Grondpad van Kenia na SA in 3 dae
Die Golden Jubilee Road Race van 1936 was enig in sy soort.
Marnus Hattingh - In die era toe transkontinentale renne oor groot afstande op openbare paaie afgehandel is, het Suid-Afrika met sy eie ren van Herculeaanse afmetings vorendag gekom.
Dit was die jaar 1936 en Johannesburg was besig om sy vere reg te skud vir grootse vieringe van sy 50ste bestaansjaar.
'n Reeks sportbyeenkomste is laat in die jaar deur die feeskomitee gereël, maar as deel van die finale opbou tot die groot vieringe is besluit om 'n epiese motorren te hou wat in Johannesburg sou eindig.
Die ren sou genoeg publisiteit in die koerante genereer om die laaste feesvieringe goeie publisiteit te bied, is geredeneer. Langafstandrenne was destyds baie gewild. Doelgeboude renbane was enersyds nog skaars, maar andersyds was die motors ook nog nie so vinnig soos vandag se rygoed nie, wat die potensiële gevare in 'n mate minder gemaak het.
In Italië was die Mille Miglia (Duisend Myl) reg rondom die land al 'n instelling, terwyl Sicilië se Targa Florio (rondom die eiland) ook al amper 30 jaar agtereenvolgens aangebied is. Die Randse organiseerders het derhalwe 'n atlas nader getrek en besef dat Britse kolonies ononderbroke van die Kaap af tot by die ewenaar strek. Die grense was dus min, en die inwoners vriendelik.
'n Roete is toe van Nairobi in Kenia na Johannesburg vasgestel – 'n massiewe afstand van 2 732 myl, of dan 4 400 km in vandag se taal.
Formele paaie soos ons dit vandag ken, was destyds natuurlik onbekend. Die roete wat die jaers sou moes volg, was meestal grondpaaie wat al langs die spoorweg tussen die kolonies geloop het. Rofweg sou die jaers van Kenia af na Tanzanië, Blantyre in Malawi, Tete in Mosambiek en dan af na Salisbury in Rhodesië moes ry alvorens hulle via Messina en Pietersburg na Johannesburg koers sou kies.
Woelige Wedren
Op die oggend van Maandag 26 Oktober 1936 het 42 motors toe in Nairobi weggespring vir hul lang, moordende tog na die Rand.
Die ervarings wat langs die pad opgedoen is, was iets wat vandag moeilik is om in te dink. Sommige jaers het teen wilde diere vasgery, soos 'n luiperd en kameelperde. Deelnemers moes ook houtbrûe, bestaande uit pale wat met bas vasgebind is, oor breë riviere oorsteek.
Koerante is op die hoogte van die voorste jaers se vordering gehou deur 'n daaglikse telegramboodskap. Kort boodskappe van die jaers se vordering is ook by die feesterrein in Johannesburg op 'n groot elektroniese bord gewys.
'n Ligte vliegtuig het bo die motors tydens die ren gevlieg. Maar sommige berigte het gesê die motors het so vinnig oor die oop paaie gejaag dat die vliegtuig gesukkel het om by te hou!
'n Chrysler Airflow met A.S. du Toit en I. Rosen as deelnemers het die ren van die wegspring af oorheers. 'n Uur of wat agter hulle was die Terraplane van F. Hopley en C. Engelbrecht, twee vriende van Kenia, en kort op húl hakke die Ford V8 van die Johannesburgers A. Westcob en J. Broderick.
Du Toit-hulle se geluksgodin het egter kort nadat hulle deur Pietersburg is, die wyk geneem toe hul Chrysler se silinderblok gebars het.
Dit het aan die Terraplane die kans gebied om die voortou te neem, met die Johannesburgse Ford net minute agter hulle.
Op Woensdag 28 Oktober om 22:14 het die Keniaanse duo van Hopley en Engelbrecht eerste oor die wenstreep by Aasvoëlkop net buite Johannesburg gery en die stewige som van £850 as eerste prys ontvang. Die Johannesburgse tweetal was slegs 12 minute ná hulle by die wenpaal.
Dit het die wenners minder as drie dae geneem teen 'n gemiddelde spoed van 74 km/h om die moordende roete op bykans niebestaande paaie af te lê.
Vir dae daarna het die res van die deelnemers by Johannesburg aangekom, elkeen met sy eie verhale van ontbering. Een persoon is in 'n ongeluk dood. Plaaslike inwoners is ook raakgery. Een van die deelnemers het vroeg al in Tanzanië met net een lig deur die eerste nag gejaag.
Om beter te kan sien, het hulle 'n ander motor kort op sy hakke gevolg. Maar steeds het hulle om 'n draai 'n kort boomstomp misgekyk en hul vooras morsaf gery.
'n Ander motor het later die aand langs hulle stilgehou en 'n ekstra as aan hulle geskenk. Maar steeds het dit hulle weke geneem om Johannesburg te haal. Trouens, teen die tyd dat hulle 'n maand later in die Goudstad aangekom het, was hulle al amptelik as “vermis” geklassifiseer.
Van die 42 voertuie wat ingeskryf is, was net twee nié van Amerikaanse oorsprong nie. Een hiervan was 'n groot Bentley Supercharged, maar dié kon net 300 km in die Afrika-son en stof aflê voordat sy verkoeler en petrolpomp ingegee het.
Die ander nie-Amerikaanse inskrywing was 'n Skoda met 'n 6 kW-enjintjie. Hy het die ren heelhuids voltooi, al was dit 87 uur later.
Met Tyd Verlore
Ná die ren was die opgewondenheid onder deelnemers en entoesiaste groot. Dit kon 'n gereelde byeenkoms word; die strafste ren op aarde.
Maar die Tweede Wêreldoorlog het kort daarna uitgebreek waarna planne vir so 'n massiewe ren nooit weer ter tafel gelê is nie.
Vandag het ons die jaarlikse Dakar-ren, wat straks die naaste aan so 'n transkontinentale byeenkoms is. Maar dit geskied oor skofte, met ruskans vir die jaers en herstelkans vir die voertuie.
Wat beteken die Great Jubilee Road Race van '36 was dalk ons eerste, laaste en rofste ren tot nog toe. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie