Groot duiwelsklou-oes baat talle
Groot duiwelsklou-oes baat talle

Groot duiwelsklou-oes baat talle

Die verarmde inwoners van die Nyae Nyae- en Na‡aJaqna-bewaringsgemeenskap kon vanjaar 'n goeie wins maak van 'n groot oes duiwelsklou nadat goeie reën vroeg in die jaar in die gebiede geval het.

Danksy hul roterende oesstelsel en volhoubare oesmetodes raak die gemeenskappe toenemend beter in die bestuur van hul hulpbron

In die Nyae Nyae-bewaringsgebied baat sowat 200 oeswerkers van 18,7 ton duiwelsklou wat die seisoen geoes is. Hulle deel sowat N$1 miljoen wat vir hul arbeid ingesamel is. Die totale inkomste van die oes is bykans N$1,4 miljoen.

Die 275 werkers in die Na‡aJaqna-bewaringsgebied het bykans N$950 000 verdien uit die 21,7 ton wat hulle geoes het, met die totale inkomste uit die verkoop van dié duiwelsklou wat N$1,2 miljoen is.

Die verdeling van inkomste is danksy die lank bestaande verhouding tussen die gemeenskappe se oeswerkers en EcoSo Dynamics, die plaaslike maatskappy wat die duiwelsklou uitvoer. Volgens die besturende direkteur van EcoSo, mnr. Gero Diekmann, is die vennootskap belangrik en gebou op wedersydse vertroue ná meer as tien jaar se samewerking.

Hy sê danksy die vennootskap kon die maatskappy saam met die gemeenskappe 'n stelsel skep waardeur elke sak duiwelsklou se spoor teruggevolg kan word tot by die spesifieke persoon wat dit geoes het, asook presies waar dit geoes is.

Deur die Europese Unie se fonds vir klimaatverandering-aanpassing kon die Nyae Nyae-ontwikkelingsorganisasie albei gemeenskappe leer hoe om vir beter pryse te onderhandel, te voldoen aan die organiese sertifisering, en lewensriglyne toe te pas om 'n volhoubare oes te verseker. Die organiese sertifisering is deel van ‘Fair for Life’-sertifisering, 'n vorm van ‘Fair Trade’-sertifisering wat verbruikers verkies omdat dit verseker die hulpbron is volhoubaar gebruik en met respek vir die omgewing, en verarmde kwekers binne menslike werksomstandighede baat.

Vanjaar is die aankoopprys van duiwelsklou merkwaardig verhoog nadat die Nyae Nyae-gemeenskap die sertifiseringsproses in vennootskap met EcoSo onderteken het.

Tot 75% van die totale inkomste van die verkoop van die duiwelsklou vloei nou terug na die gemeenskapslede wat in die onderneming werk. Die aankoopprys, wat jaarliks voor die oesseisoen onderhandel word, weerspieël die impak van die sertifisering en die volhoubare benadering tot die plant se gebruik en oes.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!