Groot geleenthede vir byeboere in Namibië

Bloubessieprodusente beoog om byeboerderye in Namibië te vestig en sal selfs so ver gaan om produsente te help om op die been te kom.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh –Namibië moet dringend daaraan werk om plaaslik kommersiële byeboerderye op die been te bring.

Die rede is dat beplande bloubessielanderye teen die Kavangorivier binne enkele jare duisende heuningbykorwe vir bestuiwing wil huur en dat beleggers gevolglik dringend die kommersiële been van byeboerderye wil ontwikkel.

Mnr. Izak Grobbelaar, die produksiebestuurder van bloubessies op Mashare Irrigation wat sowat 50 km oos van Rundu teen die Kavangorivier geleë is, meen tot soveel as drie beplande bloubessieboerderye naby Rundu sal binne enkele jare 4 000 of meer byekorwe benodig.

Hy was een van die sprekers by 'n inligtingsdag oor byeboerdery wat vroeër vandeesmaand deur Mashare Irrigation en Königstein Capital in Windhoek aangebied is.

Mashare Irrigation beplan om teen September vanjaar 20 ha bloubessies te plant, wat beteken teen Mei volgende jaar sal dit reeds tot 350 byekorwe vir vier maande lank moet huur.

Die landerye sal jaarliks vergroot word, tot dit teen 2024 sowat 1 800 of meer byekorwe sal benodig.

NAMIBIË IS DIÉ PLEK

Mnr. Albert Basson, van dié skema se beleggingsbestuurder, Köningstein Capital, sê hierdie behoefte volg nadat besluit is om op intensiewe landbou te fokus wat vir die uitvoermark produseer.

“Mashare Irrigation het tot dusver meestal koring, mielies en groente geproduseer. Bloubessies is egter die eerste intensiewe gewas waarop ons gaan fokus – een van die mees intensiewe gewasse as dit kom by arbeid en insette soos kapitaal en energie.

“Bye is egter noodsaaklik vir die produksie hiervan,” het Basson gesê en bygevoeg dat hoewel wind ook met die bestuiwing van bloubessieblomme help, bye die bestuiwingspersentasie met tot 80% verbeter.”

Volgens Basson is Namibië ideaal vir die produksie van bloubessies vir internasionale markte soos Europa en veral die Verre Ooste.

“Namibië se landbouklimaat is uitstekend vir die produksie van bloubessies, buiten dat die land ekonomies en polities stabiel is, die nodige skoon water het, goed ontwikkelde infrastruktuur het en op die regte breedtegraad geleë is.

“Die enigste probleem is dat ons nie grootskaalse byeboere het nie. Dit is egter iets wat reggestel kan word, terwyl jy niks kan doen as daar byvoorbeeld nie water is nie,” het Basson gesê.

“Bye vorm ‘n noodsaaklike deel van ons sakeplan en ons beleggingsoorweging, maar ons wil nie self byeboere wees nie. Ons wil die kommersiële been vir byeboerdery in Namibië vestig.

“As beleggingbestuurders is ons intensief betrokke daarin om seker te maak dié bal word nie laat val nie,” het Basson gesê.

Basson sê Namibië beskik nie werklik oor kommersiële byeboerderye nie, want niemand betaal tans om korwe te huur nie.

“Uit ‘n sake-oogpunt was nie voorheen ekonomiese motivering om met bye te boer nie en word dit hoofsaaklik as ‘n stokperdjie of in die vorm van pesbeheer gedoen.

“Ons betree egter nou die mark en skep vanaf dag een af ‘n groot vraag na byeboere.

“Ons plant reeds September vanjaar die eerste bloubessies en sal teen 2020 tussen 150 en 350 byekorwe benodig. Gewoonlik moet twee jaar vir so iets gegun word, maar ons wil reeds teen volgende jaar die byekorwe in die lande hê.”

Basson het gesê ‘n byeboerdery is uiters geskik as ‘n SME-onderneming, maar ook vir bestaande kommersiële boere wat reeds die grond en weiding het.

Hy het gesê byekorwe kos sowat N$2 000 per korf en dat hulle bewus is van die groot onkoste om so ‘n boerdery te vestig, maar beoog om ‘n program te begin om byeboere te help om op die been te kom - selfs al beteken dit Mashare moet aanvanklik eers al die korwe self aankoop.

“Ons besef almal het nie noodwendig byvoorbeeld N$200 000 om in byeboerdery te belê nie.”

Hy het gesê hulle wil vennootskappe met byeboere vorm, want as die bloubessieprojek suksesvol is, sal tot soveel as dertig byeboere oor vyf jaar benodig wees.

SÓ WERK DIT

Grobbelaar het gesê aanvanklik sal Mashare Irrigation tussen vier en tien byekorwe per ha benodig, oftewel tussen 80 en 200 byekorwe vir die 2020-seisoen.

“Die aanvanklike aantal byekorwe per ha is laag omdat die plantjies in hul eerste jaar nog jonk sal wees en oeste laer sal wees.

“Vanaf jaar drie sal ons waarskynlik tot 15 byekorwe per ha benodig,” het hy gesê.

Hy het ‘n tabel getoon waarvolgens Mashare Irrigation beplan om sy bloubessielanderye jaarliks uit te brei, wat beteken dat hulle teen 2021 reeds sowat 160 tot 400 byekorwe vir 40 ha bloubessies sal benodig.

Die getal sal aanhou groei totdat hulle teen 2024 tot 1 800 byekorwe kan benodig, as tien korwe per ha gebruik word. “As die plantjies baie goed aard, sal ons tot 15 korwe per ha kan benodig,” het hy gesê. Dit beteken altesaam 2 700 korwe sal dan benodig word.

Grobbelaar het gesê bloubessies blom tussen Mei en Augustus, wat beteken hulle sal jaarliks vir vier maande lank byekorwe moet huur.

“Oestyd begin ‘n maand nadat die bye tussen die bloubessies geplaas is en duur 'n maand lank, waarna die bye weer verwyder word.”

Grobbelaar sê boonop weet hy van nog twee bloubessieprojekte wat ook in die gebied beplan word en wat ook binnekort byekorwe sal benodig. Dit beteken tot 5 000 korwe kan in Namibië benodig word.

SUIDER-AFRIKAANSE OORSIG

Mnr. Johan le Roux, ‘n Suid-Afrikaanse vrugteboer sê sonder die byeboere in die Boland, het die vrugtebedryf in die Kaap nie bestaan nie. “Sonder bye is daar geen vrugte of groente nie.”

Tydens sy toespraak het hy op die noodsaaklikheid van bye vir die bestuiwing van bloubessies gefokus.

Hy sê twaalf jaar gelede was daar net sowat 40 ha se bloubessielanderye in Suid-Afrika. “Tans is daar sowat 84 bloubessieboerderye in Suider-Afrika, waarvan sommige in Zimbabwe en Zambië is.”

Volgens hom sal Suid-Afrika se bloubessieproduksie toeneem, met die Suid-Afrikaanse Bessieprodusentevereniging wat raam dat sowat 11 500 ton bloubessies tydens die huidige seisoen geoes sal word. Dit sal na verwagting oor vier jaar (2023-24) met 187% toeneem wanneer sowat 32 000 ton geoes word.

“Waar gaan al die bye hiervoor vandaan kom?” het Le Roux gevra en gesê dit sal ‘n groot invloed op byeboerderye hê. “Daarom word daar tans in die buurland sterk op die byebedryf gefokus.”

Le Roux sê in Namibië sal bloubessies onder nette of binne tonnels gekweek word, omdat temperatuur-data aandui dat die noorde van die land baie warm kan word.

“Heuningbye vir bestuiwing is die enkele en belangrikste ding wat jy kan doen om die kommersiële oes van wilde bloubessies te verbeter, aldus die Internasionale Raad vir Bloubessies,” het hy gesê.

