Grondloses eis geregtigheid

’n Reusevergadering die naweek het tot uitdagende en emosionele eise gelei.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - ’n Reusevergadering die afgelope naweek op Keetmanshoop was die begin van ’n nuwe trajek in die grondhervormingsdebat.

Die byeenkoms is in die J. Stefanus-stadion, in die Tseiblaagte-woonbuurt, gehou en was die eerste van 'n beplande landwye veldtog in aanloop tot die tweede grondkonferensie.

Mense van alle vlakke van die samelewing het dit bygewoon.

’n Groep wat hulself die Beweging van Grondlose Mense noem, eis dat voorvaderlike grondregte herstel moet word en dring op 'n nuwe benadering tot die regering se hervestigingsprogram. Hulle eis ook meer kommunale grond.

Mnr. Bernadus Swartbooi, ’n sleutelfiguur van dié begewing, het die regering se grondhervormingsprogram as "gebroke" beskryf. Swartbooi is die voormalige adjunkminister van grondhervorming.

Swartbooi het gesê hy is afgedank omdat hy geweier het om die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, om verskoning te vra ná hy hom gekritiseer het. Hy het gesê hy weier om verskoning te vra, omdat hy die waarheid gepraat het.

Hy het gesê die regering ontken die waarheid oor grondontneming van die Damara, Nama, Ovaherero, San en ander gemeenskappe.

“Die regering gee voor wanneer mense vir grond vra, dit stamgebonde en gierig is en dat haat hul versoeke aanblaas. Ons weet wat om met die grond te doen. Die regering kan ons nie beledig en ons onpatrioties noem wanneer ons die kwessie van grondverliese opper nie," het Swartbooi gesê.

Swartbooi het Nujoma se interpretasie verwerp dat eise vir voorvaderlike grond 'n terugkeer na Bantustans is.

“Die eise vir voorvaderlike grond onder die Damara, Nama, Ovaherero, San en ander gemeenskappe is nie anti-Owambo of anti-Kavango of teen vrede nie. Dis gebaseer op ’n geskiedkundige waarheid. Ons is een volk: Namibiërs. Ons is lief vir vrede en werk as een volk saam vir vrede," het Swartbooi gesê.

Hy het 'n heldeontvangs met sy terugkeer na die //Kharasstreek ontvang.

Hoofman Petrus Kooper van die Kaii-/Khaun //Aes, het gesê die grondwetlike bepaling dat enige Namibiër homself in enige deel van die land mag vestig, neem nie die impak van grondontneming in ag nie.

Hy sê in die Hardap en //Kharasstreke word die meeste hervestigingsplase gekoop, maar die inwoners trek nie voordeel daaruit nie.

Kooper sê die resolusie dat geen voorvaderlike grondeise gemaak sou word nie, is by die eerste grondkonferensie in 1991 aanvaar "omdat ons die regering vertrou het om diegene wat grond verloor het te hervestig".

"Daarenteen is mense van ander streke, wat nie grond verloor het, nie daar hervestig," het Kooper gesê.

Hy het voorgestel dat die 1991-resolusie vervang moet word met die Verenigde Nasies se verklaring oor menseregte waarin bepaal word dat inheemse mense die reg tot grond, gebiede en bronne het wat hulle oorspronklik besit het, kry.

IDA HOFFMANN

Die Swapo-parlementslid en voorsitter van die Nama Tegniese Komitee, me. Ida Hoffmann, sê die 1904-1908 volksmoord reparasie-onderhandelinge kan nie regverdig opgelos word indien die kwesie van "verlore grond" nie óók opgelos word nie.

“Hierdie eise kan nie onder die mat ingevee word onder die voorwendsel van stamgebondenheid en 'n verenigde nasie nie," het Hoffmann gesê.

Die president van Swanu, mnr. Usutuaije Maamberua, sê hy hoop die landwye vergaderings is onder meer 'n beroep dat die tweede grondkonferensie voor November gehou sal word en dat die hervestigingsprogram intussen gestaak sal word.

Maamberua het ook gevra dat minister Nujoma van sy portefeulje onthef moet word oor sy "disrespek en onsensitiwiteit teenoor die nasate van die slagoffers van die volksmoord".

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer