Grondonmin smeul op Tsumeb

Die leier van die amptelike opposisie het ’n mosie ingedien om private eiendom te laat onteien.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die man wat hom midde-in ’n gronddebakel op Tsumeb in die Oshikotostreek bevind, mnr. Christo Groenewald, sê hy is moedeloos.

As die regering hom ’n markverwante bedrag betaal en pa staan vir sy huurders se agterstallige huur én sy regskostes, mag hulle dié stuk grond in die dorp se hoofstraat kry, sê hy.

Groenewald het gister gesê die land se wette beskerm hom nie as ’n private grondeienaar nie.

Volgens hom is hy egter bekommerd oor die gebruik van die term “onteiening”.

Dit kom ná die leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, verlede week ’n mosie by die Nasionale Vergadering (NV) ingedien het.

Kragtens dié mosie moet die grond onteien word onderworpe aan billike vergoeding.

Groenewald beweer ’n waardasie waarmee die vermeende wanbetalers vorendag gekom het van N$9 miljoen, is ongeldig, omdat dit op verkeerde inligting geskoei is.

Hy sê die grond is meer as twee keer soveel werd – tussen N$18 miljoen en N$30 miljoen.

Volgens hom het hy en ’n vennoot die grond destyds by Ongopolo Mining and Processing (die eertydse Tsumeb Corporation Limited) bekom.

Hy gee toe hy het in daardie stadium in die mynmaatskappy se bestuur gedien.

Sy vennoot is nie meer deel van die eiendombesigheid nie.

Hoewel hy aanvanklik die plek leefbaarder wou maak, soos om elk van die meer as 200 eenhede van ’n badkamer te voorsien, is hy oorval deur versoeke van desperate inwoners om die plek te huur nes dit was, voer Groenewald aan. “Hulle’t vir my gesê hierdie is hotelkamers in vergelyking met waar hulle bly.”

Alles het volgens hom seepglad verloop tot hy in April 2017 stry gekry het met een huurder wat nie betaal het nie, sê hy.

Kort voor lank het dié persoon glo mense suksesvol begin opsweep om nie meer hul huur te betaal nie.

Toe hy wat Groenewald is sy oë uitvee, het ’n selfaangestelde komitee die huur maandeliks begin invorder en die geld vir hulself gehou, sê hy.

Intussen moet hy steeds elke maand vir sy verbandbetalings pa staan.

Volgens hom skuld die mense hom nagenoeg N$4 miljoen in agterstallige huur.

Ondanks ’n uitsettingsbevel om van 20 mense, met wie hy nie ’n huurooreenkoms het nie, ontslae te raak, is niemand al uitgesit nie.

Venaani het verlede week gesê die beplande uitsetting van 260 huishoudings op Tsumeb laat dié party sidder.

In aanloop tot verlede jaar se nasionale verkiesings het politieke partye mooi broodjies gebak oor hoe hulle die lot van Namibiërs sal verbeter, sê Venaani.

Die Swapo-geleide regering het “sogenaamde stadsaalvergaderings” gelei waar Namibiërs uiting aan hul griewe kon gee, sê hy.

Ondanks dié ondernemings en platforms het die nuus van die uitsettings uit Endobo Properties as ’n reuseskok gekom, sê Venaani.

“Hierdie verwikkeling weerspreek die beloftes wat politieke deelnemers in aanloop tot verlede jaar se verkiesings gemaak het, spesifiek beloftes deur die huidige regering wat belowe het om Namibiërs se beste belang op te tree, veral grondloses en haweloses.”

Groenewald beweer hy het minstens ses strafsake aanhangig gemaak teen mense wat die plek verniel.

Hy beweer daar kom dadels van dié sake.

“Tot vandag toe is niemand voor die hof gebring nie.”

Venaani het verlede week gesê die mosie kom na aanleiding van die land se behuisingsnood wat volgens hul navorsing tans op 110 000 huise staan en teen ’n jaarlikse koers van 3 700 toeneem.

“Trouens, volgens die jongste statistiek is daar 308 informele nedersettings in Namibië met ’n verbysterende 228 000 plakkershuise wat 995 000 mense in stedelike gebiede huisves.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!