Grondloses maak reg vir grondkonferensie
Grondloses maak reg vir grondkonferensie

Grondloses maak reg vir grondkonferensie

'n Dinkskrum word beplan waartydens mense op voetsoolvlak insette sal kan lewer.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Die Beweging vir Grondlose Mense (LPM) gaan van 8 tot 10 September 'n “grondkonferensie vir die mense” hou.

Dít in die aanloop op die tweede nasionale grondkonferensie enkele dae later.

Die konferensie sal met die tegniese en raadgewende steun van die Namibiese Forum vir nieregeringsorganisasies (Nangof) plaasvind.

Die LPM beoog om tydens hierdie dinkskrum gewone mense se insette oor die grondkwessie te kry en om seker te maak stemme word “op voetsoolvlak” gehoor - ten spyte daarvan dat hulle nie na die regeringsgeleide nasionale grondkonferensie genooi is wat van 13 tot 18 September sal plaasvind nie.

Die ministerie van grondhervorming het op 19 Junie die datums van die streekskonsultasies bekend gemaak wat in Julie in aanloop op die nasionale grondkonferensie gehou sal word.

Dit volg nadat dié konsultasies aanvanklik in Junie sou plaasvind en toe uitgestel is.

Die voorsitter van die beplande “grondkonferensie vir die mense”, mnr. Henny Seibeb, het Dinsdag gesê die geskiedenis van die vervreemding van Namibiese grond sal op hierdie konferensie in oënskou geneem word.

Verder sal besprekings fokus op grondwetlike regte, herstellende geregtigheid, aansprake op voorvaderlike grond, lesse van die Regstellende Aksie-leningskema (AALS) van Agribank, bestuurs- en institusionele kwessies rakende grondhervorming, die hervestigingsbeleide en -programme en die toenemende grondgryping deur die sogenaamde elite.

Die konferensie het ook ten doel om opsies of modelle vir die ontwikkeling van kommunale gebiede te ondersoek.

Verder sal die kwessie van afwesige en buitelandse plaaseienaars en die harmonisering van boerdery- en mynregte ook bespreek word.

Stedelike grondhervorming sal ook op die agenda wees.

Die LPM het verskeie internasionale belanghebbendes op die gebied van herstellende grondregte uitgenooi, onder wie die beweging La Via Campesina, wat hom beywer vir die regte van grondlose mense en kleinskaalboere in Afrika.

Die LPM in Suid-Afrika, grond­aktiviste van Botswana, die Instituut vir Landbougrondhervorming in Zimbabwe, asook groepe en bewegings uit Brasilië, Bolivia, Mexiko, Australië en Nieu-Seeland is genooi. Seibeb sê die konferensie sal besluit watter voorstelle tydens die tweede Nasionale Grondkonferensie voorgelê sal word.

“Ons wil ons veldtog begin, want ons voel Swapo is 'n etniese party wat nooit die grondkwessie sal oplos nie,” sê Seibeb, wat self ook 'n lid van Swapo is.

Volgens hom stem al die partye buiten Swapo saam dat aansprake op voorvaderlike grond ondersoek moet word.

Die LPM is afhanklik van skenkings van sy lede, internasionale ontwikkelingsvennote en filantrope vir die finansiering van die konferensie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer