Groot geleenthede wink vir akkerbou

Ofskoon Namibië ‘n droë land is, het dit oor die afgelope jare bewys méér grane, groente en vrugte kan plaaslik gekweek word.
Elvira Hattingh
SUBBED

Elvira Hattingh - Namibië produseer self 98% van al die kool wat plaaslik verbruik word, asook 91% van die botterskorsies en 82% van die wortels en Engelse komkommer.

Tog is daar ‘n groot behoefte om méér aartappels en blaarslaai plaaslik te produseer omdat ons tans tot 75% en 59% onderskeidelik moet invoer.

Só het die Namibiese Akkerbouraad (NAB) se nasionale tuinboubestuurder, mnr. Lesley Losper, onlangs op ‘n perskonferensie aan die media gesê. Tydens die geleentheid het die Akkerbouraad ook aangekondig die markaandeel-bevorderingskema (MSP) word van 44% tot 47% verhoog.

Die MSP is ‘n stelsel waardeur Namibiese handelaars verplig word om ‘n vasgestelde persentasie van die groente op plaaslike winkelrakke aan te koop voordat hulle invoerpermitte kan kry.

“Beduidende groei het die afgelope jare in beide die plaaslike akkerbou- en tuinboubedrywe in die land voorgekom danksy verskeie bemarkingsmeganismes om plaaslike produksie te verbeter.

“Meer moet egter gedoen word om die plaaslike produksie van hoofsaaklik koring, aartappels en vrugte te verhoog omdat huidige produksiesyfers vir plaaslike markte onder 50% is. Boonop bied dit ‘n wonderlike geleentheid vir beleggings,” het Losper gesê.

KWEEK VAN GROENTE, VRUGTE

“As ons kyk na ons top-11 tuinbouprodukte, wat ook uie, patats, soetrissies, tamaties, beet en wortels insluit, lê die grootste geleentheid vir verhoogde, plaaslike produksie in die kweek van aartappels,” het Losper gesê.

Hy het ‘n grafiek getoon waarvolgens Namibië reeds 7 842 ton aartappels tydens die afgelope boekjaar gekweek het, terwyl plaaslike aanvraag op sowat 31 497 ton gestaan het.

Namibië het in die 2017-’18-boekjaar ook sowat 3 184 ton uie, 2 914 ton tamaties en 2 505 ton wortels plaaslik gekweek.

“Wat betref ons top-11 plaaslike tuinbouprodukte, produseer ons in totaal net 44% van wat ons plaaslik verbruik. As ons alle tuinbouprodukte in ag neem, produseer ons 35% van ons eie verbruik. Ideaal gesproke wil ons op minstens 60% staan,” het Losper verduidelik.

Namibië het tien spesiaal beheerde produkte wat gemonitor word en waarvoor die grens vir invoere gesluit word in tye wanneer genoeg daarvan plaaslik produseer word. Die produkte sluit in aartappels, uie, botterskorsies, kool, tamaties, groenpeper, patats, Engelse komkommer, wortels en beet.

Wat betref die produksie van vars groente en vrugte, is produsente by die Oranje-rivier die voorlopers en word 52% van ons plaaslike produksie in die gebied gekweek. Die Karst-gebied is die streek wat die tweede meeste (25%) hiervan produseer, gevolg deur die sentrale dele (8%), en die Suide en die Kavango-gebied wat elk 5% produseer. In die noordelike sentrale dele word 4% van ons groente en vrugte gekweek en in die Zambezi-streek sowat 1%.

Losper het gewys dat die verhoging van die MSP tot 47% realisties is omdat die sekondêre MSP-persentasie vir die afgelope jaar op gemiddeld 48% staan.

Dit is ‘n aanduiding van produsente se markaandeel op grondvlak, en word bereken deur te bepaal hoeveel produkte plaaslik aangekoop word, asook hoeveel uitgevoer word. Dit sluit ook produkte in waarmee handelaars onder mekaar handel dryf. Die uitvoer van tafeldruiwe word hierby uitgesluit.

