Groot geld en nu00f3g prestige wink in Zu00fcrich
Groot geld en nu00f3g prestige wink in Zu00fcrich

Groot geld en nóg prestige wink in Zürich

Atletiek
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Christine Mboma se geweldige versnelling vir haar eind­pogings in die 200 meter maak haar die gunsteling om vanaand met die reusagtige wennersprys van 30 000 Amerikaanse dollar by die Wanda Diamantliga-finaal in Zürich, Switserland, weg te stap.

TV-kykers sal omstreeks 21:44 op SuperSport kan volg hoe die Namibiër haar aanslag loods om teen die huidige wisselkoers sowat 447 000 van die ­Namibiese geldeenheid los te slaan wat vir die 200 meterwenner op die spel staan.

Beatrice Masilingi het ook vir die Diamantliga-finaal se 200 gekwalifiseer, hoewel sy gister steeds haar griepsimptome probeer afskud het.

Sy en afrigter Henk Botha het glo tot vanoggend tyd om aan die organiseerders te bevestig of sy reg is om by die wegspringstreep aan te tree, en of die aangewese Switserse plaasvervanger haar posisie sal oorneem.

'n Tweede posisie vanaand sal US$12 000 werd wees, 'n derde plek US$7 000, vierde US$4 000, vyfde US$2 500 en sesde US$2 000.

Botha kan uiteraard bars van trots op beide sy atlete wat 'n onverbeterlike deurbraakseisoen van internasionale kompetisie vanaand op nóg 'n blink noot kan afsluit.

“Ek is baie trots op die meisies – veral Beatrice wat (laas Vrydag) in Brussel vir die finaal gekwalifiseer het, ondanks die griep. Christine het reeds voor dié wedloop gekwalifiseer.

“Die organiseerders nooi slegs agt atlete na die Diamantliga-finaal en twee van hulle is Namibiërs,” het Botha uitgewys.

Mboma het Vrydagaand met haar oorwinning in 21.84 sekondes in Brussels gewys dat sy ondanks haar tipiese trae wegspring bykans onkeerbaar in die tweede helfte van dié afstand is.

As daar geen onttrekkings is nie, sal die twee Namibiërs te kampe hê met 'n hoog gerekende veld atlete, insluitend die Olimpiese 100-bronsmedaljewenner van Tokio, Dina Asher-Smith (Brittanje); die Olimpiese 100 m bronswenner in Tokio Shericka Jackson (Jamaika), Beth Dobbin (Brittanje), Mujinga Kambundji (Switserland) en Marie-Josée Ta Lou (Ivoorkus).

Mboma en Masilingi het vanjaar skitterend op internasionale vlak deurgebreek en het beide die Olimpiese Spele se 200-eindwedloop gehaal en onderskeidelik tweede en sesde oor die eindstreep gesnel. By die onlangse o.20-wêreldkampioenskap in Kenia was hulle onderskeidelik die goud- en silwerwenners.

Mboma het gedurende 2021 reeds vier keer die 200 meter vinniger as 22 sekondes gehardloop.

Om laasgenoemde prestasie in perspektief te stel: Dafne Schippers (Nederland) en Veronica Campbell-Brown (Jamaika) het dit elkeen vyf keer in hul loopbane reggekry; Elaine Thompson-Herah (Jamaika), Allyson Felix (VSA) en Heike Dreschler (Duitsland) elkeen ses keer en Florence Griffith-Joyner (VSA) sewe keer.

Die rekordhouer op dié lys is Merlene Ottey van Jamaika (16), voor Marion Jones (VSA, 11), Gwen Torrence (VSA, 10) en Marita Koch (Duitsland, 9).

In bykans elke wedren vanjaar het die twee Namibiese 18-jariges wêreldbeste tye dié seisoen, nasionale en persoonlike rekords laat spat.

In die afgelope dae is ook reeds bevestig dat Mboma en Masilingi onderskeidelik borgskapooreenkomste met Nike en Adidas ondersteken het.

– Bykomende inligting van Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!