement van grond en eiendomwetenskappe gesê die realiteit is dat die herverspreiding van kommersiële landbougrond ‘n stadige proses bly. Die regering bereik nie altyd sy selfopgestelde teikens nie en soms word geld wat hiervoor begroot is, aan die registrateur terugbetaal omdat dit nie gebruik word nie.

“Die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper asook wit mense wat oënskynlik onwillig is om grond te verkoop, kry die blaam vir die stadige pas van grondhervestiging. Tog is min bewyse gelewer dat dié stelsel faal.”

Werner het gesê dié siening verplaas moontlik die aandag van die regering se tekortkominge in die hervestigingsproses. Hy het egter gesê die oënskynlike mislukking van die gewillige koper, gewillige verkoper-beginsel, lei daartoe dat mense op grondonteiening begin aandring.

“Dit word as vinniger en goedkoper beskou. Ons grondwet maak voorsiening vir onteiening sonder vergoeding, asook die prosedures om daarteen te appélleer.

“Onteiening, wat op ‘n deursigtige en goedbeplande manier plaasvind, kan baie waardevol wees, maar is nie noodwendig goedkoper nie omdat dit tot uitgerekte en duur regsgedinge kan lei.

“Verder kan dit tot die ineenstorting van die finansiële sektor lei omdat kommersiële landbou swaar met skuld belas is,” het hy gesê.

Sy argument word gestaaf deur die NLU se president, wat onlangs aan Republikein gesê het dit is nie duidelik waarom die regering soveel plase van die hand wys nie.

“Van die 8,1 miljoen ha kommersiële grond wat sedert 1992 aan die ministerie van grondhervorming gebied is, het hulle slegs sowat 37% gekoop het en die res (63% of 5,2 miljoen ha) van die hand gewys is.

“Dié groot aanbod van grond wys wit kommersiële boere gee wel hul samewerking en bied hul grond vir die regering aan. Die grondeienaar kan nie daarvoor verantwoordelik gehou word as die regering dit nie wil koop nie. Daar moet ondersoek ingestel word na die eintlike probleem, naamlik wat die rede is dat die regering van die grond van die hand wys.”

Werner het ook gesê in 2017 het regstellende aksie leningskema-kopers dubbel soveel grond bekom as wat die nasionale hervestigingsprogram kon aanskaf.

“Hierdie kopers geniet voorkeur op grond wat op die vrye mark aangebied word.

“Dit beteken sou ‘n wit persoon ‘n swart persoon kry wat sy grond wou koop, kan hulle die transaksie deurvoer sonder ‘n kwytskeldingsbrief van die regering. Wettig of nie, dit word skynbaar so deur banke aanvaar. In die praktyk beteken dit die regering verbeur sy voorkeurreg op grond,” het Werner gesê.

Verder meen hy die hervestigingsprogram het landbou van grond geskei, wat daartoe lei dat die wat hieruit voordeel trek, nie die nodige steun ontvang om suksesvolle boere te word nie.

Werner het ook gesê die begrip dat voorheen benadeeldes uit grondhervestiging moet voordeel trek, moet dalk heroorweeg word omdat die doel van die program is om armoede te verlig en sommige voorheen benadeeldes vandag baie suksesvol is.

VERSTEDELIKING

Dr. Anna Muller van die Namibië Behuisingsaksiegroep sê Namibië is vinnig besig om ‘n verstedelikte land te raak.

ILMI se mnr. Guillermo Delgado het saamgestem en gesê jy sou voorstel dat vier van die vyf dae van die nasionale grondkonferensie oor stedelike grond behoort te handel, terwyl net een dag aan landelike grondkwesses gewy behoort te word.

“Oor sowat tien jaar van nou, sal die Namibiese bevolking op sowat 4,3 miljoen mense staan, waarvan tot 3,1 miljoen in stedelike gebiede sal woon. Verstedeliking lei tot die ontvolking van landelike gebiede.

“Die grootste groei kom dus in dorpsgebiede – ‘n kenmerk van ons toekoms,” het Delgado gesê.

Muller het verduidelik dat ten tye van die land se onafhanklikwording het 28% van die bevolking in dorpe gewoon. Teen 2011 het die persentasie na 42 gegroei en volgens berekeninge sal dit teen 2030 op 70% staan.

“Dienooreenkomstig groei die behoefte aan behuising en gedienste grond. Tot dusver misluk die land daarin om hierdie groei in dorpe te akkommodeer, wat tot die uitbreiding van informele nedersettings lei,” het sy gesê.

“Die meerderheid mense wat hier woon, val in die kategorie van 89% Namibiërs wat nie die kommersiële markverwante grond- en behuisingoplossings kan bekostig nie,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!