Losper het getoon die plaaslike aanvraag vir groente en vrugte, gebaseer op die 2017-’18-boekjaar, staan op 81 452 ton, of N$642 miljoen. Slegs N$221 miljoen (35%), of sowat 28 599 ton, word plaaslik gekweek, terwyl N$421 miljoen (65%), of 52 853 ton, ingevoer moes word.

“‘n Goeie geleentheid bestaan dus om plaaslike produksie nog meer te verhoog,” het hy gesê.

Produksie wat plaaslik bemark word, het van ‘n skamele N$95 000 in die 2011-’12-boekjaar tot N$221 miljoen die afgelope jaar verhoog. Terselfdertyd het uitvoere van vars produkte, wat in die 2011-’12-boekjaar op N$438 miljoen, of 22 429 ton, gestaan het, tot N$817 miljoen, of 55 358 ton, in die afgelope boekjaar gegroei.

Sowat 80% van produkte wat uitgevoer word, is tafeldruiwe, terwyl die ander 20% onder meer dadels, uie en tamaties behels.

Losper het getoon die plaaslike vraag na vrugte was 20 332 ton in die afgelope jaar, maar plaaslike produksie kon net in 4% of 730 ton voorsien. Dus moes altesaam 19 602 ton ingevoer word.

Hy het gesê Namibië voer egter sowat 32 948 ton vrugte uit, wat hoofsaaklik uit tafeldruiwe bestaan, maar ook ‘n klein bietjie dadels.

Dr. Fidelis Mwazi, uitvoerende hoof van die Akkerbouraad, het tydens die geleentheid gesê Namibië voer uie en aartappels na Angola uit, asook uie na Suid-Afrika. Druiwe en dadels wat plaaslik gekweek word, word vir internasionale markte beoog.

“Die meeste druiwe gaan na Europa, terwyl heelwat kleiner hoeveelhede hiervan ook na Suid-Afrika, China en die Midde-Ooste uitgevoer word. Dadels word hoofsaaklik na die Midde-Ooste uitgevoer,” het Mwazi gesê.

Hy het bygevoeg ‘n groot behoefte bestaan in plaaslike sitrus-, mango- en neutproduksie omdat Namibië tot 90% van hierdie produkte moet invoer.

PRODUKSIE VAN WITMIELIES

Namibië het die afgelope boekjaar in 60%, of sowat 77 000 ton, van sy eie vraag na witmielies voorsien, maar net 4% van die koring wat ons gebruik, is plaaslik geproduseer.

Sowat 2 344 ton mahangu is plaaslik bemark, wat gelyk is aan 40% van die plaaslike aanvraag.

Al die produkte word onder die kategorie vir graangewasse ingedeel.

Die Karst is die land se grootste graanproduserende gebied (48%), gevolg deur die Kavango-streek wat 25% van die land se graan produseer, en die sentrale gebiede wat 12% produseer. Losper het gewys dat 9% van Namibië se graan in die Zambezi-streek geproduseer word, en 5% daarvan in die Suide.

Volgens ‘n grafiek wat Losper getoon het, was vanjaar se 76 660 ton witmielies wat plaaslik bemark is, ‘n nuwe rekord sedert 2010. In die 2012-’13-boekjaar is die tweede meeste, naamlik 72 438 ton, plaaslik geproduseer.

Vanjaar is ook die minste witmielies in die afgelope agt jaar ingevoer.

Hy het getoon dat Namibië se plaaslike vraag na witmielies vanjaar op sowat 127 143 ton te staan gekom het en 40%, of sowat 50 483 ton, moes ingevoer word. Sedert 2010 is die meeste witmielies (170 234 ton) in die 2013-’14-boekjaar ingevoer.

“Droogte raak plaaslike produksie meer as wat peste en siektes doen. Dit lei tot ‘n seisoenale wisselvalligheid in hoeveel van ons produksie bemark kan word,” het hy verduidelik.