Hy het daarop gewys dat bestuiwing deur bye die bloubessie-oes per plant verhoog, terwyl plante daarsonder minder vrugte dra en dat dié vrugte van 'n laer gehalte is.

“Bestuiwing deur bye verbeter ook die grootte en eenvormigheid van bloubessies en verleng die raklewe daarvan – wat belangrik is aangesien die vrugte, wanneer dit na oorsese markte uitgevoer word vir sowat drie weke op die see sal wees.

“Bestuiwing deur bye is noodsaaklik vir die volhoubare groei van die bedryf,” het Le Roux beklemtoon.

“Die helder sonskyn tydens die winter in die noorde van Namibië sal uitstekend vir bye wees, waar ons in die Kaap die uitdaging van winterreën het. In hierdie maande vlieg bye nie rond nie – hulle bly binne hul korwe en bestuif dus nie die bloubessies nie.”

Volgens bestokkingstandaarde vir bloubessies word sowat vier tot tien byekorwe per ha benodig. “Dit kan ook anders uitgewerk word: Een byekorf met sowat 40 000 bye kan sowat 1,35 miljoen blomme bestuif, wat na raming 2 ton bessies kan produseer.

“Om dus 30 ton bessies per ha te oes, moet jy 15 byekorwe per ha hê. Die noorde van Namibië se syfers sal egter verskil omdat die sonlig bye na verwagting positief sal beïnvloed,” het Le Roux gesê.

Hy het gesê as dit by bestuiwing deur bye kom, moet bessieboere streng op die tydsberekening in byvoorbeeld die gebruik van byvoorbeeld chemikalieë let sodat die bye nie vrek nie.

VETERAAN-BYEBOER

Die veteraan-byeboer en konsultant, mnr. Nico Langenhoven, het gesê Suid-Afrikaanse byeboere verdien meer geld uit die verhuring van hul korwe aan vrugteboere as uit heuningproduksie.

“Ek sou sê minder as 20% van hul inkomste kom van heuning; hulle maak veel meer geld deur hul bye te verhuur.”

Langenhoven het verduidelik dat anders as byvoorbeeld appels, is bloubessies heeltemal afhanklik van bestuiwing deur bye. Hy het gesê bloubessies se blomme is vrugbaar vir drie dae op ‘n slag in die winter. “In die Kaap is dit ‘n probleem as dit vir byvoorbeeld dae lank reën,” het hy gesê.

“In Suider-Afrika kry ons hoofsaaklik twee rasse heuningbye, naamlik die Capensis, wat hoofsaaklik in die Kaap voorkom en die Afrika-by, wat in Namibië en die res van Suider-Afrika voorkom.”

Hy sê lande soos Australië, Amerika en Nieu-Seeland het nie bye wat natuurlik voorkom nie en het hul bye ingevoer.

“Sowat 90% van dié bye is Italiaanse bye – ‘n sogenaamde ‘mak’ by. In die sestigerjare het Suid-Afrikaners ook probeer om die Italiaanse in die Wes-Kaap te vestig, maar dit was onsuksesvol en dié bye het met die inheemse Capensis-bye verbaster.”

Hy het ook verduidelik hoe om byekolonies suksesvol te verdeel en bye te vermeerder, en spesifikasies gegee hoe byekorwe gebou behoort te word.

Sy studie oor watter kos die beste byevoer is, het bevind dat plaasvervangers vir stuifmeel wel aan bye gegee behoort te word.

Hy sê hoewel verskeie byeboere in Suid-Afrika dit as onnodig beskou om hul bye te voer terwyl ander slegs bykomende suiker of stroop gee, maak herhaaldes droogtes dit noodsaaklik. Volgens Langenhoven is ‘n voerprogram vir bye nodig wat beide koolhidrate en proteïen bevat.

“Die voer van heuningbye is reeds baie belangrik en sal in die toekoms nog belangriker word,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!