Groot kwessies wag op G20-lande in Japan
Groot kwessies wag op G20-lande in Japan

Groot kwessies wag op G20-lande in Japan

Premier Shinzo Abe van Japan wil hê die beraad moet fokus om meer vroue te bemagtig en plastiekvullis in die oseane te verminder.
Kommer oor handel, konflik en olie sal na verwagting die onderwerpe wees wat die naweek in Osaka in Japan op die G20-beraad van die wêreld se grootste ekonomiese lande gaan oorheers.

Die samekoms van pres. Donald Trump van Amerika en pres. Xi Jinping van China, wat steeds in ’n uitgerekte handelsoorlog gewikkel is, sal ook wyd aandag geniet. Dit sal die eerste keer in sewe maande wees dat die twee leiers van die wêreld se twee grootste ekonomieë sal vergader om die agteruitgang in die twee lande se verhouding te bespreek.

Nadat hul onderhandelings in Mei op niks uitgeloop het nie, is die verwagtinge op vordering egter nie groot nie omdat nie een van die twee wil toegegee nie. Die hoop dat die verhouding wel kan verbeter, het opgevlam toe die twee leiers vroeër telefonies gepraat en tot samesprekings ingestem het.

Die handelsoorlog het ’n wêreldwye impak en daar bestaan kommer dat dit ander belangrike internasionale kwessies op die beraad kan oorskadu.

Die beraad kom net ’n week nadat Trump ’n aanval op Iran afgelas het nadat dié land ’n robotvliegtuig van Amerika afgeskiet het. Hierdie dreigende situasie in die Midde-Ooste het die olieprys opgestoot.

Die leiers van Rusland en Saoedi-Arabië, albei deel van die G20, sal ook die beraad bywoon voor die samekoms van die Opec-lande op 1 en 2 Julie wanneer die beleid vir die voorsiening van olie bespreek sal word.

BILLIKE MEDEDINGING

’n Senior amptenaar het in die lig van die komende samesprekings tussen Trump en Xi gesê die Amerikaanse president is “gemaklik met enige uitkoms”. Volgens die amptenaar is Trump se enigste verwagting dat China sy beloftes vir billike mededinging nakom.

China meen egter dat Amerika se aandrang op ’n klomp ekonomiese hervormings inbreuk op sy onafhanklikheid maak.

In die openbaar gee Chinese amptenare te kenne dat die impak van die handelsoorlog beheerbaar is en dat hulle nie haastig is om ’n ooreenkoms te bereik nie.

Baie Chinese hoop egter dat Trump in die lig van die presidensiële verkiesing in 2020 in die VSA sal afsien van sy handelsmaatreëls wat tot die ontsteltenis van boere en sakeondernemings in Amerika kan lei.

’n Bron meen dat Xi waarskynlik nie sal probeer om die besonderhede van ’n handelsooreenkoms te bespreek soos wat hy in die vorige samesprekings wou doen nie, maar eerder op ’n nuwe rigting probeer ooreenkom vir die handelsbande vorentoe.

Albei lande het hoë tariewe geplaas op produkte wat van die een na die ander land uitgevoer word.

Amerika se handelsanksies teen China se telekommunikasiereus, Huawei, sal ook bespreek word.

’n “Wapenstilstand” tussen die twee lande is waarskynliker as ’n ooreenkoms, het Matthew Goodman van die sentrum vir strategiese en internasionale studies in Washington gesê. Hy was voorheen ’n internasionale adviseur vir oudpres. Barack Obama.

SANKSIES TEEN IRAN

Ander G20-lede, soos Indië, Japan, Mexiko en lidlande van die Europese Unie, was ook al aan die ontvangkant van Trump se pogings om gunstiger handelsbande vir Amerika te beding.

Trump gaan samesprekings voer met die leiers van agt ander lande – onder andere Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië, Tayyip Erdogan van Turkye en Wladimir Poetin van Rusland – om steun vir sy sanksies teen Iran te probeer beding.

Premier Shinzo Abe van Japan wil hê die beraad moet fokus op die hervorming van die Wêreldhandelsorganisasie om meer vroue te bemagtig en plastiekvullis in die oseane te verminder. Hy wil ook die reëls vir databestuur wat die balans tussen die beskerming van persoonlike en intellektuele eiendom verseker, maar met ’n vryer vloei van mediese, nywerheids- en nie-persoonlike data bespreek.

’n Japanse amptenaar het gesê die probleem is dat Amerika meen dat China net data bymekaar sal maak sonder om dit te deel.

“Daar is nie baie onderwerpe waaroor die deelnemers saamstem nie,” het nog ’n Japanse amptenaar opgemerk.

“Miskien sal die vermindering van plastiekafval die enigste kwessie wees waarteen niemand gekant is nie.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!