“Die plaaslike vloerprys vir witmielies per ton het gestyg van N$2 614 in die 2010-’11-boekjaar tot N$4 730 in die mees onlangse boekjaar. Dit verteenwoordig ‘n styging van N$2 116, of 81%.

“Die hoogste plaaslike vloerprys van N$5 303 is in 2016-’17 betaal weens ‘n tekort aan mielies op die internasionale en streeksmarkte wat deur droogte en die deflasie van die rand teenoor die Amerikaanse dollar veroorsaak is,” het Losper gesê.

VLOERPRYSE

Wat gewasse betref, word die grense gesluit in tye wanneer genoeg witmielies of mahangu plaaslik geproduseer word. Die Namibiese Akkerbouraad (NAB) stel ‘n minimum vloerprys vas vir die graangewasse om plaaslike produsente van die wisselvalligheid van kommoditeitspryse te beskerm.

‘n Vloerprys word ook vasgestel vir koring wat plaaslik geproduseer en bemark word, maar die grense word nie vir koring gesluit nie. Produsente het ‘n gewaarborgde mark vir hul produkte by plaaslike meule ingevolge ‘n bedryfsooreenkoms wat die NAB toepas.

Permanente invoerbeperkings word ook vir die invoer van graanprodukte soos koringmeel, mieliemeel en mahangumeel toegepas om plaaslike agri-prosessering te beskerm. Meulens kan dus net onverwerkte materiaal invoer in tye wat die grense oopgestel word.

KORING-, MAHANGUPRODUKSIE

Ofskoon 2017-’18 ‘n rekordjaar vir die produksie van mahangu was, markeer koringproduksie die pas.

“Koringproduksie het oor die afgelope jare beduidend afgeneem weens hoë produksiekoste en ongunstige klimaatstoestande,” het Losper gesê en gewys dat die plaaslike vraag na koring op 111 107 ton gestaan het, maar net sowat 6 863 ton, of 4%, hiervan is plaaslik bemark. Die res is ingevoer.

“Die plaaslike vloerprys per ton het van N$2 699,74 in die 2010-’11-boekjaar tot N$5 178,13 in die afgelope boekjaar gestyg, wat ‘n styging van N$ 2 478,39, of 92%, verteenwoordig. Die hoogste vloerprys is vanjaar betaal as gevolg van marksverwante kwessies soos lae aanbod en hoë uitruilkoerse,” het Losper gesê.

Vanjaar is wel 2 344 ton mahangu plaaslik bemark – die meeste sedert 2010. Dit verteenwoordig sowat 40% van die plaaslike vraag, wat op 5 813 ton staan.

“Die plaaslike vloerprys vir mahangu het ook van N$2 668 in 2010-’11 tot N$5 400 vanjaar verhoog – ‘n toename van 102%. Vanjaar is die hoogste prys in Namibië se geskiedenis vir mahangu betaal vanweë verhoogde insetkoste.

DIE PAD VORENTOE

Losper sê wat betref die vooruitsigte van die bedryf, moet verskeie uitdagings soos hoë produksiekoste, droogtes, ‘n watertekort en peste, asook die uitbreking van siektes die hoof gebied word.

Hy sê vir die toekoms moet die nasionale stoorkapasiteit van vars produkte van die huidige 50 000 ton tot minstens 150 000 ton vergroot word om die gehalte van plaaslike graan te behou, en ook vir die stoor van surplus graan.

“Nasionale verkoelingsfasiliteite moet ontwikkel word vir die berging van seisoenale surplus produkte soos uie, waatlemoen en tafeldruiwe om seker te maak die plaaslike verskaffing hiervan bly konsekwent.

“Ter wille van werkskepping moet plaaslike agri-prosseseringsfasiliteite ontwikkel word, wat terselfdertyd waarde tot onverwerkte produkte sal byvoeg vir beide plaaslike en uitvoermarkte.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!